Wednesday, November 25, 2009

Die geestelike lees van die Bybel teenoor ons gevestigde Bybellees: wat is nuut of anders?

Dikwels kom die vraag op: is die geestelike lees van die Bybel werklik anders as ons gewone daaglikse lees van die Bybel? Predikante wat opgelei is om die Bybel fyn te lees en te bedink redeneer dikwels dat hulle teologiese opleiding die eintlike insig bied wat nodig is om die Bybel op ‘n verantwoordelike manier uit te lê. Wat sou ‘n geestelike lees van die Bybel nou bied wat die teologiese lees nie kan bied nie?

‘n Mens kan die verskil van ‘n geestelike lees met ‘n teologiese of Bybelkundige lees op baie maniere uitwerk. Maar daar is een sleutel-verskil wat ‘n mens van die begin af duidelik moet vashou. Op baie manier het Bybelkundiges gesê dat ons moet “verstaan” wat ons lees. Ons moet die “inhoud” kan begryp en sy “betekenis” kan vasstel. So word die vraag van die Filippus aan die Etiopiër dan geïnterpreteer: “Verstaan jy wat jy lees?” (Hand.8:30; al sê die Grieks eintlik iets anders en al praat die Grieks nie van “verstaan” in ons moderne sin van die woord nie – maar daaroor later meer).

Die geskiedenis van die ontmoeting tussen Filippus (daardie “onbekende” figuur wat in Handelinge 8 so ‘n groot rol speel) en die Etiopiese hofdienaar kan ‘n mens help om hierdie verskil te verstaan. Dit is des te meer die geval omdat daar so ‘n interessante verband tussen die Emmaus-gangers en Filippus se gesprek met die hofdienaar is (sien later).

Volgens Lukas 24:27 het Jesus begin van Moses en al die profete af en vir die Emmausgangers uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het. In Handelinge 8 is die proses ewe duidelik uitgespel: In Handeling 8:28 en 30 sit die belangrike man, die hofdienaar van Etiopië, op sy wa hardop (vers 30) uit die profeet Jesaja en lees. Hierdie lees is die eerste stap in spirituele hermeneutiek. Dit verwys na ‘n lees van die teks waarby ‘n mens betrokke is – deur dit hardop te lees (Benediktynse tradisie), resoneer die teks in jou. Jy word liggaamlik betrek by wat jy lees. Maar ook belangrik is wat die man lees. Lukas haal dan die gedeelte uit Jesaja aan (verse 32-33). Die lesers van Lukas se boek word daarmee ingetrek in die leesproses. Hulle word deur Lukas mede-“lesers” gemaak. Daar is dus “lectio” in die teks (die Etiopiër lees), maar die teks bevorder ook lectio – die lesers word betrek by die leesproses wat in die teks plaasving. Dubbele lectio! Nie net die man nie, maar ook die lesers van Handelinge is in die eerste plek lesers van die Bybel!

Maar lees is nie genoeg nie. Filippus weet dit – daarom vra hy vir die hofdienaar: “verstaan jy wat jy lees?” (vers 30). En die hofdienaar weet dit ook maar te goed. Hy reageer: “Niemand wys my die weg nie!” (let op dat hy nie sê: niemand “verduidelik” dit vir my nie). Ek lees en lees – ook op hierdie eensame pad, maar die weg bly maar duister. En die gevolge voel hy aan. Sommer gou laat blyk hy dat hy sy eie “eksegetiese” vra het. Hy kan nie die teks “uitlê nie: “Van wie sê die profeet dit, van homself of van iemand anders?”

Lectio is blykbaar al klaar ‘n groot ding. Hierdie hofdienaar reis ‘n eensame pad na Gasa. Hy is ook betrokke in wat hy lees – nie net om meer te weet nie, maar as deel van sy geloofservaring. Hy was in Jerusalem om te “aanbid” (vers 27) en op pad, “terug van die kerk” as te ware, lees hy nou sy Bybel. Om te aanbid is ‘n gelaaide woord in Lukas se tekste. Dit wys op geloof en toewyding. En in hierdie konteks van geloof, is die Etiopiër se geselskap op die “eensame pad” die Bybel. Al verstaan hy nie alles nie, hy bly met toewyding lees en lees uit die boek wat oor sy geloofsweg gaan. Maar hy het ook sy vrae. Kritiese vrae. Hy wil betekenis weet. Hy het nagedink oor wat hy gelees het. En daarmee het hy al betrokke geraak in meditatio as tweede stap in die geestelike lees van die Bybel. Wat gaan in hierdie teks aan? Oor wie gaan die teks? Wat het die skrywer bedoel? Hieroor meer later.

Die lyk op die oog af asof die Bybel hier op dieselfde manier gelees word as wat ons vandag doen wanneer ons dit versigtig ontleed – veral deur goeie kommentare en begelei deur kenners. Die teks word fyn gelees met allerhande kritiese vrae. Maar daar is ook ‘n groot verskil. En dit het veral te doen met die beperkte plek van “verstaan” in ‘n geestelike lees van die Bybel – hoe noodsaaklik en belangrik dit ook al is. Om ‘n teks te verstaan is belangrik, baie belangrik. Ons weet maar te goed uit die Bybelwetenskappe hoe deurslaggewend dit kan wees. Maar ‘ n mens kan, soos die hofdienaar, God aanbid en nog steeds die Bybel met toewyding en met vervulling lees sonder dat dit noodwendig duidelik “verstaanbaar” moet wees. Verstaan is belangrik – maar nie ‘n voorwaarde vir die lees van die Bybel nie. Later meer ook hieroor.

Bybelwetenskappe, skryf die groot manne, fokus op die vestaansvraag – vandaar die prominente rol van hermeneutiek daarin. Die geestelike lees van die Bybel, sal spirituele hermeneutiek hierop reageer, fokus op geloofservaring. Dis nogal ‘n verskil.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive