Thursday, November 12, 2009

Die mistieke ervaring van Kierkegaard. Oor die bron-ervaring in spiritualiteit

Die beroemde skrywer Soren Kierkegaard (1813-1855) word as een van die groot denkers uit ons geskiedenis beskou. Hoewel hy meestal as filosoof en teoloog bekend is, word hy ook as ‘n mistikus beskou. Hierdie beroemde man het ‘n heel eenvoudige, maar ingrypende oomblik in sy lewe gehad wat hom vir die res van sy lewe sou bybly.

Toe hy 25 jaar oud was, het hy na jare se wilde plesierigheid weer in die huis gaan bly. Hy skryf op 19 Mei 1838 hierdie merkwaardige ervaring neer wat hom oorval het daardie oggend om half elf. Hy probeer dan die ervaring onder woorde bring deur die volgende inskrywing in sy dagboek:

“Daar is so iets soos ‘onbeskryflike vreugde’ wat onverklaarbaar deur ons gloei net soos wat Paulus onverwags en sonder enige rede uitgeroep het: ‘Wees bly, ek herhaal, verbly julle.’ Dit is nie ‘n vreugde oor dit of dat nie... maar dit is die siel wat jubelend met tong en mond uit die diepte van die hart uitroep. Ek verheug my oor my vreugde, deur, in, met, by, op en oor my vreugde,’ – ‘n hemelse refrein wat as te ware skielik ons ander gesing onderbreek, ‘n vreugde wat lawe, wat soos ‘n briesie verfris en afkoel, ‘n wind wat waai uit die vlaktes van Mamre na die ewige woning.”

Kierkegaard verwys hier na Paulus se opmerking oor vreugde in Fil.4:4, maar belangriker is die ommekeer en transformasie wat hierdie mistieke ervaring in sy lewe gebring het. In hierdie tyd is hy met sy pa versoen, maar hy het ook diep godsdienstig geraak. Twee maande later het hy, ongewoond vir ‘n Lutheraan, byvoorbeeld gaan bieg, waarna hy ook verder die nagmaal gebruik het. Daarmee wou hy sy mistieke ervaring afrond. Vanaf 1841 tot 1846 het hy sy merkwaardige geskrifte begin skryf wat soveel invloed vir eeue daarna sou uitoefen.

‘n Mens dink onmiddellik aan Pascal se mistieke ervaring as jy hiervan lees. Maar by Kierkegaard oorheers die vreugde. Dit is ‘n diep, vervullende vreugde wat hy nie eintlik onder woorde kan bring nie – dit is “onbeskryflik.” Daar is ook die vuur waaroor Pascal so aangrypend praat. Kierkegaard voel die vreugde soos ‘n vuur in hom gloei en sy hele wese vul. En hierdie vreugde is net daar, sommer net. Dit vloei uit sy diepeste innerlike en stroom na buite.

Ons praat in spiritualiteit oor die bron-ervaring. Dit is wanneer ‘n mens deur ‘n bepaalde oomblik oorweldig word. Niks sal weer daarna dieselfde wees nie en alles wat met jou gebeur sluit iewers aan by die bronervaring. Kierkegaard, die Lutheraan uit Denemarke, die diep denker, die groot filosoof, die veelgelese teoloog, se woorde is hier min. Dit het alles begin op die oomblik toe hy gevul is met ‘n vreugde wat hom so deurgloei het dat hy eintlik maar net nog kon sing van blydskap. Dit is die bron van nuwe lewe.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive