Tuesday, November 03, 2009

Elke dag is 'n goddelike vandag. Oor die durende teenwoordigheid van God in ons lewens.

As gelowiges sien ons uit na die toekoms wanneer, glo ons, ons by God sal wees. Dit is die tyd dat ons trane afgevee sal word, ons pyn oor sal wees en ons die teenwoordigheid van God sal ervaar.

Ons neem hierdie hoop oor van Jesus, wat dikwels daaroor gepraat het.

Maar ons kan so op die toekoms gerig wees, dat ons ‘n interessante aspek van Jesus se bediening miskyk. Jesus praat dikwels oor hoe God reeds in ons lewens ingekom het en besig is om alles nuut te maak. Hy doen dit heel eenvoudig wanneer hy praat oor redding wat “vandag” aangebreek het. In die Lukas Evangelie is Jesus gedurigdeur verbind met die woordjie “vandag” - meer as in die ander evangelies.

“Vandag is die Saligmaker vir julle gebore in die stad van Dawid” hoor die skaapwagters as Jesus se geboorte vir hulle aangekondig word (Lk 2:11).

“Vandag is hierdie Woord in julle ore vervul” hoor die sinagoge-gangers in Lk.4:21.

“Vandag het ons ongelooflike dinge gesien,” roep die skare uit na ‘n wonderdaad van Jesus en aanbid God.

“Vandag moet ek by jou tuisgaan,” sĂȘ Jesus vir Saggeus en voeg dan later by: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom” Lk.19:5 en 9).

“Vandag sal jy saam met my in die paradys wees,” beloof Jesus die man wat saam met hom aan ‘n kruis hang (Lk.23:43).

Goddelike redding soos ons dit so duidelik in Jesus sien, goddelike genade, die liefde van God, word aan mense nou in die hede gegee. Ons ervaar God se teenwoordigheid hier en nou.

Elke dag van ons bestaan, is God by ons: in die vrolike, bly tye wanneer ons ‘n geboorte vier, in die merkwaardige tye wanneer ons ongewone dinge sien gebeur, in die tye van ons verlange as ons deur ons sonde oorweldig voel, en in die tye van desperaatheid waneer ons die dood in die gesig staar.

God woon nie ver van ons nie, maar kom ons lewe binne. God sit nie en wag tot die eindtye om met ons ‘n verhouding aan te knoop nie. God is nie afwesig vir hulle wat op God se liefde reageer nie. Ons wag nie meer vir God nie. God is by ons. Elke dag is ‘n goddelike vandag (Welzen 179).

Wanneer ons in die Gees lewe, is ons bewus van God wat vandag by ons is. Waar ons ook al mag gaan en wat ons ook al mag ervaar, daar is nie ‘n oomblik dat God se goedheid nie by ons is nie. God se verhouding met ons bestaan voortdurend, elke dag van ons lewe.

Daarvan kan ons gedurig bewus wees. Dit is rede genoeg om God te aanbid in verwondering en in dankbaarheid.

Om te dink: daar is nie ‘n oomblik dat God in alle heiligheid by ons woon nie. Nou al. En hoe kan ons anders as om liefdevol in reaksie op God se durende teenwoordigheid ook in heiligheid te leef nie?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive