Spiritualiteit gaan oor “ervaarde” geloof. Dit kan ook as “geleefde” geloof beskryf word. Die woord “ervaring” is egter ‘n moeilike woord wat allerhande verwarring veroorsaak. Dit laat mense dikwels aan emosies of gevoelens dink. En dan word geloof maar wisselvalling, want dikwels is ons na die hoogtepunt van ons godsdienstige ekstase, aan die twyfel wanneer daar moeilike tye van ontnugtering aanbreek.
Spiritualiteit as ervaarde geloof is iets anders as emosionele geloof.
Nie dat emosies onbelangrik is nie. Die evangelie maak bly en maak ons ryk in ons emosionele ervaringe. Maar kyk na die twee Emmausgangers. Hulle is in hierdie vertelling oor hul reis na Emmaus hoogs emosionele mense. Lukas 24:17 vertel dat Jesus vir hulle gevra het waaroor hulle dan so hewig loop en gesels, waarop daar dan volg: “Hulle het gaan met treurige gesigte loop staan.” En dan, soos in die vorige blogs bespreek is, volg hulle gesprek oor hul “ervaringe” met Jesus. Maar hier stal hulle nie hul emosies uit nie, hoewel ons uit hul vertelling aflei hoe hulle oor Jesus gevoel het. Hulle vertel eintlik eers net veral wat hulle van Jesus ervaar het, amper net “feite.” Hulle noem alles wat met Jesus gebeur het, alles wat hulle so lank oor maande en jare heen met Jesus “ervaar” het, hoe hulle hom “beleef” het en hulle geloof met Hom uitgeleef het.
Maar die gebeure wat hulle vertel, ontsluit ook hoe diep Jesus in hul hart ingekruip het. Hulle was inderdaad oorweldig deur hulle ervaringe van Jesus. “Hy was magtig in woord en daad voor God en die hele volk” – hierdie “profeet.” Hulle woorde vertel van hulle groot bewondering vir Jesus se vroomheid, vir sy wandel voor God, vir Jesus se spiritualiteit. Hulle was behoorlik beïndruk en verwonderd. En dan vertel hulle meer waarom Jesus hulle harte so geraak het: omdat hulle in Hom hoop ontdek het. Hulle het vertrou dat Hy Israel sou verlos. Al die beloftes waarop God se volk soveel eeue verwag het, het vir hulle in Jesus waar geword.
En toe kom die groot ontnugtering, kruisiging (vers 20) en die leë graf (vers 24) – met Jesus nêrens in sig nie.
So deel hulle hul lewe met Jesus en die wrede ontnugtering aan die einde met Jesus wat nou hul reisgenoot is, die vreemdeling in Jerusalem: alles wat hulle die vorige paar jaar beleef en ervaar het, word aan die vreemde man oorvertel. Hulle harte, aangeraak deur Jesus, is in stukke, want die Jesus wat hulle van so naby gesien en beleef het, is nêrens te sien nie. Hulle is nie net wanhopig nie, nie net nog in skok nie, maar hulle verstaan ook nie meer wat aangaan nie. Hulle het die Lig ervaar. Nou ervaar hulle duisternis. Hulle het met hoop die toekoms ingevaar. Nou loop hulle, verslae, die skemer in, weg van Jerusalem, stad van God se spesiale Seun, terug na hulle ou bestaan. Hulle het vir jare ervaar hoe Jesus met hulle kragtig praat, vir hulle laat voel hoe naby God aan hulle is. Nou reis hulle sonder hom en al wat hulle kan doen is om hulle leë harte, hulle oorvloed van woorde in heftige gesprekke met mekaar te deel. Hulle ervaar hoe hul geloof ernstig bedreig word en dit maak hulle desperaat.
Wat ‘n “ervaring!” ‘n Mens wens dit nie jou grootste vyand toe nie. Om na die intensiteit, na die nabyheid van God, hierdie leegheid, hierdie donkerte te beleef en te ervaar, moes wreed gewees het. Daar was die berge van ekstase, die oomblike van verheerliking, maar ook die valleie van ontsetting, die kruisiging. Alles was ingebrand in en deel van hul “ervaring” van Jesus. Hulle ervaring is juis “ervaring” omdat hulle so diep daarby betrokke is. Dit is nie ‘n “geskiedenis” wat hulle vertel nie. Hulle praat nie vaagweg of onbetrokke oor Jesus nie.
Maar kyk nou na die ander pool van hierdie gesprek tussen die Emmausgangers en Jesus: hoewel hulle oor hul eie gevoelens en ervaringe en reaksies en harte praat, praat hulle terselfdertyd oor Jesus. En dink hulle gedurig na in hul woorde oor hoe God in Jesus gewerk het. Hulle visie is nie op hulself gerig nie, maar iewers onthou hul gedurig dat hulle ervaring direk geknoop was aan Jesus. Hulle lewe is gestuur deur die profeet, deur die Een magtig in woord en daad, deur Jesus se nabyheid aan God. Daar is gedurig ‘n wisselwerking tussen hulle en Jesus, twee pole: die goddelike en die menslike. Hulle is somber, treurig, wanhopig. Maar hulle bly dink oor God, oor Jesus, oor nabyheid, oor mag, oor hoop, oor die lewe. Dit is ‘n spanning, ‘n treitering. Ons sien dus in hul intense gepraat oor hul ervaring juis iets van hoe God inderdaad hulle lewens aangeraak en verander het.
En Jesus, wat hulle naloop, loop nie met hulle ‘n maklike pad as hulle so oor hul ervaring en oor God praat nie. Hy doen hier nie wonders nie of vertel nie van sy opstanding nie. Maar hy maak vir hulle die Bybel oop – hulle moet hier maar leer geloofservaring bring dikwels groot druk en vra van mens om die moeilike pad te loop. Loop met julle verslae harte terug op God se pad, vra hy van die twee. Kyk terug, na alles wat God in die verlede gedoen het – lank voordat julle vir Jesus leer ken het. Dink daaraan dat julle lewe deel is van die groot, groot werk van God deur die eeue in die harte van mense wat ook in moeilike omstandighede die pad van wysheid moes leer ken. Gaan soek vir Lig in hierdie voetspoor van God, in die Bybel.
En Jesus lê geduldig vir hulle die Skrif uit. Jesus stuit hulle in hul somberheid en wanhoop deur vir hulle te laat opkyk, buite hulle self, buite hul ervaring om – deur hulle geslote, gebroke harte oop te maak na Bo, deur hulle ervaring oop te breek met God se woorde uit die verlede.
Later het hierdie twee self vertel wat die ervaring van Jesus se Bybelstudie aan hulle “gedoen” het, wat hulle “ervaar” het toe Jesus vir hulle God se voetspore deur die eeue laat naloop het. Hulle vertel hoe hulle harte brandende was in hulle toe Hy vir hulle die Skrif uitgelê het. Hulle ervaring met Jesus voor sy dood en nou die ervaring met Jesus deur die Skrif, het ‘n verdere mistieke ervaring in hulle veroorsaak. Spiritualiteit is immers ook ‘n proses gelaai met baie spannende ervaringe en altyd weer nuwe maniere van ontmoeting met God. Die “woorde van Jesus” oor “God se woorde” deur die eeue laat hulle hart in vlamme uitbars. Hulle hart brand met die vuur van verlange: terwyl hulle in wanhoop teruggaan huis toe, terwyl hulle op pad is na hul ou lewe sonder Jesus, maak die herinneringe, die meditatio, die gedagtes oor God se trou, die Skrifte van alle tye, onverwags en uit die bloute hulle lewe weer nuut. Hulle harte word geheel, genees en die ou verlange, die hoop op God, vat weer in hulle binneste vlam.
Dit is wat gebeur wanneer ons met ons ervaringe by God uitkom. Niks in hierdie storie gaan om allerhande mooi broodjies te bak oor wie Jesus nou regtig was en wat hy nou werklik gedoen het of nie gedoen het nie – allerhande teologiese en slim praatjies nie. Hier is twee mense wat deur Jesus se aardse bediening oorweldig is – in Hom het hulle God sien werk. En toe God “anders” gewerk het as wat hulle gewoond was, het dit hulle verpletter. Totdat hulle gaan nadink het, weer na die bron van die lewe teruggekeer het en weer gaan luister het na God se ou tyding. Toe hulle weer God se voetspoor gevolg het, het daar opnuut weer ‘n mag in hulle lewens begin werk. En weer eens, toe hulle hul ervaringe, ook van die leë graf aan die Woord gaan toets het, het die diepe verlange in hulle weer opgevlam.
Spiritualiteit gaan oor hierdie “polêre” spanning tussen ons ervaring en God se woord. Wanneer ons ons geloofslewe met al sy pyn steeds weer in die lig van die wysheid van alle eeue toets, word ons her”vorm” en nuut gemaak. In ons word die verlange na God wakker gemaak sodat ons weer tot God wil bid – biddende verlange, brandende harte.
Ons geloof is onherroeplik, onlosmaaklik verbind aan die wyse woorde van God deur die eeue heen. Daarsonder is ons magteloos, uitgelewer aan sinloosheid en wanhoop. En as ons ons eie slimmigheid met daardie lewenswysheid wil vervang, is die resultate dodelik. Dan bly ons by die leë graf vasstaan en vlug ons ons ou bestaan in.
God se woorde van lewenswysheid wat oor die eeue heen op so baie manier aan mense gegee is om hul op hul geloofsreis te begelei, wat dikwels ook so anders is as wat ons dink, is die woorde van die lewe en van krag. Dit kan ons dooie harte weer laat ontvlam. Veertig jaar kan ons deur die woestyn met woeste ervaring loop, solank die vuurkolom saam met ons die pad loop.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2009
(275)
-
▼
November
(29)
- Wanneer 83 000 toeskouers soos die graf swyg.... ...
- Die krag van ons woorde.
- Lank voordat ons na God verlang het, het God verla...
- Om na God se Woord te smag. Oor die verskil tussen...
- Die geestelike lees van die Bybel teenoor ons geve...
- Velasquez en Emmaus
- Totius oor die dood.
- Verstom. Rembrandt se 1628 skildery van die Emmaus...
- Rembrandt en die Emmausgangers
- Die begeerte na die teenwoordigheid van God.
- Oor God se teenwoordigheid in ons lewens. Die Emma...
- Biddende verlange: oor die Emmausgangers se mistie...
- Die volmaakte mistiek: Oor die Franse mistikus, Br...
- Calvyn en die kontemplasie van God: oor die visio ...
- Spiritualiteit en sonde
- Die oneindige soetheid van die goddelike goedheid ...
- Calvinistiese spiritualiteit - enkele voorlopige o...
- Wanneer God se woorde en menslike ervaring mekaar ...
- Die mistieke ervaring van Kierkegaard. Oor die bro...
- Vrees vir die Here. Oor bewondering en ontsag vir ...
- Die Gees spreek deur die Woord: oor Spiritualiteit...
- Afskeid en vreugde. Oor die spesiale plek van die ...
- Die Skrif laat ons harte ontvlam. Oor die rol van ...
- Ontsteld en wanhopig. Oor God se teenwoordigheid o...
- Om Jesus te sien sonder om Hom te herken. Oor die ...
- Geskok by die lees van Lukas se verhaal oor die Em...
- Elke dag is 'n goddelike vandag. Oor die durende t...
- Die rol van ons beelde van God in ons spiritualiteit
- Die lewende waters wat uit ons vloei: oor Johannes...
-
▼
November
(29)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.