Lank voordat ‘n mens vir die laaste keer jou kop neerlê, sterf jy.
Dit gebeur op baie maniere dat iets in jou doodgaan. Maar die meeste van alles sterf ‘n mens wanneer jy iemand naby aan jou verloor en wanneer jy daarna daarmee saamleef.
Sekerlik gaan die lewe na so ‘n intieme verlies verder. Die meeste dae loop hulle normale gang. Die roetine keer terug en ‘n mens bly besig met al die gewone dinge wat deel is van jou daaglikse bestaan.
Maar behalwe vir die dralende, dikwels selfs gemaskeerde gevoel dat jou lewe nie meer heel is nie, dat iets vir altyd by jou sal ontbreek, dat daar ‘n dooie kol in jou bestaan is, kom die intense oomblikke dat jy sterf aan jou verlies.
Dit is die oomblikke wanneer jy gekonfronteer word met die gedagtes, die tasbare nalatenskap en die bekende plekke van die een wat jy verloor het.
Jy ontmoet iemand wat met jou praat oor jou verlies en vir jou allerhande goeie verhale, troosverhale, blye stories, vertel oor die een wat so naby aan jou was. Dit is vervullende oomblikke, dankbare tye, want jy herken die kosbaarheid van vervloë tye en van die stil bande wat jou aan die liefde geknoop het. Jy is bly om te kan hoor ander het ook die liefde gedeel.
Maar onderliggend aan die saam-praat is daar ook die pyn van die wete dat die gepraat juis die gemis sterker maak. Daar is die skerp steek van die besef van die onherroeplikheid van jou verlies, die seerkry onder die besef dat juis die herinneringe, juis die gesprekke, die nie-meer laat uitstaan. Daar is die wete dat iets in jou vir altyd dood is.
Jy staan by ‘n plek waar julle nog op ‘n keertjie saam was – toe die bymekaar-wees so spontaan gebeur het. Kort tye terug, onthou jy, het julle nog gelukkig, argeloos, sorgloos gekuier. Jy herinner jou aan die gesprekke van daardie tye, die skoonheid van saam-wees - voor die verlies toegeslaan en sterwe gekom het. Jy ervaar dankbaar van die nabyheid en die intimiteit van mense na aanmekaar, van die bande wat ‘n mens aanmekaar bind.
En tog het ook dit dan sy sny-kant: Dit is asof jy wil wegkom, weg van die akute besef van die oor-wees, die verby-vir-altyd van daardie plek, van die een wat jy verloor het.
Jy kom af op ‘n foto. Dit is die tyd om terug te dink, te mymer, vanuit die hardheid van die verlies, oor die lang jare van saam-wees. Jy herken summier, so bietjie soekend, selfs smagtend die jaar, die seisoen, die dag, die geleentheid, die lawwigheid, die mooiheid van die oomblik toe die foto geneem is. Jy weet, vir ‘n oomblik verplaasd in die rykheid van terug-dink, dan ook weer, met pyn, van verganklikheid, tydelikheid en sterflikheid.
Sulke tye sterf ‘n mens opnuut weer saam met die een wat jy verloor het.
Lank voor jy die laaste keer jou kop neerlê, sterf jy al. Om te leef in die liefde, beteken om gereed te moet wees om te sterwe.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.