Sunday, November 29, 2009

Wanneer 83 000 toeskouers soos die graf swyg.... Oor 'n kultuur van vreugde in sport

Die rugbytoets teen die Iere is, as ek reg onthou deur 83 000 mense bygewoon. En watter massa is dit nie. Indrukwekkende stadium met wonderlike musiek en sang deur Iere wat duidelik soos een man en luidkeels agter hulle span staan.

Dit is ook ‘n skare wat hulle rugby ken. Hulle mis niks nie. En hulle wys wat hulle dink. Toe Petersen na die sin van die skare sondig met ‘n hoogvat, het die geboe lank aangehou. Nee boeta, so speel 'n mens nie die game nie, laat hulle hom verstaan. (Ek kan nie onthou dat ander spelers geboe is nie....)

En toe kom die strafskoppe. Elke keer – of die Iere nou skop en of die Bokke na die pale toe mik – hang daar ‘n doodse stilte oor die veld. ‘n Mens, sê die kommentator, kan die stilte “hoor.”

Mooi. Maar ook merkwaardig – om te hoor hoe 83 000 mense so stilbly dat jy die spreekwoordelik speld kan hoor val. En dit vir ‘n skop pale toe.

En, voeg die kommentator by, hy wens die skares tuis in Suid-Afrika kan ook so ordentlik stil bly wanneer die manne pale toe mik.

Ek hoor ook die stilte. Dit is indrukwekkend. En ek dink lank oor die kultuur wat aan so ‘n stilte verbonde is. Hier, as ek dit reg opsom, is rugby werklik bobaas – maar dan verruim met ‘n sportmansgees wat selfs na die teenstanders uitreik. Die manne moet ‘n regverdige kans kry om hulle skoppe te kan skop. Gee hom die ruimte om te kan konsentreer, te kan presteer. Dit geld van die tuisspelers sowel as die besoekers se skoppers.

Dit is ‘n gevorderde en volwasse lewensstyl. Sport is soveel meer vreugde wanneer jy die beste kan sien en wanneer mense hulle beste kan lewer. En dit is indrukwekkend as die spelers hul beste kan gee in skoppe na die pale. Hulle kan in die stilte alles insit in konsentrasie.

Al wat meer beïndruk is die kultuur van so ‘n geweldige groot groep mense wat rugby as sport tot sy volle reg kan laat kom.

Dit is nie sommer net ‘n uitsondering op die reël nie. Ons sien dit na die wedstryd. Die twee spanne wat ‘n harde, taai en aggressiewe game agter die blad het, gee mekaar die hand.

Mooi.

Is daar iewers hier iets te merke van die Iere as stoere Katolieke en die boere as stoere Protestante?

Ek wonder. Sport kan regtig in sy kleinste besonderhede verraai waarom dit so ‘n groot invloed op mense se lewens het.

Maar ai, daardie stilte. 83 000 mense wat so kan stilbly. En dit vir ‘n skop.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive