Saturday, November 07, 2009

Die Skrif laat ons harte ontvlam. Oor die rol van oratio in ons geestelike reis

Wanneer ons mediteer oor die Skrif, het Guigo gesê toe hy oor lectio divina geskryf het, is dit soos ‘n koei wat herkou. Die voedsel, die Skrifwoorde, word oor en oor herkou, gesmaak en geproe. En dit is wat ook gebeur in die verhaal van die Emmausgangers wanneer Jesus op pad vir hulle weer die Skrif verduidelik.

So dikwels tevore het Jesus aan sy dissipels vertel hoe die Skrif sy bediening en sy lewe illustreer en belig. En die twee Emmausgangers het iets daarvan onthou en verstaan: hulle praat van Jesus as profeet en as die hoop van Israel (Lk. 24:19-21. Maar Jesus vind dit tog nodig, hier in hulle tyd van krisis, om weer die voedsel te herkou. In verse 25-27 verduidelik hy daarom “wat in die hele Skrif oor hom gesê is.” Hy “mediteer” dus hier saam met hulle oor God se woord. Hulle somber gesigte, hulle wanhoop is rede genoeg om terug te gaan na wat die Here vir hulle in die Skrifte wil sê. Hulle menslike ervaring van hul verhouding met God moet weer aan God se woorde getoets word. Hulle spiritualiteit word na die hart van die saak teruggebring, na wat God se wil en woorde is. Dis tyd vir Bybelstudie!

En die “Bybelstudie” is kort. Heel eenvoudig hoor hulle dat Jesus se lyding in lyn is met die Skrif. Dit “moes,” soos die Bybel voorspel, gebeur. Maar dan volg daar meer, baie meer: Jesus se lyding het gebeur sodat Jesus in sy heerlikheid kon ingaan. Die woordjie vir “heerlikheid” ‘n besonder intense, gelaaide woord. In die Ou Testament is die woord “heerlikheid,” die kabod en dit wys op die oorweldigende teenwoordigheid van God. Die Emmausgangers het reeds vertel hulle het gehoor van ‘n engelvisioen dat Jesus “lewe.” Nou hoor hulle dat Jesus se nuwe lewe beteken dat Hy die heerlikheid van God ingaan.

Ons hoef nie te spekuleer oor wat hulle gevoel het toe Jesus in hierdie hoogs gelaaide taal met hulle gepraat het en sy boodskap oor die Skrifwoorde weer met hulle “herkou” het nie. Ons hoor later uit hulle eie mond hoe hulle oor hul unieke Bybelstudie gevoel het. Net nadat Jesus hulle so onverwags verlaat aan die einde van die verhaal, vra hulle vir mekaar, “was ons harte nie brandende in ons toe hy op pad met ons gepraat het en die Skrif vir ons geopen het nie?” (vers 32). Die woorde van Jesus wat hulle aanhoor, het hulle harte aan die brand gesteek. Die woorde van God het “in” hulle binneste innerlike vir hulle aangeraak, getuig hulle aan die einde van die dag teenoor mekaar. Die Woord van die Skrif het hulle getransformeer, het in hulle ‘n diepe begeerte geplant. En om te begeer, is om verlangend tot God te bid. Hulle harte het in gebed ontvlam. Dit is wat ons in die spiritualiteit as “oratio” ken – die biddende reaksie op God se worod. Wanneer ‘n mens oor die Skrif mediteer en Jesus self daarin met ‘n mens hoor praat en ‘n mens in jou innerlike aanraak, breek jou hart oop in gebed. Dit weet ons uit hul eie getuienis, het met hulle op pad na Emmaus gebeur.

Soveel kere het hulle die ou, ou boodskap gehoor. Maar hierdie keer, op weg na Emmaus, het dit in hul harte ingesink op so ‘n unieke manner dat hulle nie van Jesus kon afskeid neem nie en na Hom bly uitreik het. Daarom nooi hulle Jesus uit om by hulle te oornag – wat ‘n simbool is vir hulle biddende reaksie op Jesus se Bybelklas. En hoe sterk is hulle begeerte na Hom nie: “Hulle het sterk by hom aangedring, ‘Bly by ons’” (vers 29). En so sterk het Jesus in die sentrum van hul bestaan ingekom deur sy Bybeluitleg, dat toe hulle die maaltyd reggemaak het in hul huis in Emmaus, Jesus die rol van die gasheer gespeel het en die brood gebreek en gebid het. Ons hoor hier iets van Petrus se gebed na die voetewassing: Here, nie net my voete nie – ook my hele liggaam. Hulle weergawe is: “Here gee vir ons meer as net ‘n Bybelles. Bly by ons... Word ons gasheer...” Die herkou van die voedsel, het ‘n groter honger in hulle laat ontbrand en ‘n krag in hul lewens losgelaat wat nie meer gestuit sou kon word nie.

Hierdie twee dissipels het ‘n bestaanskrisis ondervind. Alles om hulle het in duie gestort. Hulle is oorweldig deur somberheid en wanhoop. Maar in ‘n gebaar van genade ontvang hulle die gawe van God se Teenwoordigheid, se heerlike Presensie, skaars herkenbaar. En tog was God daar – in Jesus en in die Woorde van alle tye. In die donker nag van hul siel, in hul donkerste oomblik het ‘n vonk ontbrand en hulle hart laat ontvlam. “Gee ons meer,” “bly by ons,” “voed ons,” “moenie uit ons lewens weggaan nie, want by U is die woorde van die lewe.”

Hoe merkwaardig. Die Gees kom ons tegemoet en, selfs al weet ons dit nie, bid die Gees in ons. Ons wandel in die duisternis met die gevoel God is nie daar nie – al begeer ons tog God se teenwoordigheid. En al die tyd, al die tyd, is God by ons. In ons biddende verlange, is God daar. En waar ons ook al aan God se woorde vashou, moet ons harte in gebed ontvlam.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive