Monday, October 19, 2009

Om stilte te bid.




(Pragtige foto met stilte as tema deur Gaute Bruvik)



Gebed, sê ons soms opreg gaan nie eintlik oor ons eie behoeftes nie, maar eintlik oor lof aan God. En aanbidding van God is inderdaad ‘n belangrike deel van ons geestelike reis. Om God te aanbid in verwondering, kan ons geestelike reis op baie maniere verryk. Dit word uiteindelik ‘n mistieke ervaring: Ons word aangeraak deur God, ons het daardie diepe, spesiale ervaring wat oor ons kom, ongevraagd, onverdiend en oorweldigend.

Uit ons binneste kom dan vloeiende, stromende woorde van lof en aanbidding oor wat met ons gebeur het. As ons só oor die spesiale oomblikke in ons lewens sing en bid en praat, gebeur daar ook al weer iets diepers met ons. Ons aanbidding van God, bring ons nog nader aan God. Ons gee uiting aan ons indrukke en gevoelens oor die goddelike aanraking en wanneer ons dit doen, word dit vir ons ‘n nog ryker ervaring. Dit is goed om deur God aangeraak te word. Om dan vir God te kan aanbid, in menslike woorde, word ook spesiaal omdat dit ook weer vir ons verdiep en verryk.

Dit is asof God ons woorde neem, ons gedagtes, ons gevoelens en ons ervaringe en dit heilig sodat ons nog meer verwonderd word oor sy teenwoordigheid in ons lewens en ook in ons aanbidding. Aanbidding is nie sommer maar net iets wat ons doen nie. Dit is ons ontmoeting met God waarin ons dieper ingeënt word in ons verhouding met God. Ons aanbid God omdat God ons aangeraak het – en dan, in ryke genade, raak God ons ook aan in ons aanbidding self.

Dit alles maak aanbiddingsgebed baie spesiaal. Nie net omdat bloot omdat dit daarin nie meer oor onsself gaan nie, of bloot net omdat dat dit daarin oor God gaan nie. Die aanbiddingsgebed maak ons bewus dat alles wat ons doen, ook ons dank aan God, uiteindelik deur God geneem word en heilig gemaak word.

Dit is genoeg om ons te laat stil word voor God. Daar kom tye dat ‘n mens besef alles wat met jou op jou geestelike reis gebeur kan eintlik nie regtig in woorde uitgedruk word nie. En iewers weet ons ook dat ons soms vir God nie na waarde of in woorde kan loof en aanbid nie.


Wat my laat dink aan Psalm 131. Dit is ‘n merkwaardige Psalm. Die Psalmdigter het min woorde. Hy gebruik skaars dertig . “o Here, my hart is nie hoog en my oë nie trots nie; ook wandel ek nie in dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie. 2 Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos ’n gespeende kind by sy moeder, soos ’n gespeende kind is my siel in my. 3 Wag op die Here, o Israel, van nou af tot in ewigheid!”


Dit is ‘n aanbiddingslied waarin die mens se ewige afwagting uitgebeeld word, maar eintlik vertel hy vir die Here bloot net dat hy stil geraak het. Hy vind hierdie stilte so belangrik dat hy dit met ‘n beeld wil benadruk. Hy is so stil en rustig soos ‘n baba, gevoed, by die moeder.


Hier word eenvoudigweg net gebid:


Here, ek is stil by U. Here, my gepratery het ek tot ‘n einde gebring. Here, ek is nie besig met al die “belangrike” dinge nie.


En dan die oorweldigende slot van hierdie Psalm, so gepas vertaal in die Ou Afrikaanse vertaling: Gelowige mense, “wag” op die Here. Julle hoef nie vreeslik te bid, te sing, te prys, te loof nie. “Wag stil, wag in vrede, in woordeloosheid.” Ander Bybelvertalings vertaal meestal met : Hoop op die Here, maar in die lig van die vorige gedeelte is dit beter om te vertaal: Wag op die Here.


Daar is tye, en dikwels is dit die dieper tye op ons geestelike reis, dat ons nie baie woorde het nie. Dat dit vir ons goed is om in stilte by God te wees. Dit is ons hoop, ons verwagting. Om by God te wees, is om verby alle woorde te beweeg.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive