Saturday, November 28, 2009

Die krag van ons woorde.

Die verhaal van die Etiopiese hofdienaar in Handelinge 8 fokus skynbaar grotendeels op die verstaan van die Bybel. Daar is in die gedeelte ‘n lang gesprek oor die betekenis van Jesaja 53:7-8 (wat dan ook in Handelinge 8:32-33 aangehaal word. Ons moet egter nie dink dat die res van die verhaal onbelangrik is nie, veral nie die verwysing na die Etiopiër se doop nie (Hand.8:38-39). Die doop is vir Lukas besonder belangrik. Aan die begin van sy evangelie vertel hy van Jesus se doop (Lk.3:21-22). Die doop wys op hom as die koninklike Messias en vertel hoedat God hom roep tot ‘n bediening om mense vry te maak en aan hulle ‘n nuwe, kragtige lewe te gee. Maar Handelinge 2 begin ook met die doop wanneer gelowiges ook, soos Jesus in Lukas 3:22, die Gees ontvang en hulle bediening van die Woord oor die wêreld heen begin (vgl.Hand.2:38!). Ook in Samaria ontvang mense die Heilige Gees (Hand.8:16). Die doop vertel dus van die besondere transformasie van gelowiges van verknegting tot kinders van God wat ‘n lewe in krag ontvang. Die doop in Handelinge 8 moet in hierdie sin verstaan word: die Etiopiër ontvang in die doop ook ‘n roeping om deel te word van God s getuigende gemeente, om sy weg in diens van God voort te sit.

Die doop van die Etiopiër volg na die kort opmerking van Filippus dat die Skrif van Jesus getuig (Hand.8:35). Dan vra hy vir Filippus om gedoop te word (vgl Hand.2:38). Wanneer hy in die water ingaan, wys dit op sy sterwe aan sy ou bestaan. En as hy uit die water opstaan, vertel dit van sy opstanding tot ‘n nuwe, kragtige lewenswyse (Hand.8:38-39). Paulus het dit só verduidelik: “ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.” Die doop praat dus gelyk van die dood en die lewe. Dit is ‘n paradoks: Ons sterf – sodat ons met God kan wandel – in heerlikheid! Dit is wat met die Etiopiër gebeur. Hy is nou op ‘n nuwe reis, saam met God. Hy kon sy ou lewe aflê. Hy moes sterf om te kan lewe.

Daar is egter ook ‘n ander paradoks wat ten nouste hiermee saamhang. Ons sterf aan onsself en kry ‘n nuwe lewe, maar ook hierdie lewe deel ons in krag met ander. Die Etiopiër sal nooit weer dieselfde wees nie. Hy is met Christus in ‘n mistieke band verenig. Filippus het vir hom aan Christus bekend gestel en in die doop het hy op ‘n besondere wyse hierdie intieme band ervaar. Dit moet ‘n mens lees in die lig van die Emmaus-verhaal. Die twee dissipels van Emmaus se oë word geopen (Lk.24:31) nadat hulle oë eers weerhou is om hom te herken (Lk.24:16). Maar onmiddellik as hulle Jesus herken, “verdwyn hy uit hulle sig.” Die Etiopiër ervaar ook hierdie verlies. Die oomblik toe hy uit die water opklim saam met Filippus, het die Gees vir Filippus weggeneem en hy “het hom nie weer gesien nie (Hand.8:39). Filippus is nie meer met hom nie. Die Een wat vir hom oor God se dade in Christus vertel het, is weg. Wat met die dissipels van Jesus gebeur, gebeur ook met Filippus se luisteraar.

Maar let op wat gebeur wanneer die Emmaus dissipels skielik agterkom dat hulle alleen is. Die twee Emmaus-dissipels, voorheen somber en wanhopig, gaan haastig terug na Jerusalem om van Jesus se opstanding te getuig. Iets kragtigs het in hul lewe losgebreek. Hulle gesigte val nie van skok as Jesus verdwyn nie. Hulle is nie opnuut wanhopig nie. Hulle is nie meer alleen nie, al is hulle sonder Jesus!

En die Etiopiër wat so oningelig oor die weg van die Here was (Hand.8:31) en verleë van Filippus hulp gevra het (Hand.8:34), gaan na Filippus se verdwyning “met blydskap” sy weg. Ook sy hart gloei met vreugde – net soos die hart van die Emmausgangers brandende in hulle was. Hy is nie meer soekend nie, alleen sonder Filippus nie.

Dit bly opvallend dat Jesus verdwyn, Filippus verdwyn, maar God werk nog steeds kragtig. Die Etiopiëer het nou die weg ontdek en al is hy alleen, sonder Filippus die geestelike vader, straal hy van vreugde.

Wat met hom gebeur simboliseer ‘n merkwaardige geskiedenis waarin mense op drie maniere tot ‘n nuwe lewe bekragtig word.

Eerstens het die Ethiopiër nou geweet dat God in Christus vryheid tot mense gebring het en die mens bekragtig het tot ‘n nuwe lewe. Hy hoef nie meer te wonder oor wie Jesaja in gedagte gehad het nie - Jesaja het gepraat oor God se groot dade in Christus.

Maar tweedens het hy vir Filippus raakgesien – hierdie man van God wat met soveel krag van Jesus getuig het. En hy kon agterkom dat Jesus wat weg is, tog teenwoordig was in die woorde van sy dissipels en van Filippus. Dit het ons ook in die geskiedenis van die Emmausgangers gesien. Jesus is weg, maar tog leef Hy - dit getuig die Emmausganger. God bekragtig mense deur Jesus, maar God doen dit ook deur die dissipels.

Maar die Etiopiër het nou, derdens, self ook ‘n storie gehad om te vertel: sy lewe is verander. Hy is nou ‘n getuie van God se kragtige dade in Christus en hoe dit sy lewe aangeraak en verander het. Hy kan nou die fakkel oorneem van Filippus en ook ‘n getuie word. Maar ook hy sou van die toneel verdwyn. En God sal steeds teenwoordig bly in ons getuienis lank nadat hy nie meer daar is nie. So maak God oor geslagte heen mense vry en maak hulle deel van die Goddelike boodskap van bevryding en bekragtiging. En op hierdie derde vlak moet ons ook Lukas se vertelling van die Etiopiër se verhaal sien: Lukas vertel vir sy lesers dat God se krag nie opgehou het met Jesus en sy dissipels nie. God se krag leef voort van geslag tot geslag tot geslag. En hierdie krag het hom gedryf om sy boek te skryf. En ons lees sy boek om uiteindelik deel te hê aan die nuwe lewe waarvan hy getuig.

Dit is die paradoksale: Jesus gaan weg, Filippus verdwyn, die Etiopiër is weg. Maar ons ontvang krag omdat die Heilige Gees tot ons kom in die woorde van Lukas (Hand.1:6-8). Ons krag lê nie in onsself nie. Dit is te vind in die verhaal van Jesus wat ons ervaar. En omdat ons die woorde oor Jesus ervaar en lewe, word ons ‘n kragtige teenwoordigheid in ons wêreld. En lank nadat ons nie meer daar is nie, sal mense oor God se woord nadink – die woorde wat God in Jesus gespreek het, wat die getuies oor Jesus verkondig het – en die bevrydende, bekragtigende werking daarvan ervaar.

Dit is die geheimenis: Jesus moes weggaan sodat ons sterk kon word! Dit is die mistieke antifrase: ons wonder soms oor God se afwesigheid. Maar as ons gelowig kyk sal ons juis daarin God se teenwoordigheid herken. Maar dit is nog meer merkwaardig om te dink – ons, in al ons swakheid, met ons somber gesigte en wanhoop, met al ons vrae in ons eie gemoed – ons het ‘n kosbare skat, ons kan bevrydende woorde spreek wat aan ander nuwe krag kan gee. Ons kan.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive