Thursday, December 01, 2011

Ant Annie se broodjies. Die groot eetkultuur.

Die Amerikaanse kos-kultuur oorweldig 'n mens.

Op die  tussen-stop van my reis na die VSA moet ek in Atlanta 'n uur of twee op die lughawe deurbring. 

Ek het so pas van die 16 uur-lange vlug van Johannesburg afgestap en is dus nie besonder honger nie.

Ek loop in een van die grootste lughawens van die wêreld rond. Dis groot-mense se plek hierdie. Dit krioel van mense wat op pad is van en na vlugte. Die wat nie loop nie, sit almal in die baie eetplekke. En hulle eet. Groot. Vinnig. Baie. Dit is die koninkryk van kitskos.

So in die loop en die rondkyk oorweldig die vars-vars, kraakvars reuk van pasgebakte brood my onverwags. Ek steek vas. Die moeder van alle sensasie kom in my op, want min dinge ruik en smaak beter as so 'n simpel eetgoedjie soos 'n vars brood.

Ek onthou altyd by die reuk van varsgebakte brood hoe ons kleintyd agter in my pa se Hudson op Sondae-middae afgesit het oor die rivier na die broodfabriek waar hulle stomende vars brood uit die oond direk aan die publiek verkoop het. Vyf honger handepare van die vyf susters en broers het groot gate in daardie brood gegrawe lank voordat ons by die huis teruggekom het. 

En net so pertinent onthou ek hoe ons in die Noorde van Griekeland in die klein dorpies verby die oop bakoonde gery het waarin die Grieke die allervarste brood met 'n lang houtlepel uit die oonde geskep het. 

Lieflik.

Dus begin ek onwillekeurig die herkoms van die vars broodreuk versigtig naloop en kies kortpad agter my neus aan. Skielik is ek sommer honger.

Ek kom by 'n piepklein stalletjie uit. Dit is seker so groot soos ons kombuis. Drie mense staan in die klein ruimte van die blinkskoon winkeltjie. Een by die teller en die ander twee bak en brou pretzels.

Jy kry natuurlik verskillende soorte - van plein, tot kaneel tot rosyntjie. Hulle rol die deeg sommer daar voor jou, onder jou aanskyn en dan bak hulle hom in jou teenwoordigheid.

Niks is oud hier nie.

Die plek heet Aunt Annie. En die resep is tradisioneel, vertel hulle. Die sentimente wat Ant Annie by jou oproep laat die hongerte in hongerkrampe omslaan. Jy kan nie wag nie. Jy is terug in Ouma se kombuis doer op Janfourieskraal as sy op haar horlosie kyk en die vadoek begin optel om die houtstoof se brand-warm knop op te lig en die broodpan met sy opgetofte brood uit te tel. Dit is 'n diep begeerte wat hier in jou binneste opwel.

Later, by die konferensie, aan die ooskus, loop ek weer, onverwags, 'n Ant Annie raak. Oral help Aunt Annie's om flink die vlam van die Amerikaanse kultuur van lekker, goedkoop, skoon, tradisionele en smaakvolle kos hoog te laat brand.

Maar hier, in Atlanta, sommer met die eerste halfuur van my kuier in die land van melk en heuning, is ek summier honger en koop vir my 'n plein Pretzel volgens Aunt Annie se ou resep gebak.




Dit smaak vir my nes gewone brood, al heet dit nou Pretzel.

En ek is diep tevrede. Want saam met die Pretzel kry ek om die draai van Aunt Annie's by 'n tee-stalletjie sowaar vir my uitsoek-tee, al stuit dit my teen die bors dat ek dit uit 'n papier-beker moet drink. (Die vrou agter die toonbank kyk my verstom aan as ek vra of hulle 'n gewone koppie het. Hier is alles kits en weggooibaar, vertel haar liggaamstaal....).

Ek gaan sit, die enkele terugslag ten spyt, in die boekwinkel om die draai en sak weg in 'n ete-nirvana. 

Warm-warm, sag soos spookasem, vars soos die eerste môre-dou, smelt die broodjie in my mond weg. Ek eet stadig, berekend en met genot.

Lekker.

Wat lekker en mooi en uitsoek is, besef ek met my verdere reis en al my etery in eetplekke, word ook terselfdertyd omgekeer in die teendeel deur die manier waarop kos verorber word en die massief-heid van die kos-kultuur.

In San Francisco, by die konferensie, eet ek die eerste oggend ontbyt. Ek wil net twee snye brood hê - dit is my gewone kwota aan brekfis. Niks meer nie. En ek bestel dus heel sober en ingetoë net geroosterde brood, of, French toast, soos ons dit in die gewone lewe ken.

'n Enorme bord vol brood word voor my neergeplak. Ek kan nie glo wat ek voor my sien nie. Ses enorme snye brood (Franse roosterbrood) staar my soos 'n slegte gewete aan. En saam daarmee word 'n enorme beker tee gegee in 'n koppie so groot en dik dat jy 'n olifant daarmee kan platvee.





Ek bekyk verslae die opgestapelde brood en die wêreld om my. Die restaurant, 'n Diner, sit tjok en blok vol mense met voor hulle Brueghel-agtige borde kos. Dit raas en eet van hoek tot kant. 

Dit voel vir my of die laaste oordeel aangebreek het en ek aan die verkeerde kant beland het. Ek is omring deur borde vol spek, eiers, pannekoeke, aartappelstukke.

Ek weet dadelik ek het die stryd verloor. Die kelnerin se ma het haar grimmig laat grootword. Ek sien dus aan haar hele houding en bedieningstyl (!) ek moenie sukkel nie en probeer omruil of terugstuur nie. 

Dus: Ek bestaar ses enorme stukke brood gedoop en gebak, elkeen, boonop, in eiers. 

En om te dink, mediteer ek myself verder in onvrede in, ek sal hulle, die potensiële hompe deeg in my lyf, later aan nie eers kan wegdraf nie, want ek gaan die heel dag op 'n stoel na referate sit en luister....

Calvinisties, grootgemaak om nooit met kos te mors nie "want daar is kindertjies wat vanaand honger gaan slaap" wurg ek moedig en met volharding voort aan die stukke brood, vasberade om die bord leeg te eet. 

Na die derde sny gee ek die stryd gewonne en loop met 'n skuldige gewete van die bord vol brood weg.

Oordaad. 

Later, veel later, in Europa, lees ek hoeveel meer mense nou in Griekeland straatbewoners geword het, hulle huise verloor het en van koskombuise afhanklik geword het. In een berig word vertel van 'n vrou wat haar werk verloor het en wat toe ontslae geraak het van alles wat oordaad was in haar kombuis, huis en klerekas. Sy vertel dat sy doelbewus kies vir eenvoud, bewus daarvan met watter spandabelrigheid sy voorheen geleef het.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive