Showing posts with label lectio. Show all posts
Showing posts with label lectio. Show all posts

Monday, December 30, 2013

Net die blote lees van 'n teks


Die Nederlander, Leyds, het 'n belangrike rol in die Boere-oorlog gespeel.  In 'n nuwe boek vertel Martin Bossenbroek meer oor die oorlog vanuit 'n Nederlandse perspektief. Dit is 'n boeiende lees.

In die boek word  vertel hoe Paul Kruger en sy mede-stryders gaste was van die belangrikste vorste in Europa toe die oorlog aan die gang was.

Kruger het, vertel die boek, vir Koningin Victoria gewys hoe drink 'n mens warm koffie uit 'n piering...

Hy was gas by die keiser van Duitsland en die beroemde koningin Wilhelmina van Nederland.  Reuse skares het orals saamgedrom om die boere-afvaardiging te ontvang en toe te juig. Strate is na hulle genoem.

Kruger het Leyds in Nederland uitgenooi om vir hom in die Transvaal te kom werk. Daar het Leyds dikwels gehoor hoe mense sleg van Kruger gepraat het as 'n takhaar en 'n onbeskaafde persoon.

Hy self sou geen skewe woord oor Kruger kwytraak nie. Leyds vertel van die godsdienstigheid van die boere, ook van Kruger. Op 'n keer, skryf hy in 'n brief, het die president en sy mense Psalm 25:8 gesing. Maar Kruger het die teks eers voorgelees. Die voorlees was pragtig gedoen, het hy gesê. Leyds voeg by hy het selde so 'n mooi voorlesing gehoor.

Die blote lees van die teks, dus, kan mense so aanraak dat hulle dit onthou en deel met ander. Maar, dink ek, dit sê ook veel van die voorleser. Uit die hart gelees (want Kruger was as dopper besonder toegewyd en kerklik), raak dit - en transformeer lewens.




Die Here is goed en reg. Daarom sal hy sondaars leer aangaande die weg.

Monday, December 27, 2010

Om God se stem tot ‘n mens te hoor kom. Oor lectio

In die geestelike lees van die Bybel begin ‘n mens heel eenvoudig by die “lees” van die teks. Hierdie eerste stap wat 'n mens neem wanneer 'n mens met die Bybel besig is, word “lectio” genoem (naas meditatio, oratio en kontemplatio).

Om te lees is nie heeltemal so eenvoudig soos wat ‘n mens dink nie. Dit besef ‘n mens deur bloot te dink aan hoeveel tyd dit mense neem om te leer lees. Neem ook byvoorbeeld hoe twee mense dieselfde gedeelte heel verskillend sal lees. En dink daaraan hoe ‘n persoon met ‘n afgerigte stem oor die radio ‘n gedeelte so kan voorlees dat ‘n mens daardeur meegevoer word. Maar ‘n mens lees ‘n Bybel in die ou vertaling of in ‘n nuwe weergawe. Jy sit of staan of lê as jy lees. Jy kies ‘n gedeelte deur die Bybel te laat oopval. Of jy lees sistematies van voor tot agter. En elkeen van hierdie aspekte gaan op een of ander manier jou verstaan van die teks bepaal of stuur.

Om te lees is dus nogal meer kompleks as wat ‘n mens dink.

Maar daar is vir my iets anders aan die motief van lectio wat my besig hou toe ek Matteus 2 se verhaal oor die wyse manne vir die kerspreek bedink het.

In hierdie gedeelte “lees” die wyse manne nie ‘n spesifieke gedeelte nie soos, byvoorbeeld Jesus gedoen het toe hy volgens Lukas 4 op die sabbat in die sinagoge uit Jesaja 61 gelees het.

‘n Mens sou kon redeneer dat hulle gedurig die “ster” lees. Dit is dan hulle "teks." Hierdie mense, nie-Christene uit ‘n ver land, het die ster as hulle “teks.” En die teks “lei” hulle al nader na Jesus soos hulle dit bly “lees”. Hulle praat ook van die ster as “sy” ster, bedoelende die ster van die Koning van die Jode wat hulle gevolg het. 

Hulle het dus die ster gelees as ‘n teks met ‘n verborge betekenis. Dit lei hulle na Jesus. 

As ‘n mens daaroor begin nadink, kan ‘n mens dit op verskillende manier verder interpreteeer. Op die manier sou ‘n mens daarop kon wys dat ook die skepping heenwys na Jesus en vreugdevol deel het aan die koms van die verlosser.

Maar tog is daar meer: wanneer die wyse manne in Jerusalem aankom, vra hulle na die Joodse koning wat gebore is. Hulle het dus iewers hulle “leeswerk” gedoen waardeur hulle kennis gemaak het met hierdie koning.

Daarmee het hulle iets ontdek wat hulle nooit geweet het nie. ‘n Totaal nuwe wêreld het vir hulle oopgegaan wat hulle lewe radikaal sou verander. In die gedeelte word dus leeswerk van die wyse manne veronderstel.

Lectio, as ‘n mens dit só verstaan, beteken dat as ‘n mens die geestelike reis aflê, jy dit altyd in geselskap van vorige geslagte doen. Die geestelike reis is nie iets waarop jy besluit en dit begin doen nie. Jesus gebruik Jesaja om te vertel hoedat alles wat in Jesaja voorspel is, in sy bediening ‘n werklikheid word.

Die Gees lei die leesproses.

En hierdie verbondenheid aan die diepere, verborge boodskap van vorige geslagte, vertel vir my meer:  ‘n mens se geestelike reis is steeds weer ‘n reis wat baie meer as net jou eie insigte en groei beteken. Die wysheid van die Ander, die verborge betekenis buite ‘n mens self, is die beginpunt van geestelike groei. In die geval van Jesus is die profeet Jesaja se visioene oor die toekoms vir Jesus die beginpunt. Daar begin hy lees.

Op die manier het ek bedink wat die karakters in die teks gelees het. Wat is daar binne hierdie verhaal aan die gang wat ‘n mens help om te sien hoe iets buite hulleself hulle op hul geestelike reis laat begin reis het?

Maar ‘n mens kan die verhaal van die magiërs op ‘n heel ander vlak ook “lees”: Hoe lees “ek” vandag Matteus se verhaal vir my eie situasie?

Duidelik, vir my, is Matteus besig om te vertel hoedat alle volke by die evangelie ingetrek word. Maar wat doen dit aan my eie geestelike reis?

Weer eens sal baie afhang van wie die leser van die evangelie is. Elke leser gaan weer ‘n ander fokus ontdek: Dit kan byvoorbeeld wees op die wyse manne se reis, op Herodes se moorddadige planne, of op die ster. Die interaksie tussen my en die teks sal elke keer weer nuwe betekenis ontsluit, omdat die leesproses so veelvlakkig en ryk is. Maar oorkoepelend sou ‘n mens kon sê dat hoe ek op die teks reageer nooit sonder die teks kan gebeur nie.  Die geestelike lees van die Bybel is nooit willekeurig nie. Ek kan nie maar in die teks lees wat ek wil nie. Daar sal altyd iets buite my wees wat invloed sal uitoefen op my verstaan van die teks. Op sekulêre vlak het spesialiste in intertekstualiteit tog helder uitgewys dat ‘n mens nie ‘n teks lees en die “betekenis” daarvan “ontdek” nie. Wanner die teks met ‘n latere teks in verbinding kom, ontstaan nuwe betekenis.

Die duisende, duisende preke wat al oor die gedeelte gehou is illustreer hoe ryk die betekenis daarvan is. Baie menses sal die gedeelte op ‘n unieke manier verstaan en verkondig. Maar al is daar baie perspektiewe, kan ‘n mens nie die teks maar op enige manier verstaan en vekondig nie. Elke keer weer is die groot toets of ‘n mens se lees van die teks werklik ruimte laat vir God om gehoor te word, of dit my verander om God nuut te dien en of dit my gedurigdeur in ‘n proses van heiligmaking intrek.

Friday, November 06, 2009

Ontsteld en wanhopig. Oor God se teenwoordigheid onder ons in die duistere tye.

In die hart van die verhaal oor die Emmausgangers kry ‘n mens die gesprek tussen hulle en Jesus. Dit is ‘n tweerigting gesprek, ‘n dialoog waarin hulle in ‘n diep gesprek met mekaar verkeer: Eers praat hulle en dan reageer Jesus.

Die twee dissipels se toespraak gaan grotendeels oor “die dinge wat in hierdie dae onder ons gebeur het” en waaroor almal praat (Lk. 24:18).

Dit bly maar ‘n hoogs ironiese verhaal: Jesus, die man met wie hulle maande en maande saamgeleef het in ‘n intieme klein groepie, is weer by hulle. Maar nou is Hy die vreemdeling. Hulle verduidelik aan Jesus alles wat met Hom gebeur het!

Hulle gee vir Jesus die feite, en hierdie feite word dan verder verduidelik in taal wat lyk of hulle darem hul storie goed ken. In netjiese teologiese taal lewer hulle kommentaar oor die godsdienstige implikasies van alles die Jesus-gebeure. Jesus van Nasaret het as profeet van God kragtig onder hulle gewerk en gepraat totdat hy deur die leiers gekruisig is. En hulle weet, as goeie gelowiges, van die hoop op die toekoms, op redding, terwyl hulle ook vertel hoedat hulle gedink het Jesus beliggaam hierdie hoop.

Maar dan, in die tweede deel van hulle gesprek, wy hulle uit oor die gevolge van hierdie gebeure en fokus op hoe dit hulle raak. Hier pak hulle hul hart uit vir die “vreemdeling.” Eerstens vertel hulle dat hulle aan die einde van hul hoop gekom het dat Jesus hulle as Israel sou verlos (Lk.24:21). Jesus se kragtige bediening het dus eintlik vir hulle op niks uitgeloop. Wanhoop is hulle voorland. Tweedens word hulle “ook” verder “ontstel” deur die nuus van die vroue dat die graf leeg was en die dissipels wat gaan kyk het en gesien het dit was so. Wanhopig en ontsteld is hierdie twee mense wat Jesus oor so baie jare gevolg het. Hulle praat nie oor die sensasie van ‘n moontlike opstanding nie. Hulle is verbysterd en hartseer. Hulle is getraumatiseerd. Hy is ‘n vreemdeling vir hulle en alles wat van Hom gesê word, jaag hulle net dieper in verwarring in.

Dit is hoe hulle die goddelike gebeure onder hulle “lees” en hoe hulle daaroor mediteer. Die ironie word ‘n tragedie: die geloof word swak, die hoop slaan om in wanhoop. Dit is nie eintlik ‘n besondere geestelike lees van God se woord wat tot hulle gekom het deur die profeet Jesus nie. Hulle sien die krag van Jesus se bediening, maar het nie meer vertroue daarin nie.

En kyk ook na hulle verdere “lees” van die gebeure, want ander dinge het oor hul pad gekom waaroor hulle nadink: die vroue vertel van ‘n “visioen” van engele met die woorde dat Jesus lewe. Maar selfs hierdie engele-woord lees hulle ook nie juis baie geestelik nie. Hulle word daardeur ontsteld en hartseer. Die vroue sien engele en hulle ontvang ‘n visioen, die dissipels weet dit en praat daaroor, maar tog “sien hulle nie vir Jesus nie.”

Hoe baie praat God met hierdie mense, met ons as gelowiges? Keer op keer. Ons “ervaar” dit, maar ons kom tog nie tot aanskouing, tot die sien van Jesus nie. Ons “ervaar” eerder ons menslike gebrekkigheid, ons ontsteltenis, ons wanhoop. Jesus, met wie ons so nou saamleef en in wie ons selfs ‘n profeet raaksien, ervaar ons in ‘n ommesientjie as die “vreemdeling in Jerusalem.” Ons kan God se woord van alle kante verduidelik, sonder dat ons God self herken.

Maar dan is daar weer die hoogs kontemplatiewe element: om te dink dat hulle nog oor hulle seer en wanhoop kan bly praat. Jesus gee hulle ‘n kans om soekend te vertel van wat in hulle harte omgaan. Selfs al lyk dit of hulle aan die einde van die pad gekom het, of dinge behoorlik uitmekaar val, is hulle besig om met God te praat – die hoogste ironie. Die antifrase. Hoe meer ‘n mens wanhoop, hoe meer is God in gesprek met ons. In ons roep na God, is God teenwoordig. Jesus weet. Daarom is hy by hulle. Daarom het hy hulle gevolg toe hulle uit Jerusalem padgegee het, in die skemer van ‘n einde sonder hoop in om by hulle te wees in die oomblikke dat hulle Hom nie meer raak”gesien” het nie. Hy het immers self maar net ‘n dag of wat vroeër uitgeroep: Waarom het U my verlaat? Selfs in ons duisternis oomblikke, is die skoue van God daar. Ons hoor die evangelie, ons sien die Immanuel: ek is met julle tot aan ....

Wednesday, November 04, 2009

Geskok by die lees van Lukas se verhaal oor die Emmausgangers (Luk.24).

Die verhaal van die Emmausgangers in Lukas 24:13-33 het my die afgelope paar jaar al hoe meer geboei. Lukas was ‘n uitsonderlike skrywer. Hy het vir ons die gelykenis van die verlore seun gegee – een van die mooiste verhale oor liefde en die gebrek aan liefde wat ooit in die wêreldliteratuur geskryf is. En net hy vertel vir ons die boeiende storie van Saggeus en Jesus se merkwaardige ontmoeting. Sy geboorteverhale is ook uniek, om nie eers van sy meesterlike vertelling van die Handelinge van die apostels te praat nie.

En dit is maar ‘n paar voorbeelde uit sy werke. Geen wonder mense het gedink die boek het besondere kwaliteit en gesag nie. Lank voordat ‘n mens dit ontleed het, deur net die boek te “lees” (lectio), bewonder ‘n mens dit al.

Onder al hierdie verhale, staan die een oor die twee dissipels op pad na Emmaus op die dag van Jesus se opstanding vir my al hoe meer uit – as waarskynlik die mooiste van Lukas se verhale.

Om die Emmausgangers uit te sonder, is al ‘n groot aanspraak. Maar ek doen dit om verskeie redes:

Eerstens is dit ‘n opstandingsverhaal waarvan daar net vier in Lukas se evangelie is en waarvan hierdie een verreweg die langste en mees intense een is. Lukas, net soos met die geboorte van Jesus, vertel vir ons iets oor die opstanding wat ons nêrens ander lees nie.

Tweedens kom dit aan die einde van sy evangelie. Hier is die kans vir Lukas om die hele verhaal van Jesus se lewe en bediening af te rond, tot closure te bring. En nie net die lengte nie, maar ook die inhoud van die verhaal wys dat hy deur die gebeure met die twee dissipels die verhaal van Jesus wonderlik afrond.

Derdens is dit so ‘n eenvoudige verhaal. As ‘n mens dit lees (lectio), raak iets in die verhaal jou elke keer op ‘n nuwe manier. Ons weet almal dat ‘n meester-verteller iemand is wat ‘n uitsonderlike vermoë het om iets eenvoudigs te vertel. Ons weet ook dat sulke eenvoud dikwels bedrieglik is. In werklikheid, soos ons sal sien, is dit ‘n baie komplekse verhaal met wonderlike nuanses.

Vierdens is die verhaal meesterlik in sy detail, wat 'n besondere werking op die leser het. Toe ek vandag weer die verhaal lees, tref dit my byvoorbeeld hoe die twee dissipels “ernstig” met mekaar loop en praat (vers 17). En onmiddellik daarna vertel Lukas hoe in ‘n klein detail opmerking hoe hulle “met somber gesigte” gaan staan het (ves 17). Ons kan dit nie mis nie. Ons loop saam met hierdie twee dissipels die twaalf kilometer na hul dorpie en “voel” met die lees daarvan hoe hulle deur die verborge gebeurtenisse geraak is. En behalwe dat hierdie beskrywing vir ons in ‘n bepaalde atmosfeer van radeloosheid intrek, word dit soveel aangrypender as ‘n mens dink hierdie “ernstigheid” en “somberheid” kom oor hulle nadat hulle gehoor het Jesus het verskyn aan sommige dissipels (vers 23). En as ‘n mens dit lees en jou inleef in hulle omstandighede, skryf Lukas nog verder hoe Jesus hulle vasvat oor hulle gebrekkige insig en hul traagheid (vers 25). Jesus het opgestaan, verstaan ons so maklik. Maar nie vir hierdie twee nie. Vir hulle het Jesus nie opgestaan nie. Ons “lees” van die teks raak iets in ons en maak ons onseker oor hoe ons hulle moet verstaan.

‘n Mens “lees” hierdie klimaktiese verhaal, geskryf wanneer alles waarvoor Jesus gekom het, tot ontknoping kom, dus geboeid. Lukas trek ons deur sy woorde tydloos in ‘n atmosfeer in asof daar nie twintig eeue verloop het sedert dit gebeur het nie. Dit is ‘n mistieke ervaring: ‘n mens “lees” die verhaal en jy verloor enige sin van distansie tussen die Stellenbosch waarin jy sit en lees en die Emmaus waarheen die dissipels op pad is. Want, as jy nou mooi gaan terugsit en dink, selfs net oor hierdie paar trefwoorde van somberheid, kan die blote lees van die teks jou skielik soos ‘n vuishou in die maag tref.

Skielik besef ons waarom ons so ongemaklik voel oor die twee dissipels: alles wat ons altyd van Jesus hoor, uit Jesus se mond self, uit Bybelskrywers se mond, uit God se woord, van Moses, van die profete (vers 27), van die groot Bybelverklaarders deur die eeue, van ons geloofsgenote, ons ouers, ons predikante en almal wat bydrae tot ons geestelike reis, dit alles gaan eintlik by die een oor in en by die ander oor uit.

Ons is soos hierdie Emmausgangers, gelowiges, dissipels van Jesus, maar met somber gesigte en ‘n trae gees. Hierdie twee: dit is ek.

Wanneer ons hulle storie lees, weet ons in ons hart dit is eintlik ons storie. Deur net die teks te lees, is dit asof die teks vir ons sê: hier loop jy. Hier praat jy. Hier reageer jy op Jesus se opstanding. Dit is jou traagheid. Dit is jou somber gesig.

Net om die teks te lees, is dus al ‘n mistieke ervaring (lectio en contemplatio moet dus nooit geskei word nie – selfs lectio kan kontemplatief werk). En skielik is daar iets wat in ons harte vir ons herinner om terug te blaai deur Lukas se boek. Die Gees herinner ons dat ons nie net stukkies van Lukas moet lees nie. Lectio is nie maar sommer net ‘n vinnige kykie in die Bybel nie. Ons lees volledig, want as ons so omvattende lees, word ons dieper ingetrek in die verborge werking van God se Gees. Ons lees mos Lukas se spiritualiteit, sy geestelike ervaring van Jesus – en ons mag niks daarvan verwaarloos nie. In hoofstuk 1 lees ons hoe versigtig Lukas al hierdie dinge gaan ondersoek het. Nie om ‘n historiese boek aanmekaar te slaan nie, hoewel dit sekerlik vir hom nie onbelangrik was nie. Maar sodat ons “seker kan weet” dat alles waaroor ons onderrig is, “betroubaar is” (Luk.1:4). Lukas trek ons in deur sy meesterlike vertelling om met ons oor ons geloofstryd te praat. Daar is baie dinge waaroor ons wonder, waaroor ons ernstig loop en gesels. Daar is groot dinge in ons lewe wat ons gesigte somber laat lyk. Maar as ons tog net lees, goed lees, sal ons God se verborge werking wel ervaar, tot sekerheid kom.

Onmiddellik dus, as ons die teks “lees” verander iets in ons. Ons is nie meer net belangstellende lesers nie. Ons is betrokke lesers. Ons wil nou “meer” ervaar, meer “lees”, mediteer, bid en kontempleer. Ons is deur ons lees geprikkel, vasgevang in ‘n geestelike proses, wat nog lank nie geëindig het nie. En daarom sal ons meer aandag aan die Emmausgangers moet gee – aan al die baie ander dimensies van hierdie verhaal wat so ‘n sterk houvas op ons begin kry het. Hopelik kan ons dit in die volgende blogs doen.

Deur die teks te “lees” word ons so ingetrek, so betrek, dat ons sê: Wat nou? Hoe nou gemaak met ons skok en ontnugtering? En daarmee begin ons geestelike reis in al sy baie fasette.

Blog Archive