Sunday, November 22, 2009

Verstom. Rembrandt se 1628 skildery van die Emmaus-verhaal



In 1628 skilder Rembrandt sy eerste weergawe van die Emmausgangers (tans in die Musee Jacquemart-Andre in Parys). Weer eens teken hy Jesus aan tafel - maar hierdie keer is die skildery so dramaties soos wat die ander een (sien gister se blog) stil is. 'n Mens ervaar die innigheid van die ander, latere weergawe intens as 'n mens dit vergelyk met die 1628 skildery.

In hierdie skildery sien die dissipel met skok saam met wie hy aan tafel is. Hy steier terug onder die aanslag van die herkenning.

Dit laat my dink aan 'n belangrike moment in spiritualiteit: wanneer God ons aanraak, die oomblik van herkenning, kan skroeiend wees. Al is dit bevrydend, al transformeer dit ons, is dit nog steeds 'n "ontsagwekkende" gebeurtenis.

Die ontsagwekkende aanraking van die ontsaglike God. Dit bring ootmoed. Maar dan: om te dink - dit raak my. Ek is aan tafel, in die goddelike teenwoordigheid, ek word in die binnekring ingebring. Ek is intiem verbonde aan die heilige.

Dit is iets om oor na te dink. My speurtog na skilderye oor die Emmaus verhaal is boeiend. Meer later.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive