Sunday, November 08, 2009

Afskeid en vreugde. Oor die spesiale plek van die natuur in ons lewens

Op pad terug van my daaglikse oefening, hoor ek die kermgeluid van die boomsaag onmiddellik. Reg voor die Moederkerk is 'n reuse eikeboom vanmiddag afgesaag.

Ek neem foto's, maar voel treurig - dit is 'n slag in my hart. Ons bly tussen eikebome waarvan sommige 200 jaar oud is. Ek probeer soms dink wat hierdie bome al alles beleef het en soms, as ek verby hulle stap, raak ek net aan hulle, so 'n oomblik van kommunikasie, van eenwording met al die tye. Amper soos wat 'n mens sommer net iets kosbaars vashou. Soos 'n foto van iemand wat nie meer daar is nie. Soos wat mense in Washington by die onvergeetlike monument vir slagoffers in die Vietnam-oorlog met hul vinger oor die name van hul geliefdes vee.

Om een van hierdie bome te verloor is byna 'n persoonlike ramp. Heel gepas is die bui reen wat uitsak, treurig - dit is trane wat hartseer loop.

Oorkant die pad, van waar ek foto's neem, kyk ek dankbaar na die oorblywende bome, wat darem reusagtig is. Maar 'n mens weet, dit gaan nog jare en jare en jare neem voordat die babatjie wat hulle 'n rukkie terug geplant het, so sal uitrys en trots sy voorganger se plek sal inneem. Nog tweehonderd jaar....


Hier is 'n paar foto's.

















Ek staan met my rug teen Die Hoek se tuin. Wit rose trek my aandag. 'n Klein troosprys. Ek neem foto's en besef weer waarom bruide wit aantrek en waarom Openbaring van wit klere praat.







No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive