Thursday, November 26, 2009

Om na God se Woord te smag. Oor die verskil tussen tradisionele Bybellees en 'n geestelike lees van die Bybel.

Elke keer weer as ons 'n teks lees, ontdek ons nuwe momente daarin. Ons kan die Bybel oor en oor lees en tog weer telkens agterkom dit praat op 'n nuwe manier met ons.

Op die manier ontrafel ons gedurig die verborge kante van 'n teks. Die teks gee sy verborgenhede prys.

Ons is dus gedurig in gesprek met 'n teks: die teks praat met ons, waarop ons weer met die teks praat. In die spirituele hermeneutiek word dit meditatio of mymerende nadenke genoem.

Ek hou egter daarvan om eerder te praat van: die skrywer praat met ons en ons praat met die skrywer. Daarmee word eintlik bedoel dat ons in 'n persoonlike verhouding ingetrek word wanneer ons Bybellees. Dit is 'n dialogiese proses. En so 'n dialoog is iets anders as om met letters te werk en hulle betekenis te probeer uitwerk. Dit is ook iets meers as om net die "inhoud" van 'n Bybelgedeelte te probeer verstaan.

So 'n dialoog veronderstel 'n verhouding: ons "besit" nie die teks nie, ons is nie die mense wat besluit oor die betekenis van die teks nie. Ons kan nie vir 'n teks voorsê nie (al gebeur dit dikwels in die praktyk dat ons dit wil doen). Die teks of die skrywer praat met ons en gee vir ons herhaaldelik nuwe tekens van hoe ons hom en sy teks moet verstaan.

Kyk maar weer na die Etiopiese hofdienaar: hy is 'n gelowige man. Hy reis al die pad van Etiopie om in die tempel te Jerusalem te gaan aanbid. En vanuit hierdie gelowige agtergrond lees hy sy Bybel. Hy het duidelik 'n behoefte om meer te weet.

Volgens Lukas het hy egter nie die "boek" Jesaja gelees nie. Hy het die "profeet" Jesaja gelees (vers 30). En hy is nie besig om die betekenis van "verse" uit te pluis nie. Volgens Lukas vra hy: "Van wie sê die profeet dit? Van homself of van iemand anders." Hy lees nie 'n boek nie, hy hoor 'n profeet praat.

En as hy en Filippus met die profeet in gesprek tree en hy saam met Filippus die verborgenhede van die profetiese teks ontrafel het, gebeur daar iets met die hofdienaar. Hy neem die inisiatief: hy sien water en vra om gedoop te word. In sy geloofslewe kom daar 'n keerpunt. Sy lees van die profeet bring hom tot 'n transformatiewe oomblik. Hy begeer God se verbondsversekering. Die profeet bring hom nader aan God. Die verborgenheid van die teks word vir hom duidelik en dit is nou asof die teks van hom 'n reaksie vra. Dit is nie 'n kwessie van net beter "verstaan" nie. Die verstaan en die ontrafeling van die verborgenhede is maar die begin. Dit maak in hom iets wakkers. Hy het, soos die Emmausganers, 'n brandende hart. Die vlam van geloof in hom brand sterker as ooit. Hy wil gedoop word. Hy, wat so pas in die tempel in aanbidding was, word nou ingelei in die dieper waarheid wat in Jesus werklikheid geword het (vers 37).

'n Spirituele lees vind dus plaas binne die konteks van 'n gelowige verhouding met God se boodskappers en, uiteindelik, met God. Dit gaan nie om die lees nie, maar om wat deur die lees tot stand kom. Dit is gerig op die ontrafeling of die openbaring van die verborgenheid en die transformatiewe werking daarvan.

Om die woord te lees, te bestudeer, woord vir woord te ontleed, is om besig te wees met God se transformatiewe spreke. En om na God te luister is nogal 'n waagstuk. Dit kan jou vat waar jy nie gedink het jy sal beland nie.

Dit pas 'n mens daarom om God se woord biddende te lees. Wanneer God praat, pas dit ons om in ootmoed te luister. Ons is in die teenwoordigheid van die Een wat lewe gee en nuwe lewe skep. Verstaan is belangrik. Ontleed is ook beslis nodig. En fyn lees is vanselfsprekend. Dit het ons in tradisionele eksegese geleer. Dit leer ons wanneer ons Bybelstudie doen. Maar in die geestelike lees is verstaan, fyn lees en ontleed maar net een kant van die saak. Daar is meer op die spel: Eintlik sou 'n mens dit toegespits kon sê: spirituele hermeneutiek leer ons dat nie die verstaan so belangrik is nie, as die "gees" waarmee ons verstaan, die "gees" waarmee ons fyn lees, die "gees" waarmee ons ontleed. Is dit 'n "biddende" geestelike benadering tot God se woorde? Of, soos so dikwels gebeur, is ons gou om meerderwaardig te vertel hoe tydgebonde die Bybel is, hoe moeilik dit is om vandag te glo (asof dit destyds maklik was), hoe kru die wêreldbeeld van Bybelse tekste is?

In 'n geestelike lees van die Bybel word veral rekening gehou met die werking van die Heilige Gees. Die Heilige Gees is God se kragtige werking in ons wêreld en ons lewe. Deur die eeue bely gelowiges die kragtige werking van die Gees en vind hulle inspirasie vir hierdie belydenis in die Bybel. Die hofdienaar het allerhande vrae gevra. Maar uiteindelik wou hy die krag van die profetiese getuienis in sy lewe, hoe vroom dit toe al was, nog sterker ervaar. En toe hy klaar gelees het, het hy die diepe behoefte gehad om gedoop te word, om in Christus ingeënt te word, om die werking van die Gees in sy lewe ook te ervaar. Die Gees wat Filippus sommer so kon wegvoer (vers 39), was nou ook aan die werk in sy lewe. Geen wonder dat hy sy reis "met blydskap" voortgesit het nie (vers 39).

Kortom, die Etiopies hofdienaar het uit sy hart begeer om meer te weet. Dit het vir hom nie gegaan oor 'n slim gekarring oor die betekenis van bybelversies nie. En hy wou nie vroom allerhande kennis oor God insamel nie. In sy lewe was daar 'n brandende begeerte om dieper in sy geloof te groei. En in hierdie geloofsgroei het die Bybel vir hom 'n sentrale rol gespeel. Hierin verskil spirituele hermeneutiek van tradisionele eksegese en Bybelstudie: dit is nie die inhoud wat saak maak nie. Dit is wat daardie inhoud aan jou verhouding met God doen, wat regtig saak maak. Daarom is die geestelike lees van die Bybel ingebed in 'n smagtende hart.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive