Wanneer ‘n mens die verhaal van die Etiopiese hofdienaar lees, val sy vroomheid ‘n mens op. Hy was in Jerusalem om te aanbid. Hy sit op sy wa en bestudeer die Bybel. Saam met Filippus doen hy intense Bybelstudie en wonder wat die profeet werklik deur sy boek wou sê. Dit is alles tekens van ‘n mens wat soekend is, wat die dieper dinge in die lewe begeer. En ons dink dan: hoe kan dit anders dat God sulke diepe verlange raaksien en vervul?
Die Etiopiër word in sy begeerte tot diepere dinge nie teleurgestel nie. Op ‘n stadium breek daar by hom iets deur en verander sy lewe dramaties. Dit is die oomblik van herkenning, die omdraaipunt, die openbaring van die verborgenheid: Sy begeerte na die dieper dinge word so sterk dat hy vir Filippus vra om gedoop te word. Hier breek alles oop en kom sy verhouding tot God tot volheid: God reageer op sy soeke na God en in die doop bevestig God al die beloftes aan hom. God hoor hom.
‘n Mens nou kon dink daar is ‘n bepaalde orde in ons godsdiens: Bybellees, bybelstudie, praat en bid tot God, met dan ontmoeting van God. Na die lectio (die lees van die profeet) en die meditatio (die fyn nadenke oor die profeet se woorde), kom die oratio (of die gebed – die begeerte na God). Veral in ‘n vroom konteks dink ons God sal nouliks iets anders doen - God moet as te ware goed reageer op al ons toegewyde en ernstige Bybellees.
En dit maak iewers sin. Iets soortgelyks het gebeur toe die Emmausgangers saam met Jesus “bybelstudie” gedoen het en oor die Skrif nagedink het: hulle harte was “brandende” in hulle. Hulle meditatio , hul nadenke oor die Woorde van God, hulle luister na die Stem van God, laat hulle harte ontvlam in begeerte – selfs al herken hulle nog nie heeltemal bewustelik dat hulle in die goddelike teenwoordigheid is nie. En uiteindelik ervaar hulle dan ook die oomblik dat hulle Jesus herken in al sy volheid as die opgestane Here.
Dit is sekerlik waar. Daar is ‘n noue band tussen die luister na God se stem en die reaksie daarop soos dit in die verlange na God na vore kom. Maar dit is net tot op ‘n sekere punt waar,
Sekerlik sien God ons soeke en verlange raak. Maar dit sou ‘n fout wees om te dink dat ons nadenke oor die Woord en ons luister na die Stem van God is ‘n voorwaarde vir ons ervaring van God. Dit is ‘n allermerkwaardige dimensie wat deur die verhaal van die Etiopiër in Handelinge 8 beklemtoon word: nog voordat ons lees hoe hy op die wa gesit en ernstig Bybel gelees het, lank voordat die Woord sy hart aangeraak het (vers 27-28), skryf Lukas, het ‘n engel van die Here vir Filippus gesê om op te staan en die eensame pad na Gasa te neem (vers 26). God se inisiatief het alles aan die gang gesit waarvan ons in hierdie verhaal lees. Dit is God se dade wat die dinge begin – soos op Pinksterdag ook. En, in vers 27, gehoorsaam Filippus gelowig hierdie goddelike inisiatief en opdrag. Hy staan op en reis na Gasa. En Lukas maak seker dat ons God se inisiatief raaksien. In vers 29 herhaal hy dat dit die Gees is wat vir Filippus gesê het: “Gaan daarheen en bly by daardie wa.” En God bly die hele verhaal stuur. As die man gedoop is, neem die Gees vir Filippus weg. Die Gees bly aan die handel in hierdie verhaal. God stuur die lewe van mense.
Alles wat die Etiopiër doen, sy menslike pogings om die Woord te lees en te volg, word deur hierdie goddelike raamwerk bepaal. God is op pad na ons terwyl ons, soos die Etiopiër, soekende deur die woeste, eensame lewenspad reis, Bybel in die hand. Maar altyd, altyd, ontdek ons een of ander tyd, dat lank voordat ons reageer op God, God al na ons op pad was. Die Gees reik na ons uit. Ons reis in onwetendheid, in eensaamheid, maar God is na ons op pad of ons dit nou weet of nie. Dit is nie ons vroomheid wat ons by God uitbring nie. Iewers begin alles by God se inisiatief, by God se groot dade. Soms is dit merkwaardige dinge – soos op Pinksterdag toe God op groot skaal ingegryp het. Ander kere bring God ‘n getuie oor ons woestynpad wat saam met ons deeglike Bybelstudie doen. Maar altyd is God die Een wat alles begin, wat uitreik en omgee en beskik.
Die groot verandering, die transformasie sit ‘n hele proses in ons lewe aan die gang. Ons verlang na God en God raak ons aan en stil ons verlange. Maar lank voor ons na God verlang, verlang God na ons. God se verlange en uitreik na ons, die goddelike aanraking kom nie bloot net omdat ons na God verlang nie – hoe nou hulle ook al verbonde is. Ons verlang na God omdat God na ons gekom het. Lank voor ons harte ontvlam, is God al liefdevol op pad na ons toe. Dit is genade. Juis daarom gaan dit in spiritualiteit om “God” se verhouding met die mens (en nie andersom nie). Daardie harte van die Emmausgangers sou nooit in vuur ontvlam het as Jesus nie vir hulle agterna gesit en opgesoek het op hulle treurige, eensame pad weg van Jerusalem na Emmaus toe nie.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2009
(275)
-
▼
November
(29)
- Wanneer 83 000 toeskouers soos die graf swyg.... ...
- Die krag van ons woorde.
- Lank voordat ons na God verlang het, het God verla...
- Om na God se Woord te smag. Oor die verskil tussen...
- Die geestelike lees van die Bybel teenoor ons geve...
- Velasquez en Emmaus
- Totius oor die dood.
- Verstom. Rembrandt se 1628 skildery van die Emmaus...
- Rembrandt en die Emmausgangers
- Die begeerte na die teenwoordigheid van God.
- Oor God se teenwoordigheid in ons lewens. Die Emma...
- Biddende verlange: oor die Emmausgangers se mistie...
- Die volmaakte mistiek: Oor die Franse mistikus, Br...
- Calvyn en die kontemplasie van God: oor die visio ...
- Spiritualiteit en sonde
- Die oneindige soetheid van die goddelike goedheid ...
- Calvinistiese spiritualiteit - enkele voorlopige o...
- Wanneer God se woorde en menslike ervaring mekaar ...
- Die mistieke ervaring van Kierkegaard. Oor die bro...
- Vrees vir die Here. Oor bewondering en ontsag vir ...
- Die Gees spreek deur die Woord: oor Spiritualiteit...
- Afskeid en vreugde. Oor die spesiale plek van die ...
- Die Skrif laat ons harte ontvlam. Oor die rol van ...
- Ontsteld en wanhopig. Oor God se teenwoordigheid o...
- Om Jesus te sien sonder om Hom te herken. Oor die ...
- Geskok by die lees van Lukas se verhaal oor die Em...
- Elke dag is 'n goddelike vandag. Oor die durende t...
- Die rol van ons beelde van God in ons spiritualiteit
- Die lewende waters wat uit ons vloei: oor Johannes...
-
▼
November
(29)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.