Om te lees is nie heeltemal so eenvoudig soos wat ‘n mens dink nie. Dit besef ‘n mens deur bloot te dink aan hoeveel tyd dit mense neem om te leer lees. Neem ook byvoorbeeld hoe twee mense dieselfde gedeelte heel verskillend sal lees. En dink daaraan hoe ‘n persoon met ‘n afgerigte stem oor die radio ‘n gedeelte so kan voorlees dat ‘n mens daardeur meegevoer word. Maar ‘n mens lees ‘n Bybel in die ou vertaling of in ‘n nuwe weergawe. Jy sit of staan of lê as jy lees. Jy kies ‘n gedeelte deur die Bybel te laat oopval. Of jy lees sistematies van voor tot agter. En elkeen van hierdie aspekte gaan op een of ander manier jou verstaan van die teks bepaal of stuur.
Om te lees is dus nogal meer kompleks as wat ‘n mens dink.
Maar daar is vir my iets anders aan die motief van lectio wat my besig hou toe ek Matteus 2 se verhaal oor die wyse manne vir die kerspreek bedink het.
In hierdie gedeelte “lees” die wyse manne nie ‘n spesifieke gedeelte nie soos, byvoorbeeld Jesus gedoen het toe hy volgens Lukas 4 op die sabbat in die sinagoge uit Jesaja 61 gelees het.
‘n Mens sou kon redeneer dat hulle gedurig die “ster” lees. Dit is dan hulle "teks." Hierdie mense, nie-Christene uit ‘n ver land, het die ster as hulle “teks.” En die teks “lei” hulle al nader na Jesus soos hulle dit bly “lees”. Hulle praat ook van die ster as “sy” ster, bedoelende die ster van die Koning van die Jode wat hulle gevolg het.
Hulle het dus die ster gelees as ‘n teks met ‘n verborge betekenis. Dit lei hulle na Jesus.
As ‘n mens daaroor begin nadink, kan ‘n mens dit op verskillende manier verder interpreteeer. Op die manier sou ‘n mens daarop kon wys dat ook die skepping heenwys na Jesus en vreugdevol deel het aan die koms van die verlosser.
Hulle het dus die ster gelees as ‘n teks met ‘n verborge betekenis. Dit lei hulle na Jesus.
As ‘n mens daaroor begin nadink, kan ‘n mens dit op verskillende manier verder interpreteeer. Op die manier sou ‘n mens daarop kon wys dat ook die skepping heenwys na Jesus en vreugdevol deel het aan die koms van die verlosser.
Maar tog is daar meer: wanneer die wyse manne in Jerusalem aankom, vra hulle na die Joodse koning wat gebore is. Hulle het dus iewers hulle “leeswerk” gedoen waardeur hulle kennis gemaak het met hierdie koning.
Daarmee het hulle iets ontdek wat hulle nooit geweet het nie. ‘n Totaal nuwe wêreld het vir hulle oopgegaan wat hulle lewe radikaal sou verander. In die gedeelte word dus leeswerk van die wyse manne veronderstel.
Lectio, as ‘n mens dit só verstaan, beteken dat as ‘n mens die geestelike reis aflê, jy dit altyd in geselskap van vorige geslagte doen. Die geestelike reis is nie iets waarop jy besluit en dit begin doen nie. Jesus gebruik Jesaja om te vertel hoedat alles wat in Jesaja voorspel is, in sy bediening ‘n werklikheid word.
Die Gees lei die leesproses.
En hierdie verbondenheid aan die diepere, verborge boodskap van vorige geslagte, vertel vir my meer: ‘n mens se geestelike reis is steeds weer ‘n reis wat baie meer as net jou eie insigte en groei beteken. Die wysheid van die Ander, die verborge betekenis buite ‘n mens self, is die beginpunt van geestelike groei. In die geval van Jesus is die profeet Jesaja se visioene oor die toekoms vir Jesus die beginpunt. Daar begin hy lees.
Op die manier het ek bedink wat die karakters in die teks gelees het. Wat is daar binne hierdie verhaal aan die gang wat ‘n mens help om te sien hoe iets buite hulleself hulle op hul geestelike reis laat begin reis het?
Maar ‘n mens kan die verhaal van die magiërs op ‘n heel ander vlak ook “lees”: Hoe lees “ek” vandag Matteus se verhaal vir my eie situasie?
Duidelik, vir my, is Matteus besig om te vertel hoedat alle volke by die evangelie ingetrek word. Maar wat doen dit aan my eie geestelike reis?
Weer eens sal baie afhang van wie die leser van die evangelie is. Elke leser gaan weer ‘n ander fokus ontdek: Dit kan byvoorbeeld wees op die wyse manne se reis, op Herodes se moorddadige planne, of op die ster. Die interaksie tussen my en die teks sal elke keer weer nuwe betekenis ontsluit, omdat die leesproses so veelvlakkig en ryk is. Maar oorkoepelend sou ‘n mens kon sê dat hoe ek op die teks reageer nooit sonder die teks kan gebeur nie. Die geestelike lees van die Bybel is nooit willekeurig nie. Ek kan nie maar in die teks lees wat ek wil nie. Daar sal altyd iets buite my wees wat invloed sal uitoefen op my verstaan van die teks. Op sekulêre vlak het spesialiste in intertekstualiteit tog helder uitgewys dat ‘n mens nie ‘n teks lees en die “betekenis” daarvan “ontdek” nie. Wanner die teks met ‘n latere teks in verbinding kom, ontstaan nuwe betekenis.
Die duisende, duisende preke wat al oor die gedeelte gehou is illustreer hoe ryk die betekenis daarvan is. Baie menses sal die gedeelte op ‘n unieke manier verstaan en verkondig. Maar al is daar baie perspektiewe, kan ‘n mens nie die teks maar op enige manier verstaan en vekondig nie. Elke keer weer is die groot toets of ‘n mens se lees van die teks werklik ruimte laat vir God om gehoor te word, of dit my verander om God nuut te dien en of dit my gedurigdeur in ‘n proses van heiligmaking intrek.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.