Monday, December 12, 2011

Adventstyd - die wag op die mistieke volheid


Ek herlees Henri Nouwen se dagstukkie van 21 Desember in sy Drie Minute Stilte wat ek 'n dekade gelede vertaal het met verwondering. 
As ek dink hoeveel ek intussen bloot gestel is aan spiritualiteitstekste, verklaar dit vir my waarom hierdie teks vir my op baie maniere nuut is. 
Ek besef nou hoe sy opmerkings hieroor inpas in die belangrike tendens om mistieke ervarings nie esoteries te sien nie - asof slegs enkele mense die hoogsbesondere ervaring het om op 'n spesiale manier van God se teenwoordigheid bewus te raak en die eenheid met God te smaak.   
Opvallend en die sleutel tot die gedeelte is sy opskrif:  ’n Ervaring aangebied vir almal. Hy skryf:
Sommige mense sê, “Ek het nog nooit ‘n ervaring van die volheid van die tyd gehad nie …  Ek is maar net ’n gewone mens, nie ’n mistieke of ’n besonder  heilige mens nie.”    
Hoewel sommige mense unieke ervaringe van God se teenwoordigheid het, en dus unieke sendingtake kan verrig om  God se teenwoordigheid aan die wêreld te verkondig, kan ons almal – geleerd of onopgelei, ryk of arm, bekend of onbekend – die genade ontvang om God in die volheid van die tyd te sien. 
Dié mistieke en geheime ervaring is nie beperk tot ’n paar besondere mense nie. God wil hierdie geskenk in die een of ander vorm aan al God se kinders aanbied. Maar ons moet daarna verlang en dit begeer. Ons moet oplettend en innerlik waaksaam wees. 
Vir sommige mense kom die ervaring van die volheid van die tyd op ’n sensasionele manier, soos vir Paulus toe hy op pad na Damaskus op die grond neergeval het (Handelinge 9:3-4). Maar vir sommige van ons kom dit soos die fluistering in die windstilte of soos die sagte briesie teen ons rug (1 Konings 19:13). 
As ek nou weer die stuk lees, staan vir my hierdie besondere sin uit: "Ons moet oplettend en innerlik waaksaam wees." Die eenwording met God vind plaas waar daar 'n omgeploegde, voorbereide, ryk akker is. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive