Saturday, October 17, 2009

Met watter houidng lees 'n mens die Bybel? Oor "heiligheid" as vereiste vir die verstaan van die Bybel.




Die vraag word baie gevra: Hoe lees ‘n mens die Bybel? Maar voordat 'n mens selfs kan dink om daarop antwoorde te gee, moet 'n mens eerder vra: met watter houding lees ek die Bybel?



Die modern Bybelwetenskap het begin toe lesers van die Bybel begin redeneer het dat die Bybel ‘n baie menslike boek met ‘n menslike gesig is. Daar is met verloop van tyd deur Bybelwetenskaplikes en Bybel-lesers al hoe meer beklemtoon dat ‘n mens die Bybel moet lees soos enige ander boek.

Vir baie mense was dit hoogs bevrydend. As ‘n mens dit doen, word baie probleme vir jou opgeklaar, het hulle gesê. En wanneer ‘n mens die menslike kant van die Bybel uitwys, doen ‘n mens niks anders as wanneer ‘n mens van Jesus se Inkarnasie praat nie – want die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons kan die Woord sien, hoor, voel. Dit is in ons taal. Ons verstaan dit. Dit praat van mens tot mens met ons.

En om dit te sê beteken ook nie dat ‘n mens ontken dat die Bybel ‘n boek van geloof en vir geloof is nie. Dit is ‘n boek waarin mense oor eeue heen vertel, op ‘n menslike manier, hoe God in hulle lewens alles omgekeer het. Soms het hulle gesukkel om dit te doen (Prediker!) en soms het hulle met groot sekerheid en ekstase die goddelike boodskap ervaar en oorvertel (Pinkster!).

Die Bybel as geheel wys hoe baie mense oor baie eeue heen hul geloof bely het in ‘n God wat na die mensdom uitreik en hulle total transformer. Mense vertel van goddelike ervaringe op ‘n menslike manier.

En tog, hierdie “menslike” kant is onder ernstige Bybelstudente al hoe verder ontwikkel totdat in resente tye ons al hoe meer van die Bybel as “teks” begin praat. Met die retoriese en literêre benaderings tot die Bybel, praat ons van die Bybelboeke as geskrewe dokumente wat op ‘n spesiale manier opgebou is. Hiermee begin ‘n proses wat al hoe meer daartoe lei dat die Bybel “woorde” word, geskrewe tekste is, wat as ‘n “objek” voor ons lê, waarop ons allerhande operasies uitvoer en wat ons haarfyn ontleed en uitmekaar haal.

Ons praat dus vandag graag en aanmekaar van die Bybel as “boek,” “teks,” verhaal” of storie.” En daar is nie iets daarmee verkeerd nie, want dit is goed dat ek die Bybel reg lees.

Maar dit is iewers ‘n lastigheid as ons nooit verder as dit kom nie. Ons fyn lees word dikwels ons operasie op die Bybel, sonder dat ons bereid is om deur die Bybel gesny en gevorm te word – om te luister.

Ons moet onthou dat taal werklikheid skep. Om van die Bybel as teks te praat, kan maklik ‘n werklikheid skep waarin die Bybel ‘n objek is wat ek op die dissekteer-tafel hou en fyn ontleed, waar ek die hef in die hand het en die laaste woord spreek. Waar my behendige lees die alfa en die omega is.

Tog wil die Bybel baie meer as ‘n boek wees. Dit is veral ‘n versameling woorde: Aan die een kant is dit ‘n boek waarin ‘n mens die stem van God hoor, wat die “woord van God” is. Aan die ander kant is dit boeke van woorde van mense: van Jesaja, Sagaria, Matteus, Markus, Paulus en Jakobus. Hulle is aan die praat, in menslike vorm, maar oor hoe God hulle aangeraak en verander het.

In ons daaglikse lewe is dit net ordentlik om, wanneer iemand met jou praat, met respek te luister. ‘n Mens gee ‘n persoon graag kans om te praat, veral wanneer ‘n mens sien dat daardie een met jou persoonlik gesels, dat sy of haar hart vol is en dat hulle graag met jou wil kommunikeer. Ons luister met aandag wanneer iemand uit die hart uit met ons praat. Ons respekteer dit. En ons voel al geraak daardeur dat ons so iemand se innigste ervaringe kan deel. Ons is bevoorreg - ons sien ‘n kant van daardie person wat ons andersins nie ervaar nie of ons sien wat ander mense nie kan deel nie. Dit is daarom van nature so dat wanneer ons by iemand is ons oop is vir wat hulle sê. Ons is in mekaar se “geselskap” waar ons ‘n pad met mekaar stap.

As ons op so ‘n manier in die alledaagse lewe na mense luister, is die minste wat ons kan doen om met dieselfde respek en eerbied na die mense te luister wat in die Bybel aan die woord is.

Dit klink nou so fyn en goed en normal. Maar dit is nogal ‘n ding om te doen. Mense vind dit moeilik om te luister. Maar mense wat regtig weet, weet ook dat dit nogal ‘n waagstuk is om met ander te praat. Deur na iemand wat met my praat te luister, stel ek myself bloot. Ek kan deur die ander Persoon se woorde geraak word. Hulle woorde kan by my bly vir die res van my lewe, of by my vir altyd spook, my verander, my ontnugter, my bly maak. Dan ontdek ek dat ek nie altyd die hef in die hand het nie, die baas van my insigte en my verstaan is nie.

Dit gebeur ook wanneer ek na Bybelsprekers luister. As hulle met my praat, met woorde wat oor God gaan en wat van God af kom, is ek op heilige grond. Dan is dit skoene-uittrek tyd, tyd om terug te staan voordat die vuur van heiligheid uit die sprekende, brandende bos my verteer. ‘n Mens moet onthou dat jy in hulle woorde in die teenwoordigheid van die heilige, die onpeilbare gebring word.


Daarom moet ‘n mens heilig wees. Anders kan ons nooit reg laat geskied aan die Een wat met ons praat nie. “Spreek, Here, ek luister…”

Dit is nie ‘n populêre ding om te sê nie, veral nie in die wetenskap nie: dat ‘n mens heilig moet wees om deur die Bybel geraak te kan word. En dan nie "heilig" in die sin van iemand wat 'n vroom string prestasie kan inryg voor God nie, maar heilig in die sin dat ek, soos die tollenaar, weet ek is in die teenwoordige van wat heilig is en heilig maak.

Seker is die Bybel ‘n teks, ‘n geskrewe woord, ‘n teks in wit en swart letters. Maar dit is die teks van iemand wat in die woorde aanwesig is, van Iemand wat deur die woorde praat. Daarom is dit dalk verstandiger om eerder te praat van die woord van die lewe, die ewige woord, die woorde van God, die kanonieke woorde. Met hierdie woord word ons op ‘n heilige reis geneem. Ons kan die woord nie optel en lees sonder die nodige respek en verantwoordelikheidsin nie.

Dit is tog ‘n ding: daardie oomblik wanneer ek die Bybel optel en oopmaak om dat mense met my oor God praat!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive