Monday, November 16, 2009

Calvyn en die kontemplasie van God: oor die visio Dei se rol in egte self-kennis

Calvyn se Institusie, wat dikwels as sy “teologie” beskou word, begin met opmerkings wat direk met spiritualiteit te doen het. Daarmee word die pastorale, maar ook die geestelike instelling van Calvyn se teks uitgewys.

Hy begin sy werk sommer in die tweede paragraaf met hoe ons ons geloof in ons eie oë opsom en kontrasteer daarmee hoe ons eintlik na onsself moet kyk. As ons na onsself kyk, kan ons dit volgens menslike maatstawwe doen. Maar egte geloof vra dat ons na onsself moet kyk vanuit ons ervaring van God.

Dit is opvallend dat Calvyn sy Institusie begin met die motief van die kontemplasie van God – ‘n belangrike woord in spiritualiteit. Dit verteenwoordig die diepste moment in die mistieke ervaring: dat die mens bewus is dat hy of sy in die teenwoordigheid an God is.

Calvyn was veral skepties oor ons gebrek aan self-kennis en die vernietigende gevolg wat dit het. Ons het so ‘n hoë dunk van onsself, van ons eie wysheid, regverdigheid en heiligheid. Die enigste manier hoe ons tot ‘n egte kennis van onsself kan kom, skryf hy, is wanneer ons ons gedagtes op God rig. Eers dan herken ons ons eie onheiligheid.

Hier volg die gedeelte soos dit in die Institusie voorkom. Kyk net hoe hy herhaaldelik ons geloofservaring aan die visio Dei bind – aan die visie op God. Egte self-kennis kom net tot ons in die lig van ons verhouding met God. Eers as ons God ervaar, sal ons ons ware self kan herken:

“‘n Mens bereik nooit egte self-kennis totdat ‘n mens die gelaat van God gekontempleer het nie en dan na hierdie kontemplasie na jouself kyk. Want met ons ingebore trots sien ons onsself altyd as regverdig, opreg, wyse en heilig, totdat ons deur die duidelike bewyse agterkom ons is eintlik eerder korrup, boos, dom en onrein. Ons sal eers oortuig word as ons nie net na onsself kyk nie, maar ook na die Here. Hy is die enigste maatstaf waarvolgens ons tot hierdie oortuiging kan kom. ... As ons op die middaguur na dinge om ons kyk, dan dink ons ons sien alles helder en presies. Maar as ons na die son kyk, besef ons eers hoe aardse voorwerpe na niks lyk in vergelyking met die helder son nie. Solank as ons nie anderkant die aarde kyk nie, is ons tevrede met ons eie regverdigheid, wysheid en deug. Dan praat ons oor onsself met groot lof en lyk ons vir onsself byna na half-gode. Maar as ons eers ons gedagtes na Bo rig, op God en nadink oor wie God is en hoe absoluut volmaak die regverdigheid en wysheid en deug is waaraan ons moet gelykvormig word, sal dit wat ons voorheen soveel plesier gegee het, besoedeld in die ergste graad wees. Die wysheid wat ons so hoog geag het, sal vir ons dwaasheid wees. Die krag van die deugde sal ons as die aakligste swakheid beskou. So ver is al die kwaliteite wat ons so hoog aangeprys het, in werklikheid verwyder van die goddelike reinheid. “

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive