Sunday, November 01, 2009

Die lewende waters wat uit ons vloei: oor Johannes 7:38

Die laaste paar dae van ons besoek aan Engeland berei ek my voor vir die ontmoeting met kollega’s oor Bybelse Spiritualiteit in ‘n klein Engelse dorpie, Bourton-on-the-water. Dit is ‘n skilderagtige plekkie met die bome in herfskleure (sien foto) en pragtige ou geboue.



Die Engelse kyk baie goed na hul historiese plekke. Die kleinste veranderinge moet eers geadverteer word vir openbare kommentaar voordat dit gedoen kan word. Sulke mooi plekke “gebeur” nie sommer net nie. Dit kos inspanning om dit te skep en so mooi te hou.

Maar daar is ook ander lieflikhede. Die pragtige weer maak opslae – ‘n “Indian summer”, vertel die koerante. Dit is asof die somer teruggekeer het.

Ons voel bevoorreg en geniet die tydjie saam.

Maar wat my opval in hierdie droomplekkie is ‘n helder waterstroom waaroor astrante loopbruggies van klip gebou is. Die skoon, vloeiende, maar veral helder water, met geen teken van ‘n modderspatsel of ‘n tikkie onreinheid nie, gee aan die dorpie nog meer karakter. Ongesteurd spoel die getytjie deur die dorp terwyl ‘n paar eende rustig daarin dwalende rondswem. Oor my sak ‘n spesiale gevoel.



Die innerlike rus, opgeroep deur die stil waters, herinner my aan Johannes 7:38 toe Jesus op belangrike dag van die loofhuttefees mense uitgenooi het om na Hom te kom. Terwyl, soos altyd volgens die wettlike voorskrifte gebeur, die water op die altaar uitgegiet is, nooi Jesus mense uit om hul dors ewig te kom les – nogal by hom! Nie meer die feeste van die ou bedeling sal mense vrymaak nie, maar die nuwe bedeling in Hom is aan die deurbreek. Duidelik is die band met Hom wat ‘n mens nuwe lewe gee. Die krag wat mense nou kry, is ‘n innerlike, geestelike krag.

Deesdae kan ek so ‘n gedeelte nie lees nie sonder om te dink aan spiritualiteit as gelykvormigheid aan Christus (bv van Thomas a Kempis). Spiritualiteit is transformasie, omvorming. En ons word gevorm om meer en meer soos Jesus te lyk. Vir Thomas is transformasie steeds weer ‘n word-soos-Jesus.

Jesus roep uit: “As iemand dors het, laat hy na My toe kome en drink!” Hy is immers die geestelike tempel van die nuwe bedeling (Joh.4:21-24 is sy mistieke woorde aan die Samaritaanse vrou). Hy vra geloof in Hom en waar mense dit waag is daar “kragtige” gevolge: “Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’” Lewende water – strome daarvan – water wat die lewe bevat en wat lewe gee, sal uit ons vloei.

In Johannes is Jesus die een wat in hoofstuk na hoofstuk, van karakter tot karakter, woorde van lewende water laat vloei. Ons volg hom deur dei boek en sien hoe hy praat. Mense word deur sy woorde van krag genees, hulle lewens word omvorm. Hy raak aan, en dinge is nooit weer dieselfde nie.

En, wil Johannes onderstreep, ons word uiteindelik net so – ons word ook ‘n bron van lewende water. (Julle sal groter dinge doen!). Niks kan sonder water bestaan nie. Maar daar is ook niks so dodelik soos vrot water nie. Jesus praat daarom van “lewende” water – die kosbaarste gawe wat ‘n mens kan ontvang. En dit is nog kosbaarder as ons daaraan dink dat hy in Palestina, die droë land, hierdie beeld gebruik. Vir mense wat in dorstige gebiede woon, is water nog meer spesiaal. So – so spesiaal is die Seun van God wat mense lewe gee. En so is ons ook as ons al hoe meer soos Hy lewe deurgee.

Wat my egter hierdie keer by my lees van die teks tref is Jesus se opmerking dat water “uit sy of haar binneste” sal vloei. Diep in ons, daar waar ons hart klop, daar waar niemand kan sien nie, soms nie eers onsself nie, daar sal lewende water opkom en vloei. Daarmee, sê Johannes 7:39 het Jesus na die Gees verwys. Ons sal dit kry, ontvang, uitdeel as ‘n gawe van die Gees wat ons sal bekragtig!

Só sal dit met ons geestelike reis wees: rein, skoon, vloeiende water stroom uit ons uit. God, die heilige Gees, woon in ons, in ons binneste en gee die skoonheid van die lewe daar waar ons dit nie altyd verwag of ervaar nie.

Dis eintlik ondenkbaar, dink ons: want ons lewens is vol groen, verrottende moeraswaters waarvan ons soms self terugskrik en wat ons vergiftig met wanhoop, depressie en ongelukkigheid.

Maar ons kan by sulke negatiwiteit verby kom. Ons kan diep in onsself kyk, verby alles op die oppervlakte wat ons sig op ons innerlike lewe verduister, na die Seun wat by ons inwoon, daar waar ons soms self nie meer goed kan sien nie. En ons kan weet: waar God in ‘n gelowige hart woon, is daar ‘n lewegewende bron.

Hieraan moet ons bly vashou: God in ons – en waters van die lewe wat ons deurstroom en by ons uitstroom.

Wat ervaar ek hier? Want die woorde van Jesus is mooi, maar dit moet as mooi woorde deel word van ons bestaan. Jesus praat dit sodat dit in ons lewens kan roer en lewe bring. Dit is iets wat ons moet bly bedink: Jesus belowe ons dat wanneer ons naby aan Hom bly, aan Hom vashou, sy lewe en sy leer steeds weer onthou, deur Hom altyd weer God se liefde herken (Joh.3:16!), ons sulke lewende water uit ons lewe sal sien voortvloei.

Laat ons dit bly bedink: hierdie beeld van die stromende waters wat skoon, diep in ons opwel. Want hoe meer ons daaroor dink, hoe werkliker sal dit word. En sal ons die vrede, die rustigheid van die nuwe lewe ervaar. Dit, sou Thomas wou hê, is wat ‘n gelowige moet doen: bedink die woorde van Christus. Neem dit aan. Leef daaruit. Sodat die waters van rus kan begin vloei.

Maar die belangrikste is om dit konkreet te bedink: Ek sit nog dikwels terug en kyk na hierdie foto – die helder water wat so skoon vloei. Ek het geboeid gestaan en kyk hoe die waters Bourton-on-the-Water spesiaal maak. En elke keer as ek na die foto kyk, besef ek, in my is ook so ‘n bron, so ‘n stuk heiligheid. En as dit in my is, kan dit my hele lewe verfris, nuut maak.

Biddend, mediterend, nadenkend word ons so dieper gebind aan die groot wete: in my, in my binneste woon die Bron van die lewe. Dit maak my vry van moddergedagtes, dankbaar vir onuitspreeklike skoonheid en verwonderd dat ek hierdie wonder kan deel, kan laat vloei na almal om my wat dors daarna.

Die lewende water is die Gees en my vashou en soeke na die lewende water in my is deel van die heiligmaking wat die Gees in my bewerk. Die Gees maak ons vry van ons kragteloosheid deurdat ons met toewyding en dissipline die goeie wat in ons woon, herken en ons eie maak. Ons moet word wat ons reeds is. Ons moet die lewende water wat in ons opgedam is, laat vloei. Dit soek ons met inspanning, maar ook met verlange. Want waar ons die lewende water vind en drink, word ons vry. Die stromende water sal die donker gedagtes wegneem en deur ons vloei na ander wat dors daarna.

Spiritualiteit praat van ‘n proses. Dit is ‘n hele proses om hiedie wonderskone woorde oor lewegewende waters in ons binneste, so te beleef dat dit ons lewe word. Ons woon in ‘n stil plek waar rustige waters van die lewe vloei en dit inspireer ons om ander te laat deel in hierdie bevrydende, lewegewende ervaring.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive