Tuesday, December 13, 2011

Kontemplasie, instelling en stilte



Kontemplasie is ‘n sleutelwoord in Spiritualiteit en ‘n kern-motief in die geestelike lewensreis. Van alles waarmee ‘n mens besig kan wees, is die kontemplatiewe die diepste en sinvolste.

Lectio Divina beweeg byvoorbeeld van die lees van ‘n teks (lectio) na die besinning oor hierdie teks (meditatio). Hierdie meditatio hang ten nouste saam met contemplatio – daardie Godgegewe, genadige oomblik wanneer die mens bewus word dat jy in die teenwoordigheid van God leef. Alles wat ‘n mens doen wanneer ‘n mens met God se woord besig is, kry uiteindelik sin in die manier waarop dit ‘n mens in ‘n verhouding met God bring en coram Deo laat staan.

Daar is in kontemplasie dus ‘n fokus op wat God aan die mens in rykdom gee en op die liefdevolle gemeenskap wat God met die mens aanknoop. Die besige dinge van die alledaagse lewe, maar ook die geestelike oefeninge van gebed, omgang met die Skrif, vas en afsondering word ingebed in die dieper, groter kontemplatiewe oomblik dat God op ‘n mistieke manier ‘n mens aanraak en ‘n mens se bestaan hartgrondiglik vul. Die aandag skuif van alles wat die mens doen, na dit wat vir die mens as ‘n verborgenheid gegee word en gedoen word.

Wanneer die ervaring van die mens skuif van alles wat met hom of haar gebeur en alles wat die mens begeer en voel na wat God gee, word dit in die menslike gemoed stil. Kontemplasie is in baie van die ou tradisies van Spiritualiteit ten nouste verbind met stilte. Maar voordat die stilte ‘n mens se lewe vul, is daar ook die soeke na die stilte. In baie van die ou tradisies het die toegewyde mens die stilte opgesoek deur byvoorbeeld in die woestyn te gaan bly of deur ‘n mens af te sonder of deur ‘n gemeenskapslewe saam met ander in stilte. Die kontemplatiewe kom tot die mens in ‘n konteks van stilte, maar maak die mens ook stil.

Daar is nie iets toevallig aan stilte nie. Stilte is nie iets wat ‘n mens sommer net oorval nie. ‘n Mens leef in stilte, “beoefen stilte, as te ware. Mens sou verskeie woorde vir die verhouding tot en beoefening van stilte kon gebruik: daar is by ‘n mens ‘n fokus op die diepere, ‘n aandagtige let op die verborge dinge. Daar is ‘n gevoeligheid om nie deur allerhande sekondêre dinge geokkupeer te word nie. Alles wat ‘n mens se aandag aftrek, word uitgewys en vermy. ‘n Mens is ingestel op, soek na en wil bly in die stilte, gereed vir God om in die stille nag van afwagting God se opwagting te maak.

Wanneer ‘n mens in die stilte leef, begin ‘n mens se innerlike tot sy reg kom. Dan begin ‘n mens luister na die taal van die hart en word al die besige dinge van die daaglikse bestaan herken vir die vlakheid wat dit werklik is. Die hart kry ‘n kans om gehoor te word.

Kontemplasie beteken dus om in die gewone, alledaagse lewe bewustelik ingestel te wees daarop om in stilte by God te wees sodat ‘n mens God se stem kan hoor spreek. Dit is verbind met ‘n gerigtheid op God en op God se stille werking in die mens se innerlike lewe. Die mens weet verlangend dat in die  kontemplatiewe oomblik word die mens steeds weer aangeraak en getransformeer.

Dit bring ‘n mens by ‘n belangrike faset van kontemplasie. In kontemplasie gaan dit steeds weer om te luister na wat God vir ‘n mens se lewe wil hê. In die aandag vir God, in die stilte gaan dit nie om die mens se verhoogde bewussyn nie of om die mens wat in stilte rus nie. Steeds weer loop kontemplasie uit op ‘n gevoeligheid om in lyn te kom met God se hart. Wat ‘n mens begeer, is die lewe van goddelike wysheid te kan voer. Hiermee saam kom daar die passie om God se wil vir ‘n mens se lewe te onderskei.

Wat dan uiteindelik die meeste tel, is om een met God te wees. Wat die belangrikste is, is dat ‘n mens deel word van God se wêreld en wil. Stilte, meditasie en kontemplasie dien almal die groter doel om al die onnodige, onbelangrike dinge te stroop en oop te wees sodat die werklike lewe in 'n mens kan binnestroom.

En dit bring ‘n mens tot die punt waarom alles gaan: in die kontemplatiewe word die mens getransformeer. Spiritualiteit het steeds weer met omvorming te make. Wie in stilte vir God wag en stilweg ervaar wanneer God se aanraking kom, word soos met vuur heen gesuiwer. Weg word die aanbrandsels geskroei, nuut kom dan die skoonheid na vore en sag word die gloeiende ywer omgebuig om die goddelike beeld te toon.  

Dit is nie die gebed wat tel nie, of die meditasie nie, of die stilte nie, of die afsondering nie. Wat werklik saak maak is om een te word met God, om in die goddelike wil getransformeer te word, om by en soos God te wees. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive