Die vroegste Christelike mistici het die geestelike reis gesien as ‘n pad waarop ‘n mens moet kan afgee, laat gaan, afstaan eerder as wat ‘n mens opeis, toeëien, vergader. Hulle reis was letterlik in die woestyn in, weg van die beskawing met al sy sagte beddens, boordevol borde kos en gemaklike lewensstyl.
Vir hulle was liefde, vergifnis en ontferming sentrale deugde, maar hulle het ook besef dat ‘n mens verhinder kan word om lief te hê, om te gee en jou te ontferm. Deur jou verkleefdheid aan sekere dinge, kan ‘n mens neig om eerder in te samel as uit te deel, vas te hou as te laat gaan.
Ons het ‘n innerlike neiging om ons hande vas te klem in eie belang eerder as om dit uit te hou in mededeelsaamheid en meelewing. Om te laat gaan, bring vryheid van hierdie drang, hierdie verkrampte vashou aan ‘n gemaklike, oordadige en bevoorregte lewe.
Dit is wonderlike ideale en pragtige woorde om te sê dat ‘n mens moet kan laat gaan. Die praktyk wys dit is nie so maklik nie. Dit vra op ‘n seker manier inspanning. Om te laat gaan, vra dat ‘n mens met groot geduld en toewyding hard moet werk aan sekere innerlike struikelblokke.
Dit is nie net ‘n kwessie van vriendelikheid en omgee en liefdadigheid nie – al word dit alles sekerlik bedoel. Meer is op die spel: ‘n Mens moet die moeilike pad stap om jou woorde te tel en om sag te wees waar ‘n mens van nature kwaai en selfbeskermend is. Dit beteken ook dat ‘n mens lankgekoesterd vooroordele teenoor ander moet kan opgee. En dan, seker ook een van die heel moeilikste dinge: ‘n Mens moet mag kan opgee. ‘n Mens moet op ‘n punt kom dat jy moet begryp ander mense kan nie optree, leef en reageer soos jy dink hulle moet nie.
Die geestelike reis vra van ons om te aanvaar dat mense saam met ons gaan terwyl hulle anders as ons is, dink en optree. Ons moet daarom gedurig op die hoede wees hoe ons oor ander dink en wat ons van hulle vra. Ons moet ook maar versigtig kyk na hoe ons oor onsself en ons posisie onder mense dink. Ons is dalk nie so in beheer soos wat ons vermoed het nie. Ons kan ook nie regtig ander mense laat doen wat ons dink hulle behoort te doen nie. En ons is eintlik ook nie so belangrik soos wat ons graag wil dink en wees nie.
Maar een van die heel belangrikste geestelike gawes is dat ons ons sorge moet kan loslaat. Dit is veral vandag meer as ooit waardevol om te hoor hoe Jesus met ons praat oor die kommer en sorge van die lewe. Waarom kwel julle jul oor die dag van môre, is sy tydlose vraag. Kyk net na die diertjies van die veld wat sorgeloos van dag tot dag lewe. Hulle word versorg deur die Hemelse Vader.
En as ons hierdie sorge kan agterlaat, kan vergeet, kan aflê, verdwyn die spanning en gejaagdheid en gedrewenheid uit ons lewe. Dan ondermyn ons in die naam van die Here almal en alles wat ons dryf en jaag om te doen wat hulle wil dat ons moet doen. Dan luister ons na die wil van die Here en doen ons nie die uitbuitende wil van die baie base in ons lewe nie. Ons moet eenvoudig ons sorge kan laat gaan, verby al die druk op ons kan leef.
Natuurlik kan dit alles nog praktieser raak: ons moet ons kan instel daarop dat ons eenvoudiger kan lewe, sonder al die baie besittings wat ons so onnodiglike en oorvloediglik en gretiglik, selfs gieriglik, insamel en “besit.” Of ons kan in eenvoud besluit om minder te eet, minder luuks, minder oordadig, met meer oorwoëndheid te leef.
Dit alles vra bewuste keuse en daadwerklike optrede. Maar dit bring wonderlike vryheid. In die eenvoud van ‘n nuwe lewe, sal ons dan ook leer om alles wat ons het, te waardeer en eg te geniet. Ons lewe in eenvoud bring ons dan tot groter genot, groter waardering en dankbaarheid vir alles wat ons het wat ons lewe tog mooi en volledig maak. Deur te laat gaan, te los, ons krampagtige hande te ontspan, ontdek ons dalk groter skoonheid as wat ons gedink het of tot dusver beleef het. Miskien is die heel grootste blydskap as ons dan ontdek, ironies, dat ons alles kry waarna ons so gesmag het met ons krampagtige greep op die lewe. As ons laat gaan, kom alles waarna ons verlang het, en nog meer, ongevraagd in ons lewe. Wie sy lewe verloor....
Thursday, October 08, 2009
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2009
(275)
-
▼
October
(24)
- Klein groepe as geestelike dissipline: om die lewe...
- Drie maande van verryking om oor dankbaar te wees
- Gebed vir my ma
- Transformasie - son uit die as
- Nuut uit die puinhoop
- Die koei lok ons huis toe....
- Die stad met die ewige wonde. Berlyn.
- Nugter mistiek. Oor die mistiek van Thomas a Kempi...
- Stilte spreek harder as woorde: Oor Psalm 62
- Om stilte te bid.
- Stilte wanneer mense oor God praat
- Met watter houidng lees 'n mens die Bybel? Oor "he...
- Om te glo sonder om God te aanskou
- Liefde en verantwoordelikheid.
- Versorg die liefde.
- Liefde soek nie eie belang nie: oor die verantwoor...
- Die kosmiese Christus. Oor spiritualiteit en geest...
- Spiritualiteit as transformasie: hoe om opnuut wee...
- Liefde is waar geduld woon: Oor 1 Korintiërs 13:4.
- Om sorgeloos te leef. Oor die rykdom in eenvoud.
- Die blink oomblikke: bewuswording in spiritualiteit
- Oor sokker en seuntjies: buig die boompie as hy no...
- Die vrou en die kind
- Oor 'n spesiale dag: die skepping van God en mens
-
▼
October
(24)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.