Sunday, December 25, 2011

Verwondering by die kerstyd


Net soos Henri Nouwen maak Dorothee Soelle baie van die moderne tydsgees wat daarop ingestel is om dinge te meet in terme van hulle nuttigheid. Iets of iemand het waarde as hulle tot ons voordeel strek.

Dit bepaal soms mense se godsdienstige ingesteldheid: hulle bid tot God om iets te kan ontvang. Gebed word ‘n ruil-transaksie. ‘n Slaaf-agtige houding kenmerk die diens van God: die mens meld hom of haar by God aan om daardeur beloning op te eis. Die houding teenoor God lyk dan amper na 'n transaksie soos in die sake-wereld.

Dit kom ook na vore in mense se self-beeld. ‘n Mens het waarde, dink ons, omdat hy of sy iets te bied het aan ander. Iemand se menslikheid word bepaal deur wat daardie persoon dink hy of sy bereik en presteer het.

Spritualiteit begin by ‘n heel ander hoek: dit begin nie by die mens se “waardige” toegang of toetrede tot God nie.

Spiritualiteit word deur die skeppingsverhaal bepaal: God het die wêreld geskep. Dit was mooi. En die wêreld as plek is die ruimte waar mense as die kroon van die skepping in verwondering voor God staan. In die narratiewe denke van die Bybelskrywers loop die mensepaar met God in ‘n tuin, ‘n plek van verkwikking rond. God “wandel in die tuin in die aandwindjie” (Genesis 3:8). Dit is eers as die mens sy eie wil volg dat hulle hul “verberg” van die gemeenskap met God. Niks in die mens is die rede waarom God ‘n noue verhouding met hulle aanknoop nie. En hulle is by God, doodgewoon as skepsels van God.

Die adventstyd illustreer iets hiervan: die Kind is gebore, ‘n geskenk aan die mensdom, sing Sagaria in sy loflied in Lukas 1:72, uit pure ontferming. Die gawe kom tot mense omdat God vrygewig in die liefde is.

Daar is nie ‘n beloning ter sprake nie. Die kerstyd, ook, is genadetyd, liefdestyd, God se vredesaanbod.

Daarom is die kerstyd die tyd van verwondering. Hier begin spiritualiteit – by betowerde aanbidding van die Een wat so vrygewig is, so onvoorwaardelik lief het. Kerstyd is die tyd van wees by God eenvoudig omdat God die diepste sinnebeeld van goedheid en ontferming is.

Wie so verlief raak op die Liefde, wie verwonderd voor die Beminde staan, word getransformeer: die self-gerigtheid, die self-ingekeerdheid word omvorm in omgee, uitreik, ontferming. Goed is dit om net eenvoudig in die goedheid van God se teenwoordigheid te wees.

Wie dit begryp weet dat hy of sy nie waarde het oor een of ander inspanning nie. Verwonderd ontdek ‘n mens dat God bloot net ‘n verhouding wil aanknoop. Verbaas ontdek ‘n mens, skryf Soelle, dat God nie sonder mense wil bestaan nie. So hoog ag God ons.

So hoog inderdaad: dat God mens geword het…

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive