Monday, November 09, 2009

Die Gees spreek deur die Woord: oor Spiritualiteit en Gereformeerde Spiritualiteit

Spiritualiteit, kom ek agter, is in meer as een opsig vir mense ‘n vreemde woord. Hulle vind dit vreemd. Dit is ook 'n nuwe woord wat eers in die afgelope paar jaar na vore gekom het om oor die geloofservaring te praat. En soos met alle vreemde woorde lok dit nogal misverstand of negatiewe gevoelens opl. Ek lees juis gister in 'n kerkkoerant 'n totaal verwarde opvatting van spiritualiteit as so 'n vae gevoel van "geestelikheid." Ek hoor selfs dat mense meer as normaalweg sukkel om die woord uit te spreek.

En tog is dit eintlik ‘n heel bekende woord as ‘n mens dit verbind met die Engelse “Spirit.” Dan het spiritualiteit te doen met ‘n geestelike lewenswyse, or ‘n lewe in ooreenstemming met die Heilige Gees of onder die leiding van die Gees. "Heiligmaking" sou iets van die betekenis na vore bring. ‘n Woord soos “hermeneutiek” wat in elke teoloog of predikant se woordeskat voorkom, word dan spirituele hermeneutiek – of uitlegkunde wat ‘n geestelike karakter het.

Daar is onder verstarde denkers nogal ‘n vooroordeel teenoor “spiritualiteit” want hulle verwar dit heel verkeerdelik selfs nog met “spiritisme” as iets wat te doen het met oproep van geeste. Spiritualiteit het niks daarmee te doen nie. Of hulle dink Spiritualiteit is ‘n Geesdrywery en dit het te doen met bonatuurlike, emosionele opsweping van gevoelens. Spiritualiteit het ook nie hiermee te doen nie. Nog ander dink Spiritualiteit as ‘n lewe na die Gees kan ‘n klomp skynheiligheid tot gevolg hê, want dan val die klem op die mens se geloofsprestasies en is daar ‘n uitstellery van die mens se goeie werke.

Onder mense uit ‘n gereformeerde tradisie is daar ‘n sekere manier van geloofservaring wat al lank gevestig is. Dit sluit in om elke dag in die oggend en/of in die aand Bybel te lees en te bid. Dit is ‘n mens se persoonlike geloofslewe waarop daar groot klem gelê word. Maar ook baie kenmerkend van ‘n Gereformeerde Spiritualiteit is om saam as familie “boeke te vat.” En in vroeëre tye het mense hul vroomheid heel konkreet uitgedruk deur te kniel by die bed of by die etenstafel. Dit is tipiese kenmerke van Gereformeerde Spiritualiteit - 'n "vroom" mens leef op so 'n "vroom" manier. Nog ‘n belangrike vorm van Spiritualiteit is die bywoning van erediense op ‘n Sondag waar die preek as uitleg van God se Woord ‘n groot rol speel. Iemand wat nie kerk toe gaan nie, word as “kerklos” of “onverskillig” beskou. ‘n Gereformeerde vroomheid sal kerkgang hoog op die lys van vroomheidspraktyke stel.


Daar is nog ander vorme van Gereformeerde Spiritualiteit. Wat so interessant is, is dat die vorme wat hierbo genoem is, almal fokus op die “Woord van God.” In die hart van Gereformeerde Spiritualiteit staan die klem op die Bybel as God se woord aan gelowiges. Die Gees werk deur die Woord en nie op allerhande ongekontroleerde maniere nie. Daar is nie ‘n direkte, ekstatiese ervaring naas die Woord nie.


Hirdie is net enkele opmerkings oor 'n kern-aspek van Gereformeerde Spiritualiteit en oor Spiritualiteit as die omvormende verhouding van God met die mens. Dit is 'n wonderlike woord wat wys op een van die diepste dimensies van ons aardse bestaan.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive