Friday, November 13, 2009

Calvinistiese spiritualiteit - enkele voorlopige opmerkings

Vanjaar is die 500e geboortejaar van Calvyn. Terwyl dit baie aandag kry in lande waar die Calvinisme ‘n sterk invloed gehad het, is dit jammer dat ons so min nadink oor ons Calvinistiese tradisie. Binne spirtitualiteit is Calvinistiese spiritualiteit ook ‘n verwaarloosde tema, terwyl die Calvinisme ‘n sterk spirituele karakter het.

Vir Calvyn was een van die belangrikste uitgangspunte dat God die inisiatief neem om die mens met God te versoen. Lank voordat die mens bewus is daarvan, word die genade oor hom of haar uitgestort. Sonder die inisiatief kan ‘n mens nie die verhouding van God tot die mens verstaan nie. God begin, maar volvoer ook die redding van die skepping. Daarom volg die belangrikste motief in Calvinistiese spiritualiteit: “Soli Deo gloria” - - aan God alleen die eer, Dit is ‘n kerngedagte in die Calvinisme.

Hierdie sentrale motief hang saam met die diepe sondebesef wat ‘n mens in Calvinisme aantref: die mens is in sonde ontvang en gebore – en kan niks doen om hom- of haarself te red nie. Sonde is so deel van ons bestaan dat ons net gered kan word as dit van buite af tot ons kom. Sekere vorme van Calvinisme, soos die swartkouskerke in Nederland, lê groot klem hierop. Hulle het ‘n strenge en treurige siening waarin die sondigheid en die inherente neiging tot die kwaad sterk op die voorgrond staan.

Maar in die hoofstroom Calvinisme is daar net soveel klem op God se genade in Christus: ons het ‘n nuwe lewe ontvang deur die Middelaar. Hy bring en maak vir ons ‘n nuwe bestaan moontlik. Die sonde het nie meer ‘n onbreekbare houvas op ons nie. God gee boonop die Heilige Gees wat ons bemagtig om in heiligmaking te stry teen die mag van die sonde. Christus oorwin en lei vir ons in in ‘n oorwinningslewe.

Daarom is ‘n lewe van dankbaarheid so belangrik: omdat ons ten spyte van ons sondigheid soveel genade ontvang het, moet ons daadwerklik reageer en ‘n lewe van heiligmaking soek uit dankbaarheid vir die oorvloedige manier waarop ons geseën is. En ons doen dit nie net in ons geestelike lewe nie – Calvinistiese spiritualiteit beklemtoon dat ons op alle vlakke van die lewe heilig moet lewe. In ons familie, kerk, gemeente, skool, werk, sport, skepping, ekonomie en kultuur het ons die taak om ons verhouding met God daadwerklik uit te leef sodat God se naam op alle terreine van ons bestaan geëer kan word. Calvinistiese spirtualiteit is gerig op die realiteit waarin ons lewe. Dit is daarom ‘n realistiese spiritualiteit: dit aanvaar die wêreld is maar sleg sondig en dat hierdie sondigheid oral uitslaan. In ons stryd sal ons moet weet ons moet nooit te gerus wees nie. Al is die mag van die sonde gebreek en al werk die Heilige Gees met mag en mening onder en in ons, is die sonde nog ‘n gegewe en moet ons dit ten alle koste beveg.

Hierdie is maar enkele voorlopige gedagtes oor Calvinistiese spiritualiteit. Dit sal die moeite werd wees om dieper hieroor na te dink.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive