Ons praat soms van “stil” gebed en bedoel daarmee dat ‘n gebed saggies of in ons gedagtes gebid word.
Ons sou vreemd opkyk en self ongemaklik voel as iemand vra dat ons stilte bid. Ons dink “bid” beteken noodwendig “woorde” en “praat.” Die bekende Psalm 65:1 begin in ons Bybels met “Aan U kom ‘n lofsang toe.” Luther het dit vertaal met: O God, die mens loof U in die stilte. In hierdie vertaling sien ons die vooroordeeel teen stilte raak. Want ‘n mens moet dit eintlik vertaal met: “Daar is stilte voor U.” Of: "U word geprys met stilte." (Sommige kommentators verbind hierdie woorde met die gebed van mense in die tempel as hulle in stilte wag op God, veral op die belangrike feesdae.)
Ewe aangrypend is die beroemde Psalm 62 oor stilte wat in die Bybel as volg aangebied word:
Eers is daar die pragtige titel van die Psalm:
Stil tot God!
En dan kom die inhoud:
1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Jedútun." 'n Psalm van Dawid. Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil.Hy alleen is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie grootliks wankel nie.
Kontrasteer dit nou met al die geraas en gevloek van ander wat nie op God wag nie:
Hoe lank sal julle aanstorm op 'n man, julle almal hom verbrysel soos 'n muur wat oorhang, 'n omgestote klipmuur? Ja, hulle hou raad om hom van sy hoogte af te stoot; hulle het behae in leuens; met hul mond seën hulle, maar met hul binneste vloek hulle. Sela.
En kyk dan die herhaling van die innerlike, stil wete om by God te kan wees;
Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting! Sekerlik, Hy is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie wankel nie. By God is my heil en my eer; die rots van my sterkte, my toevlug is in God.
Vergelyk dit nou met Psalm 131 (van die vorige blog). ‘n Mens bring jou siel tot bedaring. En hoe nodig is dit nie! Want wanneer ons bid, selfs as ons dit in stilte of met stilte wil doen, dan woel ons gedagtes: ons bid en dink sommer terselfdertyd aan die dag wat verby is, die probleme van môre en ‘n horde ander gedagtes. Die Psalmdigter wil al hierdie gedagtes agterlaat. Dit is genoeg om by God te wees. ‘n Mens hoef nie te praat nie.
Maar selfs hier moet ‘n mens nog baie dieper dink: as my siel tot bedaring gekom het, met die ydele gedagtes uitgeban, kom die tyd van stilte. My siel is stil tot God (nie voor God nie) en ek praat "stilte", sonder enige woorde. Ek vertel eintlik: "God, hoe kan ek U probeer bereik met woorde, mense-woorde met al hul beperktheid, U wat in elk geval onvatbaar, onpeilbaar is? Hoe flou is taal om die verhouding met U, wat buite alle taal is, uit te druk! Hoekom sal ek in my woorde vasval as ek weet dat U lank voordat ek ‘n woord gepraat het, reeds weet wat ek met my lewe sê?"
En hieroor kan ek heeltemal innerlik rustig wees, want dit is nie wat ek sê wat die verhouding met God tot stand bring nie. God is by my lank voordat ek ‘n enkele woord gesê het. God gee aan my liefde, lank voordat ek as verlore Seun my toesprakie gehou het. En God weet, as ek stil is, is dit omdat ek rus gevind het: ek wag op God, ek stel my verwagting op die goddelike Liefde. God is daar. ‘n Rots, ‘n Krag, ‘n Toevlug. Maar God weet ook dat woorde nie meer hoef te sê as ons openheid, ons oopheid teenoor God nie.
Miskien kan ons geen groter gebed bid as ‘n stil gebed, sonder woorde, sonder gepraat en gebabbel, gelaai met die stilte van rus en vertroue, vol van die wete dat geen taal onder woorde kan bring wat God vir my is nie (l.w. nie “doen” nie).
Dit gebeur tog baie in die gewone lewe: met die somer-vakansie is daar, langs die strand, die besige praat-tye. Dan woel en werskaf dit soos ons al die stories van die jaar inhaal en met mekaar deel. En dan is daar die stil tye. Dat ons mekaar se teenwoordigheid geniet. Sonder woorde. Met soveel vrede en rus in ons. En net soms, die treurige wete, dit is so kort, hierdie liefdevolle tye. En wanneer is ons tog meer volledige vervuld as in sulke tye? Sekerlik net wanneer ons by God is – en, gelukkig, dit kan elke oomblik van die dag gebeur.
Ek weet dit is ‘n flou vergelyking. Maar as dit waar is van ons verhouding met mekaar dat stilte ryk kan wees aan liefde, is dit beslis ook waar van ons verhouding met God. Gebed is immers, ook deur woorde, my liefdesverklaring aan God. Miskien sal ons meermale uitvind dat ons in stilte beter ons liefde wys as in woorde. Gebed hoef nie woorde te wees nie. Stilte kan sterker praat as die welluidendste taal.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2009
(275)
-
▼
October
(24)
- Klein groepe as geestelike dissipline: om die lewe...
- Drie maande van verryking om oor dankbaar te wees
- Gebed vir my ma
- Transformasie - son uit die as
- Nuut uit die puinhoop
- Die koei lok ons huis toe....
- Die stad met die ewige wonde. Berlyn.
- Nugter mistiek. Oor die mistiek van Thomas a Kempi...
- Stilte spreek harder as woorde: Oor Psalm 62
- Om stilte te bid.
- Stilte wanneer mense oor God praat
- Met watter houidng lees 'n mens die Bybel? Oor "he...
- Om te glo sonder om God te aanskou
- Liefde en verantwoordelikheid.
- Versorg die liefde.
- Liefde soek nie eie belang nie: oor die verantwoor...
- Die kosmiese Christus. Oor spiritualiteit en geest...
- Spiritualiteit as transformasie: hoe om opnuut wee...
- Liefde is waar geduld woon: Oor 1 Korintiërs 13:4.
- Om sorgeloos te leef. Oor die rykdom in eenvoud.
- Die blink oomblikke: bewuswording in spiritualiteit
- Oor sokker en seuntjies: buig die boompie as hy no...
- Die vrou en die kind
- Oor 'n spesiale dag: die skepping van God en mens
-
▼
October
(24)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.