Monday, December 26, 2011

Deel van die natuur: oor ekologiese mistiek





Met die onlangse klimaatberaad in Durban, ‘n opvolg van die Kyoto-byeenkoms, het die toestand van die planeet waarop ons leef weer sterk in fokus gekom. Toe is daar berig dat mense nie meer so ernstig voel oor die ernstige bedreiging wat aardverwarming vir ons toekoms inhou nie. Daar is, so word berig, ‘n “moegheid” en ‘n onwiligheid van besluitnemers om vir die behoud van ons planeet te veg.

‘n Mens is diep gefrustreerd wanneer ‘n mens hoor dat hierdie lewensbelangrike saak so benader word.

Hoe kan dit verander?

Dit sal eers werklik verander wanneer mense hul verbondenheid met die planeet begryp. Dit is net nie meer moontlik dat ons onder die indruk kan leef dat die groot veranderinge in die planeet op een of ander manier slegs indirek met ons te doen het of dat ons maar ter wille van ontwikkeling en van vooruitgang met die planeet moet doen wat ons ook al kan doen nie.

Daar is ‘n baie nou verbintenis tussen “ons” en die “planeet.” Ons deel merkwaardig veel dinge met diere van alle soorte. Soos hulle, moet ons ook water hê om te kan oorleef. As daar nie genoeg, skoon lug vir mens en dier is nie, sal nie een van ons oorleef nie. Soos die diere moet ons ook uit die aarde lewe.

Daar is dus ‘n besondere verhouding tussen mense en diere en die aarde. Wat die een raak, raak die ander. Ons is almal partye wat betrokke is by die welsyn van ons planeet. As die diere skade ly, en die planeet tot niet gaan, sal dit ons direk raak. 

Sonder plante, sonder water sal die mens nie kan oorleef nie. Daar is ‘n  baie noue, komplekse verweefde stel van verhoudinge tussen alles en almal – tussen lug, aarde, son, planete, diere, voëls, water, see en selfs die eenvoudigste vorme van lewe. Die mens is in vele opsigte dieselfde as hierdie ander lewensvorme. Wat ander vorme van lewe raak, raak ons net soveel. Ons kan nie maak asof die welsyn van die planeet niks met ons te doen het nie. Dit is nie moontlik om te dink dat dit oor sake gaan wat ons eintlik nie raak nie of dat ons as mense nie regtig deel het aan wat met ander skepsels gebeur nie.

Die mistiek leef uit die wete dat God wat die skepping gemaak het, ons deel daarvan gemaak het. In die modern mistiek werk mense dit selfs sterker uit: Ons is nie net deel van die skepping nie, ons is onlosmaaklik deel daarvan. Ons is so ingeweef in God se skepping, dat as die web van die skepping iewers stukkend gaan, dit vir ons ook bedreigend is. Ons kan nie maar net maak en breek met die skepping soos ons wil, asof ons in beheer is en alles om ons moet manipuleer nie. Ons, beklemtoon die mistiek, is nie die “base” van die skepping wat dit beheer en stuur nie.

Mistici besef dat ons deel is van die skepping, dat ons ‘n plig het om die skepping te bewaar as ‘n kosbare gawe van God aan die mens. Dikwels, baie dikwels, sal mense juis in die natuur heel spesiale mistieke ervaringe het waartydens hulle deur die skoonheid van die natuur oorweldig voel en deur wonderlike oomblikke in God se skepping bewus raak van hoe hulle, saam met die hele skepping, in verwondering voor God gebring word. Hulle sien God aan die werk in die natuur – en daarmee kom die besef dat ‘n mens maar net saam met die natuur in verwondering voor God kan staan.

Die behoud van die planeet is vir mense wat na aan God leef, ‘n absolute prioriteit. ‘n Mens sou self so ver kon gaan deur te sê dat iemand se geestelike volwassenheid duidelik word uit daardie persoon se sorge en insette vir die behoud van die omgewing.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive