Tuesday, November 10, 2009

Vrees vir die Here. Oor bewondering en ontsag vir God.

‘n Mens sien dit soms: ‘n kind kry ‘n graad aan ‘n universiteit. Sy of haar ouers het nie ‘n universiteitsopleiding nie. Die pa en die ma is diep beïndruk met hul seun of dogter se geleerdheid. Hulle sal selfs dalk sê: “ons het nou nie die geleerdheid wat jy het nie, my kind” en dan trots met hul kind praat. Iewers staan hulle in ontsag: met die gradedag is daar ‘n kanselier, rektor, professore, doktorsgrade, cum laude grade, medaljes, prosessies. Om te dink, dink hulle met ontsag, dat jy ook hierdie wonderlike dag kan beleef. Hulle blom van die trots. Maar in hul trots is hulle veral lief vir hulle kind.

Daar is in die Bybel dikwels sprake van die vrees van die Here. Ons is skrikkerig vir die woord, want ons wil nie graag vir God met “angs” assosieer nie. “Vrees vir die Here” is miskien daarom nie altyd ‘n goeie woord nie. Dalk is “ontsag” beter.

Solank as wat ons onthou dat die vrees van die Here die beginsel van wysheid is. Omdat ons vir God ontsag het, voor God in verwondering staan, diep beïndruk deur God se grootheid en almag, wil ons graag soos God wees, of naby God wees. Want ons respekteer God. Vrees van die Here het niks te doen met ‘n kruiperigheid voor ‘n God vir wie ons eintlik bang is nie. Ontsag vir die Here roer iets in ons hart. Dit steek in ons ‘n vlam van liefde aan. Dit is vir ons goed om so by God te wees. God roep vrees of ontsag by ons op sodat ons God kan liefhê.

Die ouers van ‘n slim kind wat graad gekry het, wat so in ontsag voor al die wonderlike geleerde dinge en gebruike op gradedag staan en wat gloei in liefdestrots op hul kind, is maar ‘n flou beeld van die geestelike lewe. Omdat ons by God is, geboeid deur God se grootheid, almag, mag, bring dit ons tot liefde. Dan wil ons God se wil graag doen, omdat ons weet dit is die gebooie van 'n God wat groot is.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive