Monday, November 23, 2009

Totius oor die dood.

Ek het al baie gedink oor hierdie gedig van Totius (sien hieronder) wat hy geskryf het na die dood van sy dogtertjie. ‘n Mens kry soms die gevoel, soos by Henri Nouwen, dat dit ‘n intens persoonlike ontbloting is, byna té persoonlik.

Maar iemand wat ‘n kind of ‘n mens wat hy of sy liefhet verloor het, sal die universaliteit van die gedig dadelik herken.

Die rou oor sy geliefde kind se dood is so intens dat die digter liggaamlike pyn ervaar. Dit is ‘n “kruisweg” wat hy moet gaan sedert sy dood is. En dit is soveel intenser omdat dit nooit ophou nie. Die seisoene kom en gaan, die daaglikse werksroetine gaan voort, maar immer is daar die ondraaglike, terugkerende, intense pyn van verlies. So erg is dit dat sy “lewe se glans” verdwyn. Des te erger as ‘n mens sien hoe liefdevol onthou hy sy kind: sy was ‘n brose vlinder. “’n Asempie wind kon haar vlerkies breek!” Om dan te dink hoe ‘n bliksemstraal haar neergevel het. Die manier waarop sy sterf, hierdie vlinder, maak die pyn erg.

Wat egter vir my die meeste aan die gedig tref, is die eensaamheid van hierdie lyding. Twee keer – aan die begin en die einde van die gedig – praat hy van sy pyn waarvan mense niks sien nie. Sy werk laat net ‘n “drywerstem” hoor. Wat hy elke dag ervaar, laat geen ruimte vir die erkenning van sy pyn nie. Hy omraam die gedig met die eensaamheidsmotief – niemand besef hoe stukkend sny sy verlies hom nie.

En selfs sy geloof is onder druk. Hier is geen gelowige aanvaarding van die dood of gelowige rou deur die digter nie. En hy toon ook geen heldhaftige voorbeeldige vroomheid van iemand wat hom neerlê by God se wil nie. Dit is asof hy geen perspektief meer oor het na Bo nie. Dit is ‘n ingekeerde lyding wat in intensiteit so akuut word dat hy nie tot die Here bid nie, maar vir homself sê: “Jou kind is dood met ‘n vreeslike dood!” Dit is pyn wat die oë dof maak, wat so op homself gerig is dat byna niks of niemand anders raakgesien word nie. Pyn en rou oorheers sy bestaan dag na dag.

Al “gelowige” uitspraak in die hele gedig is die skraal opmerking: “Die Here alleen die weet wat ek ly.” Maar selfs in hierdie opmerking is nie veel lig te vind nie. Al weet die Here, is sy pyn nog daar.

‘n Mens staan iewers oorstelpt voor hierdie lyding. ‘n Pa wat letterlik verskeur is deur verlies en wat iewers weet die Here weet van sy lyding – sonder dat dit vir hom, die bekende dominee en teoloog, troos. Al weet die Here, het die lewe se glans verdwyn. Hier praat die waardige Totius, dopper dominee en teoloog wat vanuit sy teologie sekerlik alles geweet het oor God se raadsplan. En as hy as gelowige met die dood gekonfronteer word, is sy woorde vol pyn, lyding, rou. Daar is nie kranse en bloeisels en Bybelversies wat uitgestal word nie.

Dit is verskriklik, in ‘n geloofskonteks gesien, dat ‘n mens so moet rou. Die dood bring onstuitbare pyn.

Daar is ook nog iets ironies aan die gedig: Wat mense normaalweg niks van sien nie, sy lyding in eensaamheid, word hier vir hulle uitgedig. Hierdie gedig roep dus sy lyding tot die wêreld uit. Maar, besef ‘n mens voorts, selfs dit bring nie verligting of ontlading nie. Deur die pyn so uit te skryf, word dit net skreinender.

Hier word gerou, eg gerou. Om met die dood gekonfronteer te word as gelowige bring jou in die diepste pyn. Hier is geen maklike antwoorde nie. Geen goedkoop troos nie. Geen kits-resepte om rou te verwerk nie.

Wat my weer en weer laat besef: die dood is inderdaad die laaste groot vyand (1 Kor.15:26). En wat ‘n mens weer laat nadink oor die basiese feit dat die Evangelie van Jesus gaan oor die lewe wat die dood oorwin. Dit maak die woorde van Paulus in 1 Korintiërs 15:55 so merkwaardig: “Dood waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Spiritualiteit hou rekening daarmee dat ons uiteindelike eenwording met God soms deur diepe pyn heen plaasvind. Dit is nie maklik nie: ons kan somtyds weet die Here weet van ons pyn. En selfs dan is dit geen troos nie. Iewers is daar 'n band met God, weet ons dat die Here weet van ons pyn. En tog....

Nooit, maar nooit mag ons maklik praat oor iemand se rou nie. En, soos Job se vriende uitgevind het, nooit, maar nooit mag ons maklike antwoorde probeer uitdink nie - veral nie deur daardie maklike antwoorde 'n vroom lagie godsdienstigheid te gee nie.

En wie dit weet, sal dan oorstelpt gaan staan by die kruis waar die Seun in rou na sy Pa uitgeroep het: Waarom het U my verlaat?




Hier is die gedig:


O die Pyn-gedagte

O Die pyn-gedagte: My kind is dood!...
dit brand soos 'n pyl in my.
Die mense sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die dae kom en die nagte gaan;
die skadu's word lank en weer kort;
die drywerstem van my werk weerklink,
en ek gaan op my kruisweg vort.

Maar daar skiet aldeur 'n pyn in my hart,
só, dat my lewe se glans verdwyn:
Jou kind is dood met 'n vreeslike dood!
en - ek gryp my bors van die pyn.

O die bliksemgedagte!...Ja, lieflingskind,
één straal het jou skone liggaam verskroei,
maar bliksemstrale sonder tal
laat my binneste brand en bloei.

Sy was so teer soos 'n vlindertjie,
sy't lugtig omheen geswerf;
'n asempie wind kon haar vlerkies breek
en - kyk watter dood moes sy sterf!

Hoe weinig die kinders wat so moet sterf,
dis één uit die tienduisend-tal.
en ag! dat dit sy was en ek moes sien
dat sy dood in my arms val!

O die pyn-gedagte: My kind is dood!...
dit brand soos 'n pyl in my;
die mense die sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive