Thursday, October 22, 2009

Die stad met die ewige wonde. Berlyn.

Op pad terug van ons konferensie in Nijmegen (vorige inskrywing) reis ons oor Berlyn. Ek was laas voor die hereniging van die stad daar en wou nou al vir ‘n hele paar jaar weer daar uitkom.

Ek is nie teleurgestel nie. Berlyn is nou ‘n pragtige stad. Die ou deel, vaal en grys en donker in die dae van die Duitse Demokratiese Republiek (!), is nou vol pragtige nuwe geboue.

Dit is eintlik ironies: die westerse deel is nou die ouer, moeër deel, terwyl die kommunistiese deel nou vol nuwe geboue is – pragtig ontwerp.

Maar as jy onder die oppervlakte kyk is Berlyn ‘n diep verwonde stad. Dit is wonde wat deur haat en onmenslike haat en geweld veroordsaak is. Die troos is dat die Berlyners weet om hierdie wonde nie weg te steek nie. Dit word gewys en oral herinner dit ‘n mens aan die innerlike donkerte wat in menseharte woon, wat so maklik tot die uiterste vorme van geweld kan omslaan.

Ek word vanoggend wakker en luister na ‘n Duitse program oor ‘n nuwe instituut wat hier naby Regensburg opgerig is vir die studie van Nazisme. Daar is ‘n onderhoud met ‘n vrou wat onthou hoe mal mense gegaan het tydens die Hitler tydperk. Mense, vertel sy, het hulleself heeltemal te buite gegaan in hulle histeriese reaksie. In ons dorp het sommiges vir weke nie hulle hande gewas nadat hulle met Hitler hand geskud het nie. “Malligheid,” sê sy, “almal was waansinnig.”

Haar woorde herinner my aan ons besoek aan die Joodse museum verlede Sondag in Berlyn. Wat ‘n uitsonderlike gebou. Die inhoud is gewoon: wonderlike, interessante inligting oor die Joodse geskiedenis en godsdiens. Maar dit is die ontwerp van die argitek Liebeskind wat ‘n mens oorweldig. Die eenvoudige, maar aangrypende ontwerp van die gebou is een van die oorweldigende ervarings in my lewe. Ek neem foto’s (sien hieronder), maar net ‘n besoek kan reg laat geskied aan die simboliek wat hy in sy gebou uitbeeld nie.

Ek loop verwonderd deur die gebou, diep geraak deur die argitektuur. Dit word byna 'n mistieke ervaring.

Juis oor die besondere gebou wat my 'n gevoel van innerlike rouheid gee, is die uitbeelding van die Shoa, die Jode-slagting, vir my opnuut weer ‘n slegte ervaring. Daar is naby die ingang eenvoudige items van individue in glaskaste uitgestal: Joodse gelowiges wat omgekom het se dokumente en briewe. ‘n Brief van ‘n vrou wat aan ‘n vriendin skryf hoe sleg sy behandel word in die kamp, maar ‘n tweede brief aan haar dogter met minder detail om die dogter nie te ontstel nie. Mense wat briewe in die treine op pad na die kampe waar hulle geëkstermineer is, uitgooi in die hoop dat dit hulle families sal bereik. En die baie foto’s vertel grafies en genadeloos van eindelose geweld en vernietiging.

Dit kan tog nie, dink ek, terwyl ek dit bekyk, ooit weer gebeur nie. En dan, later, by Checkpoint Charlie, die ou grenspos waar ek baie jare terug nog ‘n foto geneem het, sien ek ‘n uitstalling langs die straat van die duisende mense wat doodgeskiet is omdat hulle na vryheid oor die muur wou vlug. En later dink ek aan ons eie land met sy verlede, aan die moord op 20 000 Nedebeles in 1985 in Mashonaland deur Mugabe-handlangers, aan die waansinnig xenofobiese moorde verlede jaar, en nog later, aan die massa-slagting in Rwanda waarby die Weste hande gevou gestaan en toekyk het. En ek dink aan die slagting in Srebrenica toe Nederlandse en V.V. soldate niks gedoen het om te keer dat meer as 8000 mans deur Serviërs vermoor is nie.

Daar is niks ergers aan mense wat hul menslikheid verloor nie. ‘n Geperveteerde menslikheid is ‘n dodelik gevaarlike verskynsel.

Ons hotel, netjies en modern, vind ons later uit, staan waar die muur gestaan het. ‘n Mens sou dit nooit dink nie. Maar die Berlyners het die muur se spoor behou deur ‘n dubbel ry bakstene: en daar sien ‘n mens dit duidelik rondom ons hotel.

Wat ‘n simbool.... Om elke dag te onthou hoe kosbaar vryheid is. Of nog meer: hoe belangrik menslikheid is. Berlyn wys hoe diep die wonde van die wêreld is....




Die plek waar die muur gestaan het wat Oos en Wes-Berlyn geskei het, is gemerk deur 'n paadjie van dubbel bakstene wat in die pad ingebou is. Dit loop regs op die foto tot onder die motors wat in die verste geparkeer is.




As 'n mens nie daarvan weet nie en ook nie mooi kyk nie, sal jy nie die ry bakstene sien wat al om die sypaadjie kronkel en wys waar die muur gestaan het nie:




In die museum het Liebeskind kamers ontwerp wat heeltemal leeg is om die afwesigheid van Jode in die Duitse gemeenskap te simoliseer:





In een so 'n kamer is daar 10 000 metaal gesigte op die vloer - 'n ontwerp van die kunstenaar Radeshna. Dit heet "Gevalle blare" en simboliseer slagoffers van oorlog en geweld. 'n Wag het vir my kom vertel besoekers mag maar op die metaal-gesigte loop. Die koue metaal-klanke bly hang in my gemoed.





Hierdie foto's met lyke, gevangenes en mense wat afgevoer word, is ingebrand op ons kollektiewe geheue:





Hy was in 1962 18 jaar oud toe hy saam met 'n vriend na Wes-Berlyn gevlug het. Die soldaat wat hom doodgeskiet het, is 'n ruk gelede tot een jaar gevangestraf veroordeel. Sy naam was Peter Fischer. Net 18 jaar oud. Na vrede:


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive