Friday, October 30, 2009

Klein groepe as geestelike dissipline: om die lewende woorde by God te soek

Dit is opvallend watter groot rol klein-groep besprekings in die lewe van die kerk en in die lewe van gelowiges speel. Vir ‘n lang tyd het ons spesiale aandag aan “selgroepe” gegee. Dit was ‘n interessante ontwikkeling naas die “mega”-kerke waarin duisende mense in een gebou bymekaar kom.

Hierdie kleiner groepe het ‘n groot behoefte vervul naas die mega-groepe van die mega-gemeentes met sy baie bedieninge, lidmate, predikante en groot geboue. Dit was die huis-byeenkomste waar ‘n klein groepie mense bymekaar was om ‘n gemeenskap te vorm en ook om geestelike besig te wees. In sommige gevalle word hulle omgee-groepe genoem.

Sulke groepe is wonderlike klein strukture waarin mense wat origens maklik van mekaar vervreemd is in kleiner verband juis vir mekaar beter kan leer ken en omgee. Dit is 'n plek waar mense rustig kan praat en bymekaar kan wees.

In die spiritualiteitstradisies was sulke groep ‘n belangrike konteks waarin mense geestelik kon groei. Maar in die tradisies was sulke intieme byeenkomste gemik teen ‘n klomp los, gesellige gepratery. Dit was eerder die tyd vir 'n “leergesprek” as ‘n geestelike dissipline.

Mense in ‘n klein groep wil as pelgrims op belangrike tema’s en geestelike materiaal fokus. Hulle wil met 'n diep verlange hul geestelike lewe beter leer verstaan in gemeenskap met mekaar. Hulle smag daarna om deur hul byeenkoms te groei in hulle lewenskuns, in hul alledaagse heiligmaking.

Daar is dus twee duidelike behoeftes: nadenke oor: wat behels ons geestelike weg? En, tweedens, waartoe word ons in ons geestelike weg omvorm of getransformeer?

Maar hierdie byeenkomste gaan uiteindelik nie maar net om ‘n mens se eie geestelike groei nie. So asof ‘n mens dan geborge, gelukkig, versorgd en bemind voel nie. Of dit eindig ook nie waar ‘n klomp mense saam die geestelike weg bedink en najaag nie. Dit is nie maar net nog 'n kans om beter te voel of om jouself reg te ruk nie. Iets baie meer spesiaal gebeur hier.

In Boek 1.10.12 van die Navolging van Christus praat Thomas a Kempis van sulke geestelike byeenkomste. Dit is vir hom van groot belang vir ‘n mens se geestelike reis, veral waar mense in geloof aan mekaar verbind is en een is van hart en gedagte.

Thomas beklemtoon dat dit ‘n gerigte, ywerige gesprek en ‘n ontmoeting is tussen mense wat deur hul geloof in God aan mekaar verbind is. Dit is nie maar net ‘n los, gesellige geselsery nie. Maar in die fokus op geestelike sake, wil hy eintlik sê, is ‘n mens nie net in geloof aan mekaar verbind nie, maar die heel belangrikste is dat die groep dan in die teenwoordigheid van God is. Dit is ‘n innige band wat ons aanmekaar bind, maar meer nog aan God. Daarom gaan die byeenkomste ten diepste om ‘n ontmoeting met God.

Dit is ‘n hoogs spesiale tyd waarin mense op ‘n spontane manier in hul gesprek oor God, op heilige grond bymekaar is. Om voor God te wees, bind hul nog sterker as ooit tevore aan mekaar en gee vir hulle nuwe krag vir die geestelike reis.

Dit beteken nie donker en swaar gedagtes nie. Dit is ook nie 'n gesmous met vroomheid nie. Die gesprek met mekaar is 'n intense soektog om die belangrikste dinge in ons lewe met groot diepte en vreugde te ervaar. Daar is genoeg woorde wat oor ons pad elke dag kom. Wat ons soek en ons hart inniglik begeer is om die woorde van die lewe, die woorde van verfrissing te hoor. Dit is die kans om deur toewyding en geestelike dissipline nader aan God te kom.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive