Saturday, October 24, 2009

Nuut uit die puinhoop

Ek het lank gewag om hierdie droom te verwesenlik: Op pad terug huis toe van Berlyn, klim ons af by Dresden wat in die voorheen Oos-Duitse gebied is en wat in die oorlog swaar verwoes is. Die beroemde Friedenskirche, oor die eeue 'n baken in die stad, was ook grotendeels 'n puinhoop, maar is in 2005 (Hervormingsdag)opnuut ingewy na 13 jaar se herbouwerk teen 'n koste van 2000,000,000 miljoen rand (180,000,000 Euro!). 'n Nobelpryswenner het o.a. sy prysgeld vir die restorasie geskenk.

Die gebou, wat met sy indrukwekkende struktuur menige oorlog oorleef het, het in 1945 ineengestort nadat 650,000 brandbomme op die stad gegooi en en die hitte uiteindelik sy tol geeis het.

Die kommuniste wou dit verander in 'n parkeergarage, maar die Dresdeners het hulle dapper daarteen verset. Mettertyd het die kerk 'n groot rol in vredesbewegings begin speel (vandaar die naam Vredeskerk) en byeenkomste wat daar gehou is, het ook bygedra tot die val van die kommunistiese Oos-Duisland. Tienduisende mense het dikwels, o.a. op Kersdag, die proses van die herbou en inwyding meegemaak - soos 'n uitstalling in die kerk op 'n heel sober manier vertel en dokumenteer met pragtige foto's.


Dit is vandag seker een van die bekendste kerke in Duitsland. Pres. Obama het die kerk in 2009 besoek. Daar is tientalle toeriste wat gedurig in en uit die gebou stroom - wat dit selfs nog meer van 'n simbool maak.


Ons begin ons besoek met afwagting. Maar Dresden dra nog swaar aan sy kommunistiese verlede. Dit is beslis nie nog 'n Berlyn nie. Maar oral sien 'n mens tekens van nuwe lewe, van herstel en van transformasie weg van die boeie wat mense vir soveel jare gebind het.

Op pad na die kerk is daar byvoorbeeld 'n winkel met hierdie fyn, gerestoreerde bo-paneel:




'n Reuse standbeeld van Luther is reg voor die kerk opgerig. Dresden is in Reformatoriese land. Dit is 'n pragtige standbeeld van 'n sterk, jeugdige Luther. Die beeld staan 'n indrukwekkende ruimte vol:





Dit is ontstellend om foto's oor die verwoesting te sien. Hier is die kerk nadat dit ineengestort het in 1945:




Hier is die herstelde kerk:





Die liturgiese ruimte (met al die toeriste...)





Nog 'n deel van die liturgiese ruimte:





Die binne-ruimte van die kerk met sy hoƫ galerye is in sagte pastelkleure geverf. Dit skep in my die gevoel van ruimte, ligheid en kom sit sag op my oog:




Op 'n stadium gebeur iets interessants met my. Na al die katedrale wat ons tot dusver gesien het, het ek 'n vreemde gevoel van herkenning in my ervaar toe ek voor die liturgiese ruimte staan en sien die preekstoel staan in die sentrum. Boonop het dit 'n pragtig ontwerpte kanselkleed gehad. Ek dink nog steeds oor hierdie gevoel wat ek gehad het en hoe dit in my baie herinneringe teruggebring het van my teologiese opleiding (Sola Scriptura....). Ek besef al hoe meer hoedat 'n mens se teologiese tradisies deel is van jou dieptestrukture - jy resoneer onmiddellik en direk daarmee, sommer so met 'n oogopslag.





Deel van die liturgiese ruimte:




In die groot kelder van die kerk is 'n uitstalling van grafstene wat onder die puinhoop uitgegrawe is en eeue oud is. Daar is pragtige aantekeninge in die kerk dat hulle nie net oor die geloofshelde van die verlede getuienis gee nie, maar ook vertel van die geloof in die opstanding.

Hierdie deel van die biddende vroue trek 'n mens se aandag oor die biddende hande.... Ek het teruggeloop om die hande af te neem. Dit het soveel mistieke krag.




In die kelder van die kerk waar daar 'n stil kapel is, is ook hierdie aangrypende voorstelling van 'n altaarklip van deels gepoleerde kalksteen deur die Britse kunstenaar Arish Kapoor. Die tregtervormige holte, volgens die aantekeninge, simboliseer die dieper dimensies van ons lewe wat in ons oppervlakkige bestaan dikwels verlore gaan. Bo hang 'n kruisvormige lig.






Op pad terug na die stasie, in die hoofstraat, stap ons verby hierdie man met sy kommunistiese vlag. Wat dink 'n mens hiervan? Nie alle mense ervaar die Weste as vryheid nie.




Ek het 'n droom vervul om hierdie kerk te gaan sien, maar weggekom met dieper gemoedservaringe as wat ek voorsien het. Om te dink watter ongelooflike ellende die oorlog veroorsaak het. Die vernietiging van hierdie kerk het duidelik 'n hartslag aan die Dresdeners toegedien. Dis aangrypend om te lees hoe hulle na die oorlog die Kommuniste gevra het vir hulp om die kerk te herbou, maar 'n koue skouer gekry het. En vir baie jare het hulle uitgehou, totdat hulle in hul tienduisende die herinwyding beleef het. Om te dink dat die kerk nie deur bomme vernietig kon word nie, maar uiteindelik deur brandbomme geval het. Oorlog is sleg. Sleg. Maar uit hierdie puinhoop kom nuwe hoop, want die kerk word 'n simbool van vrede.

Ek dink weer opnuut oor my skryfwerk oor 'n spiritualiteit van vrede. As 'n mens 'n kerk soos hierdie sien, besef 'n mens hoe akademies 'n mens se skryfwerk kan wees. Dit is eers as jy by puinhope staan, dat jy oorlog aan jou lyf voel en dat die drang na vrede onstuitbaar in jou groei.

Dit was 'n spesiale besoek.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive