Sunday, November 15, 2009

Spiritualiteit en sonde

Dikwels praat mense van Calvinisme as ‘n tradisie waarin daarin ‘n oormatige skuldgevoel by mense opgewek word. Calvyn, word dan gesê, is die een wat aan godsdiens ‘n somber karakter gegee het. Nou is dit waar dat Calvyn uitgebreid oor sonde geskryf het. En dit is net so waar dat sekere vorme van die Calvinisme ‘n swaar, swart formaat gehad het. ‘n Mens hoef maar net te dink aan die swartkouskerke in Nederland. En net so waar is dat 'n mens op 'n ongebalanseerde manier en selfs op 'n patologiese manier oor sonde kan dink.

Maar tog is Calvyn se uitgebreide kommentaar op sonde gebore uit sy spiritualiteit. Hy weet goed hoedat mense maklik met sonde kan saamleef, dit rasionaliseer, aanvaar en soms selfs goed praat. Kortom, ons het 'n inherente neiging om sonde te bagatelliseer.

Teenoor hierdie relativering van sonde is dit belangrik dat ‘n mens ‘n diepe sondebesef moet hê. Dit beteken twee dinge: ‘n mens moet besef jy het gesondig, maar jy moet terselfdertyd ook berou hê dat jy gesondig het.

Dit is seker een van die dodelikste aspekte van sonde dat dit ‘n mens “hard” en “ongevoelig” maak. Spiritualiteit as ervaarde geloof, beteken dat ‘n mens tot geloof kom omdat jy sonde besef. Net soos wat 'n mens 'n ongeblanseerde oordrywing van 'n sondebesef kan hê, net so waar is dit dat 'n mens sonde op 'n ongebalanseerde manier kan onderskat. Egte spiritualiteit word gedryf deur die ervaring van die mens se eie onwaardigheid voor God se aanraking. Dit het niks te doen met minderwaardigheid - trouens in 'n diepe sondebesef kom 'n mens tot die insig hoe jou waarde voor God afgebreek word deur destruktiewe kragte wat 'n mens toelaat in jou eie lewe.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive