Showing posts with label kontemplasie. Show all posts
Showing posts with label kontemplasie. Show all posts

Saturday, November 16, 2013

Spurgeon oor meditasie en kontemplasie

Spurgeon is bekend as opwekkingsprediker en is iemand wat wêreldwye beroemdheid verwerf het. 

Mens dink aan hom as deel van 'n geselskap van predikers soos Andrew Murray en Billy Graham. 

Hy skryf 'n oordenking oor Jesaja 33:17, wat lui: "jou oë sal die Koning in sy skoonheid aanskou."

Hier is wat hy, met sy kenmerkende pronkende styl, daaroor skryf - en dit oor begrippe soos meditasie en kontemplasie...

The more you know about Christ the less will you be satisfied with superficial views of him; and the more deeply you study his transactions in the eternal covenant, his engagements on your behalf as the eternal Surety, and the fulness of his grace which shines in all his offices, the more truly will you see the King in his beauty. 

Be much in such outlooks. Long more and more to see Jesus. Meditation and contemplation are often like windows of agate, and gates of carbuncle, through which we behold the Redeemer. 

Meditation puts the telescope to the eye, and enables us to see Jesus after a better sort than we could have seen him if we had lived in the days of his flesh. 

Would that our conversation were more in heaven, and that we were more taken up with the person, the work, the beauty of our incarnate Lord. More meditation, and the beauty of the King would flash upon us with more resplendence. 

Beloved, it is very probable that we shall have such a sight of our glorious King as we never had before, when we come to die. Many saints in dying have looked up from amidst the stormy waters, and have seen Jesus walking on the waves of the sea, and heard him say, "It is I, be not afraid." 

Ah, yes! when the tenement begins to shake, and the clay falls away, we see Christ through the rifts, and between the rafters the sunlight of heaven comes streaming in. 

But if we want to see face to face the "King in his beauty" we must go to heaven for the sight, or the King must come here in person. O that he would come on the wings of the wind! 

He is our Husband, and we are widowed by his absence; he is our Brother dear and fair, and we are lonely without him. Thick veils and clouds hang between our souls and their true life: when shall the day break and the shadows flee away? Oh, long-expected day, begin!

Tuesday, December 13, 2011

Kontemplasie, instelling en stilte



Kontemplasie is ‘n sleutelwoord in Spiritualiteit en ‘n kern-motief in die geestelike lewensreis. Van alles waarmee ‘n mens besig kan wees, is die kontemplatiewe die diepste en sinvolste.

Lectio Divina beweeg byvoorbeeld van die lees van ‘n teks (lectio) na die besinning oor hierdie teks (meditatio). Hierdie meditatio hang ten nouste saam met contemplatio – daardie Godgegewe, genadige oomblik wanneer die mens bewus word dat jy in die teenwoordigheid van God leef. Alles wat ‘n mens doen wanneer ‘n mens met God se woord besig is, kry uiteindelik sin in die manier waarop dit ‘n mens in ‘n verhouding met God bring en coram Deo laat staan.

Daar is in kontemplasie dus ‘n fokus op wat God aan die mens in rykdom gee en op die liefdevolle gemeenskap wat God met die mens aanknoop. Die besige dinge van die alledaagse lewe, maar ook die geestelike oefeninge van gebed, omgang met die Skrif, vas en afsondering word ingebed in die dieper, groter kontemplatiewe oomblik dat God op ‘n mistieke manier ‘n mens aanraak en ‘n mens se bestaan hartgrondiglik vul. Die aandag skuif van alles wat die mens doen, na dit wat vir die mens as ‘n verborgenheid gegee word en gedoen word.

Wanneer die ervaring van die mens skuif van alles wat met hom of haar gebeur en alles wat die mens begeer en voel na wat God gee, word dit in die menslike gemoed stil. Kontemplasie is in baie van die ou tradisies van Spiritualiteit ten nouste verbind met stilte. Maar voordat die stilte ‘n mens se lewe vul, is daar ook die soeke na die stilte. In baie van die ou tradisies het die toegewyde mens die stilte opgesoek deur byvoorbeeld in die woestyn te gaan bly of deur ‘n mens af te sonder of deur ‘n gemeenskapslewe saam met ander in stilte. Die kontemplatiewe kom tot die mens in ‘n konteks van stilte, maar maak die mens ook stil.

Daar is nie iets toevallig aan stilte nie. Stilte is nie iets wat ‘n mens sommer net oorval nie. ‘n Mens leef in stilte, “beoefen stilte, as te ware. Mens sou verskeie woorde vir die verhouding tot en beoefening van stilte kon gebruik: daar is by ‘n mens ‘n fokus op die diepere, ‘n aandagtige let op die verborge dinge. Daar is ‘n gevoeligheid om nie deur allerhande sekondêre dinge geokkupeer te word nie. Alles wat ‘n mens se aandag aftrek, word uitgewys en vermy. ‘n Mens is ingestel op, soek na en wil bly in die stilte, gereed vir God om in die stille nag van afwagting God se opwagting te maak.

Wanneer ‘n mens in die stilte leef, begin ‘n mens se innerlike tot sy reg kom. Dan begin ‘n mens luister na die taal van die hart en word al die besige dinge van die daaglikse bestaan herken vir die vlakheid wat dit werklik is. Die hart kry ‘n kans om gehoor te word.

Kontemplasie beteken dus om in die gewone, alledaagse lewe bewustelik ingestel te wees daarop om in stilte by God te wees sodat ‘n mens God se stem kan hoor spreek. Dit is verbind met ‘n gerigtheid op God en op God se stille werking in die mens se innerlike lewe. Die mens weet verlangend dat in die  kontemplatiewe oomblik word die mens steeds weer aangeraak en getransformeer.

Dit bring ‘n mens by ‘n belangrike faset van kontemplasie. In kontemplasie gaan dit steeds weer om te luister na wat God vir ‘n mens se lewe wil hê. In die aandag vir God, in die stilte gaan dit nie om die mens se verhoogde bewussyn nie of om die mens wat in stilte rus nie. Steeds weer loop kontemplasie uit op ‘n gevoeligheid om in lyn te kom met God se hart. Wat ‘n mens begeer, is die lewe van goddelike wysheid te kan voer. Hiermee saam kom daar die passie om God se wil vir ‘n mens se lewe te onderskei.

Wat dan uiteindelik die meeste tel, is om een met God te wees. Wat die belangrikste is, is dat ‘n mens deel word van God se wêreld en wil. Stilte, meditasie en kontemplasie dien almal die groter doel om al die onnodige, onbelangrike dinge te stroop en oop te wees sodat die werklike lewe in 'n mens kan binnestroom.

En dit bring ‘n mens tot die punt waarom alles gaan: in die kontemplatiewe word die mens getransformeer. Spiritualiteit het steeds weer met omvorming te make. Wie in stilte vir God wag en stilweg ervaar wanneer God se aanraking kom, word soos met vuur heen gesuiwer. Weg word die aanbrandsels geskroei, nuut kom dan die skoonheid na vore en sag word die gloeiende ywer omgebuig om die goddelike beeld te toon.  

Dit is nie die gebed wat tel nie, of die meditasie nie, of die stilte nie, of die afsondering nie. Wat werklik saak maak is om een te word met God, om in die goddelike wil getransformeer te word, om by en soos God te wees. 

Thursday, August 05, 2010

Kontemplasie as die gawe van eenheid met God

Ons het ‘n diepe begeerte na die diepste geheim van die lewe – om met God verenig te wees.

Dikwels vra ons die vraag: hoe word ons met God verenig? Hoe kry ek dit reg om een met God te word? Wat is die regte metode? Hoe kan ek dit bewerk? Hoe kan ek kontemplasie in my lewe laat gebeur?

Dit is ‘n vraag wat nie beantwoord kan word nie. Trouens, dit is ‘n vraag wat ‘n mens nie vra nie.

Daar is nie maniere waarop ons ‘n houvas op God kan kry nie. Ons kan nie die geheim van ons bestaan bewerk nie. Daar is nie ‘n manier waarop ons ‘n greep kan uitoefen op die verborge betekenis van ons lewe nie.

Kontemplatiewe gebed is die besef wat tot ‘n mens deurdring dat ‘n mens met God verenig is. Dit dring tot jou deur hoe naby God aan jou is. Jy ontdek meteens hoe digby God by jou gekom het. Toe jy nog ver is, verlang het, voordat jy 'n woord kon uiter, was God daar, hardlopende, sugtend, bly, omhelsend Jy weet op 'n dag eenvoudig: lank voordat jy na God uitgereik het, het God tot jou gekom. Jy besef op 'n keer, maar God is hier by my. Dit roer in my, die goddelike liefde brand my.

Kontemplasie is nie die gevolg van ons goeie, vroom, voorbeeldige bestaan nie. God is nie by ons omdat ons sulke presterende, oulike mense is nie. Nie eers ons verlange na God kan kontemplasie bewerk nie.

Wanneer ons ons harte oopstel vir God, gereed maak om na God te luister, God se stem probeer begryp, kan dit op ‘n dag ‘n verlange in ons laat ontbrand. Dit is wanneer ons bid, wanneer meditatio oorgaan in oratio. Die verlange na God.

Maar dit is nog nie kontemplasie nie.

Kontemplasie is nie maar net vir ons om “bewus” te word van God as die geheim van ons bestaan nie. Kontemplasie is meer as dit, meer as net die resultaat van ons bewuswordingstegnieke.

Dit is aanskouing van God – en dit beteken dat God óns aanraak. Dit is ‘n oomblik dat dit tot ons deurdring op ‘n heel eenvoudige manier dat ons bestaan. Ons leef. In ‘n unieke moment, verby alle woorde om, is God daar, is ons in ‘n wêreld gevul met lig. In stilte hoor ons niks nie, ontrafel ons nie ‘n enkele saak nie, maar ons ervaar dat ons bestaan, wie ons is, dat ons deel is van iets groters en Iemand anders as ons.

Een van die mistici van ons tyd het vertel hoe hy op ‘n stadium hierdie kontemplatiewe belewenis op die mees onverwagte oomblik gehad het toe hy ervaar het dat hy deel is van die mensdom en die wêreld, ver verby sy eie klein wêreldjie om. En dit het hom gevul met ‘n verbysterende liefde.

Dit is ‘n merkwaardige ontdekking wat tot ons kom wanneer ons gedagtes nie volgepomp is met al ons daaglikse aktiwiteite en ons oorlaaide dagprogram nie. Stilte bewerk nie kontemplasie nie, maar skep ‘n ruimte vir kontemplasie.  Dit bewerk ‘n spasie waar die gawe van aanskouing aan ons geskenk kan word.  Meditasie lei nie vanselfsprekend tot kontemplasie nie, maar dit bevrug die hart van die soeker sodat die oomblik van kontemplasie herken en omhels kan word. Oratio is nie ‘n voorwaarde vir kontemplasie nie, maar in die verlange van die bidder word die aarde omgedolwe vir die saad van kontemplasie en aanskouing wat God op die oomblik van begenadiging daarin sal laat val.

Juis daarom is stilte so belangrik, is meditatio nodig en is gebed noodsaaklik. Hierdie kontemplatiewe besef kom tot ons in afsondering, wanneer ons ons harte op God rig. Wanneer ons ons instel om die nabyheid van God te ontvang, te herken en te beleef.

Kontemplasie is wanneer ons verlange na God uiteindelik oorgaan in die ontdekking van die diepste geheim van ons bestaan. Wanneer God ons harte volkome vul. Dit is daarom iets wat God doen. Uit vrye genade. As 'n gebaar van liefde. Ons kan alleen maar daarop wag.

In die stilvloeiende Jordaan, lank voordat Jesus sy bediening voltooi en nog voor hy sy werk begin het, het God in 'n unieke oomblik die duif oor hom laat daal.  Die hemel het oopgegaan. Die een wat geroep is tot diens, het die goddelike liefdeswoord gehoor en die liefdes-omhelsing ervaar. 


Van toe af sou selfs nie die verleidelikste stem van die Groot Verleier hom van koers af kon bring nie. Hy het God gesien en herken hoe God na hom uitgereik het. En hy het die geheim van sy bestaan in daardie aanskouing herken.





Thursday, November 19, 2009

Oor God se teenwoordigheid in ons lewens. Die Emmaus-gangers (vervolg)

Lukas se twee boeke vertel konkrete verhale oor Jesus en die apostels. Maar hulle gee nie maar net historiese inligting nie. Dit is verhale wat oorloop van simboliek – tot in die kleinste besonderhede.

Die verhaal van Emmaus, het ons in ‘n vorige blog gesien, is ‘n reisverhaal binne ‘n reisverhaal binne ‘n reisverhaal. Die twee boeke gaan oor die reis van die Evangelie in die aardse lewe van Jesus en die voortsetting van hierdie reisverhaal in die verhoogde Here se nuwe bestaan sedert sy opstanding. Die verhaal kring uit: die eerste een eindig in Jerusalem, die tweede een in Rome, voor die keiser. Dit is ‘n verhaal van die oorwinnende krag van die Evangelie.

Binne hierdie groot verhaal is daar Jesus se reis na Jerusalem om gekruisig te word – die verhaal is nie altyd so rooskleurig nie – maar die krag bly tog nie uit nie – want dit gaan oor in berigte dat Jesus uit die dood opgestaan het.

En binne hierdie verhaal is daar die reis van die twee Emmausgangers: hulle gaan huis toe, weg van Jerusalem, geskok en gebroke omdat die lewe van Jesus vir hulle tot ‘n einde gekom het. Ook hulle verhaal is nie so rooskleurig nie.

Hoe donker, hoe donker moes die dag nie vir hulle gewees het nie. Geen wonder dat hulle gesigte somber is en hulle harte vol wanhoop nie.

Maar, en dit is nou die aangrypende, hulle is nie alleen in hul reis nie. Terwyl hulle op pad is, volg Jesus hulle, sit Hy hulle agterna.

Dit is nou hierdie deel wat vir my die diepste kant van die storie van die twee dissipels belig. Hierdie twee wat saam met Jesus geleef en gereis het, is op pad weg van Jerusalem. En wat doen hulle op die reis? Hulle praat en praat en praat. Daar staan in vers 15: hulle het gepraat “en mekaar ondervra.” “Laat ons hierdie saak nog ‘n keer bepraat, nog ‘n keer deurpraat. Kom, terwyl ons op pad is, aan die reis is, kom ons bekyk alles en kom ons soek antwoorde. Maar van mekaar.”

Daar is erns, diepe erns in hulle gesprekke.

En dan, verskyn Jesus op die toneel. Terwyl hulle met mekaar praat, vraende, soekende na antwoorde, van mekaar, loop Hy hulle agterna. Nie vir ‘n oomblik dink hulle daaraan dat Hy, wat by hulle aangesluit het, nie om dowe neute daar is nie. Hulle is so besig om met mekaar die saak uit te pluis, dat hulle nie insien hoe Jesus by hulle is en daarmee die saak eintlik al uitgepluis het. Hulle oë is toe. Hulle sien, maar sien ook nie.

En die slegte is hulle herken nie hoe God na hulle uitreik nie. Hulle moet eers nog meer praat en praat en praat.

Natuurlik is hierdie gepraat ook heel besonders. Lukas wil hulle nie daarmee as kletskouse uitmaak nie. Hy teken hulle as twee mense wat worstel om dinge te begryp. ‘n Mens sou hulle gepraat reeds as ‘n simbool van hulle diepe verlangens kan sien. Hulle ondervra mekaar, want hulle soek na antwoorde, hulle verlang om te weet, hulle smag na dit wat hulle verloor het, hulle is somber oor hul verlies en vra om uitkoms. Die diepe soeke, die biddende verlange kom duidelik na vore in hl reis.

En wonder bo wonder, mirakel, uitkoms is op pad. Later, veel later sou hulle brandende harte hulle terugjaag Jerusalem toe. Maar uitkoms het gekom nie net toe hulle besef het dat Jesus by hulle is nie. Uitkoms het gekom die oomblik toe “Jesus self nader (kom) en met hulle saam loop (15).” Lank voordat hulel dit besef het, het God genadiglik in hul lewens ingestap gekom.

Een van die beroemde aspekte van die mistieke ervaring is die mistieke antifrase: ons verlang na God, ons smeek biddend om God te ontmoet. En juis in ons smeke is God teenwoordig. Lukas beeld dit konkreet uit: terwyl hierdie twee soek en soek en soek, is Jesus by hulle.

Uiteindelik is dit die grootste wonder – dat Jesus hierdie twee dissipels gevolg het in hul donkerste uur. Hy het hulle agterna gesit. En ingehaal. En by hulle gebly. En die pad saam met hulle geloop. Toe hulle nog net in verlange gebrand het, was hy al daar. En geduldig het hy die pad met hulle geloop totdat hulle uiteindelik vir hom sou herken – totdat die skille van hulle oë afgeval het.

Ons dink soms God is ver van ons en dat ons maar ‘n alleen pad loop. Ons reis, dink ons somber, so sonder iemand om ons te ondersteun. Tot ons op ‘n dag agterkom ons was nooit alleen nie. Ons was net blind, te blind om Hom raak te sien. Ons, verskriklik, het nie eers besef dat die biddende verlange in ons harte, ons roepe na God, ‘n teken van God se teenwoordigheid in ons lewens is nie.

Friday, November 06, 2009

Ontsteld en wanhopig. Oor God se teenwoordigheid onder ons in die duistere tye.

In die hart van die verhaal oor die Emmausgangers kry ‘n mens die gesprek tussen hulle en Jesus. Dit is ‘n tweerigting gesprek, ‘n dialoog waarin hulle in ‘n diep gesprek met mekaar verkeer: Eers praat hulle en dan reageer Jesus.

Die twee dissipels se toespraak gaan grotendeels oor “die dinge wat in hierdie dae onder ons gebeur het” en waaroor almal praat (Lk. 24:18).

Dit bly maar ‘n hoogs ironiese verhaal: Jesus, die man met wie hulle maande en maande saamgeleef het in ‘n intieme klein groepie, is weer by hulle. Maar nou is Hy die vreemdeling. Hulle verduidelik aan Jesus alles wat met Hom gebeur het!

Hulle gee vir Jesus die feite, en hierdie feite word dan verder verduidelik in taal wat lyk of hulle darem hul storie goed ken. In netjiese teologiese taal lewer hulle kommentaar oor die godsdienstige implikasies van alles die Jesus-gebeure. Jesus van Nasaret het as profeet van God kragtig onder hulle gewerk en gepraat totdat hy deur die leiers gekruisig is. En hulle weet, as goeie gelowiges, van die hoop op die toekoms, op redding, terwyl hulle ook vertel hoedat hulle gedink het Jesus beliggaam hierdie hoop.

Maar dan, in die tweede deel van hulle gesprek, wy hulle uit oor die gevolge van hierdie gebeure en fokus op hoe dit hulle raak. Hier pak hulle hul hart uit vir die “vreemdeling.” Eerstens vertel hulle dat hulle aan die einde van hul hoop gekom het dat Jesus hulle as Israel sou verlos (Lk.24:21). Jesus se kragtige bediening het dus eintlik vir hulle op niks uitgeloop. Wanhoop is hulle voorland. Tweedens word hulle “ook” verder “ontstel” deur die nuus van die vroue dat die graf leeg was en die dissipels wat gaan kyk het en gesien het dit was so. Wanhopig en ontsteld is hierdie twee mense wat Jesus oor so baie jare gevolg het. Hulle praat nie oor die sensasie van ‘n moontlike opstanding nie. Hulle is verbysterd en hartseer. Hulle is getraumatiseerd. Hy is ‘n vreemdeling vir hulle en alles wat van Hom gesê word, jaag hulle net dieper in verwarring in.

Dit is hoe hulle die goddelike gebeure onder hulle “lees” en hoe hulle daaroor mediteer. Die ironie word ‘n tragedie: die geloof word swak, die hoop slaan om in wanhoop. Dit is nie eintlik ‘n besondere geestelike lees van God se woord wat tot hulle gekom het deur die profeet Jesus nie. Hulle sien die krag van Jesus se bediening, maar het nie meer vertroue daarin nie.

En kyk ook na hulle verdere “lees” van die gebeure, want ander dinge het oor hul pad gekom waaroor hulle nadink: die vroue vertel van ‘n “visioen” van engele met die woorde dat Jesus lewe. Maar selfs hierdie engele-woord lees hulle ook nie juis baie geestelik nie. Hulle word daardeur ontsteld en hartseer. Die vroue sien engele en hulle ontvang ‘n visioen, die dissipels weet dit en praat daaroor, maar tog “sien hulle nie vir Jesus nie.”

Hoe baie praat God met hierdie mense, met ons as gelowiges? Keer op keer. Ons “ervaar” dit, maar ons kom tog nie tot aanskouing, tot die sien van Jesus nie. Ons “ervaar” eerder ons menslike gebrekkigheid, ons ontsteltenis, ons wanhoop. Jesus, met wie ons so nou saamleef en in wie ons selfs ‘n profeet raaksien, ervaar ons in ‘n ommesientjie as die “vreemdeling in Jerusalem.” Ons kan God se woord van alle kante verduidelik, sonder dat ons God self herken.

Maar dan is daar weer die hoogs kontemplatiewe element: om te dink dat hulle nog oor hulle seer en wanhoop kan bly praat. Jesus gee hulle ‘n kans om soekend te vertel van wat in hulle harte omgaan. Selfs al lyk dit of hulle aan die einde van die pad gekom het, of dinge behoorlik uitmekaar val, is hulle besig om met God te praat – die hoogste ironie. Die antifrase. Hoe meer ‘n mens wanhoop, hoe meer is God in gesprek met ons. In ons roep na God, is God teenwoordig. Jesus weet. Daarom is hy by hulle. Daarom het hy hulle gevolg toe hulle uit Jerusalem padgegee het, in die skemer van ‘n einde sonder hoop in om by hulle te wees in die oomblikke dat hulle Hom nie meer raak”gesien” het nie. Hy het immers self maar net ‘n dag of wat vroeër uitgeroep: Waarom het U my verlaat? Selfs in ons duisternis oomblikke, is die skoue van God daar. Ons hoor die evangelie, ons sien die Immanuel: ek is met julle tot aan ....

Blog Archive