Wednesday, November 18, 2009

Biddende verlange: oor die Emmausgangers se mistieke ervaring

Ek is nog steeds geboeid deur nuwe dinge wat ek in die verhaal van die Emmausgangers in Lukas 24 raaklees. Hierdie keer gaan dit oor die twee dissipels se versoek aan Jesus om by hulle aan huis oor te bly. Soos dikwels in Lukas se werke, is sulke detail gelaai met simboliek.

By hulle aankoms in Emmaus, maak Jesus of hy verder wil reis. Waarop die twee dissipels by hom aandring dat Hy by hulle bly, “want dit is amper aand en die dag het gedaal” (vers 29).

Hierdie vers het ‘n spesiale band met die twee dissipels se ervaring toe hulle op pad na Jesus se uitleg van die woord geluister het. Hulle harte was brandende in hulle, vertel hulle later (vers32). Hulle het iets spesiaal ervaar, maar tog was hulle oë toe en hulle begrip traag. By hulle huis het hulle ‘n soortgelyke reaksie. Hulle herken Jesus nie. En tog voel hulle aangetrokke tot Hom. Hierdie man met sy spesiale woorde wil hulle nie toelaat om verder te reis nie. Hulle “dring aan” dat hy by hulle bly. Dit is eintlik 'n baie sterk versoek. Dieselfde woord word gebruik in Handelinge 16 in die episode oor Lidia, die purperverkoopster van Thiatire wie se hart deur die “Here geopen is” om ag te gee op Paulus se woorde. Sy is gedoop en toe het sy aangedring dat Paulus in haar huis kom bly. Sy het hulle "gedwing" (vers 15).

Om aan te dring op iets beteken hier ‘n baie intense versoek wat ‘n innige begeerte uitdruk. Die twee dissipels se versoek aan Jesus is dus ‘n baie dringende en verlangende begeerte dat hy saam met hulle in hul huis sal bly – al weet hulle nie regtig wie Hy is nie. Al is hulle dom (vers 25), bly hulle ten alle koste vashou aan Jesus. Hulle het aangevoel dat hulle iewers in 'n groter teenwoordigheid was as wat hulle werklik besef het.

Die eenvoudige versoek illustreer die motief van oratio, een van die fundamentele dimensies van die mistieke ervaring. Die mistieke ervaring kom net tot mense wat ‘n biddende verlange na God het, selfs al bid hulle in donkerte, onkunde, onsekerheid, somberheid en wanhoop. Hulle trae harte was ook brandende harte (vers 25).

Om Jesus uit te nooi, was hulle manier van bid in hul donker dae. Dit was hul “smeking:” "In ons donkerte, wil ons saam met Jou wees."

Iets mistieks was met hulle aan die gebeur. En dit het hulle biddende gehad.

Lukas wil vir ons laat weet dat hier iets kragtigs aan die gebeur was. Na die opstanding van Jesus het diepe begeerte na God by mense losgekom. Selfs hulle wat in onkunde vasgevang was, het die mistieke werking van God in hul lewens gevoel - en dit het hulle tot biddende reaksie gebring.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive