In die hart van die verhaal oor die Emmausgangers kry ‘n mens die gesprek tussen hulle en Jesus. Dit is ‘n tweerigting gesprek, ‘n dialoog waarin hulle in ‘n diep gesprek met mekaar verkeer: Eers praat hulle en dan reageer Jesus.
Die twee dissipels se toespraak gaan grotendeels oor “die dinge wat in hierdie dae onder ons gebeur het” en waaroor almal praat (Lk. 24:18).
Dit bly maar ‘n hoogs ironiese verhaal: Jesus, die man met wie hulle maande en maande saamgeleef het in ‘n intieme klein groepie, is weer by hulle. Maar nou is Hy die vreemdeling. Hulle verduidelik aan Jesus alles wat met Hom gebeur het!
Hulle gee vir Jesus die feite, en hierdie feite word dan verder verduidelik in taal wat lyk of hulle darem hul storie goed ken. In netjiese teologiese taal lewer hulle kommentaar oor die godsdienstige implikasies van alles die Jesus-gebeure. Jesus van Nasaret het as profeet van God kragtig onder hulle gewerk en gepraat totdat hy deur die leiers gekruisig is. En hulle weet, as goeie gelowiges, van die hoop op die toekoms, op redding, terwyl hulle ook vertel hoedat hulle gedink het Jesus beliggaam hierdie hoop.
Maar dan, in die tweede deel van hulle gesprek, wy hulle uit oor die gevolge van hierdie gebeure en fokus op hoe dit hulle raak. Hier pak hulle hul hart uit vir die “vreemdeling.” Eerstens vertel hulle dat hulle aan die einde van hul hoop gekom het dat Jesus hulle as Israel sou verlos (Lk.24:21). Jesus se kragtige bediening het dus eintlik vir hulle op niks uitgeloop. Wanhoop is hulle voorland. Tweedens word hulle “ook” verder “ontstel” deur die nuus van die vroue dat die graf leeg was en die dissipels wat gaan kyk het en gesien het dit was so. Wanhopig en ontsteld is hierdie twee mense wat Jesus oor so baie jare gevolg het. Hulle praat nie oor die sensasie van ‘n moontlike opstanding nie. Hulle is verbysterd en hartseer. Hulle is getraumatiseerd. Hy is ‘n vreemdeling vir hulle en alles wat van Hom gesê word, jaag hulle net dieper in verwarring in.
Dit is hoe hulle die goddelike gebeure onder hulle “lees” en hoe hulle daaroor mediteer. Die ironie word ‘n tragedie: die geloof word swak, die hoop slaan om in wanhoop. Dit is nie eintlik ‘n besondere geestelike lees van God se woord wat tot hulle gekom het deur die profeet Jesus nie. Hulle sien die krag van Jesus se bediening, maar het nie meer vertroue daarin nie.
En kyk ook na hulle verdere “lees” van die gebeure, want ander dinge het oor hul pad gekom waaroor hulle nadink: die vroue vertel van ‘n “visioen” van engele met die woorde dat Jesus lewe. Maar selfs hierdie engele-woord lees hulle ook nie juis baie geestelik nie. Hulle word daardeur ontsteld en hartseer. Die vroue sien engele en hulle ontvang ‘n visioen, die dissipels weet dit en praat daaroor, maar tog “sien hulle nie vir Jesus nie.”
Hoe baie praat God met hierdie mense, met ons as gelowiges? Keer op keer. Ons “ervaar” dit, maar ons kom tog nie tot aanskouing, tot die sien van Jesus nie. Ons “ervaar” eerder ons menslike gebrekkigheid, ons ontsteltenis, ons wanhoop. Jesus, met wie ons so nou saamleef en in wie ons selfs ‘n profeet raaksien, ervaar ons in ‘n ommesientjie as die “vreemdeling in Jerusalem.” Ons kan God se woord van alle kante verduidelik, sonder dat ons God self herken.
Maar dan is daar weer die hoogs kontemplatiewe element: om te dink dat hulle nog oor hulle seer en wanhoop kan bly praat. Jesus gee hulle ‘n kans om soekend te vertel van wat in hulle harte omgaan. Selfs al lyk dit of hulle aan die einde van die pad gekom het, of dinge behoorlik uitmekaar val, is hulle besig om met God te praat – die hoogste ironie. Die antifrase. Hoe meer ‘n mens wanhoop, hoe meer is God in gesprek met ons. In ons roep na God, is God teenwoordig. Jesus weet. Daarom is hy by hulle. Daarom het hy hulle gevolg toe hulle uit Jerusalem padgegee het, in die skemer van ‘n einde sonder hoop in om by hulle te wees in die oomblikke dat hulle Hom nie meer raak”gesien” het nie. Hy het immers self maar net ‘n dag of wat vroeër uitgeroep: Waarom het U my verlaat? Selfs in ons duisternis oomblikke, is die skoue van God daar. Ons hoor die evangelie, ons sien die Immanuel: ek is met julle tot aan ....
Friday, November 06, 2009
Ontsteld en wanhopig. Oor God se teenwoordigheid onder ons in die duistere tye.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2009
(275)
-
▼
November
(29)
- Wanneer 83 000 toeskouers soos die graf swyg.... ...
- Die krag van ons woorde.
- Lank voordat ons na God verlang het, het God verla...
- Om na God se Woord te smag. Oor die verskil tussen...
- Die geestelike lees van die Bybel teenoor ons geve...
- Velasquez en Emmaus
- Totius oor die dood.
- Verstom. Rembrandt se 1628 skildery van die Emmaus...
- Rembrandt en die Emmausgangers
- Die begeerte na die teenwoordigheid van God.
- Oor God se teenwoordigheid in ons lewens. Die Emma...
- Biddende verlange: oor die Emmausgangers se mistie...
- Die volmaakte mistiek: Oor die Franse mistikus, Br...
- Calvyn en die kontemplasie van God: oor die visio ...
- Spiritualiteit en sonde
- Die oneindige soetheid van die goddelike goedheid ...
- Calvinistiese spiritualiteit - enkele voorlopige o...
- Wanneer God se woorde en menslike ervaring mekaar ...
- Die mistieke ervaring van Kierkegaard. Oor die bro...
- Vrees vir die Here. Oor bewondering en ontsag vir ...
- Die Gees spreek deur die Woord: oor Spiritualiteit...
- Afskeid en vreugde. Oor die spesiale plek van die ...
- Die Skrif laat ons harte ontvlam. Oor die rol van ...
- Ontsteld en wanhopig. Oor God se teenwoordigheid o...
- Om Jesus te sien sonder om Hom te herken. Oor die ...
- Geskok by die lees van Lukas se verhaal oor die Em...
- Elke dag is 'n goddelike vandag. Oor die durende t...
- Die rol van ons beelde van God in ons spiritualiteit
- Die lewende waters wat uit ons vloei: oor Johannes...
-
▼
November
(29)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.