Telkens weer ontdek ek dat rus alleen by U te vinde is;
besef ek: U alleen kan my onrustige hart tot vrede bring,
net U laat my innerlike onstuimigheid tot bedaring kom.
Vrede, U vrede, weet ek, kom na my wanneer U my aanraak,
wanneer U kom klop,
my met U helder stem laat hoor dat U hier is,
by my binnekom en
ek, bly, weet, U soek my op, U het na my verlang.
Niks van my, wat ek het, of wat ek is
sal my ooit naby aan U bring nie.
Alles wat vir my altyd so belangrik is,
my besittings, my kennis, my invloed, my vriende, my geliefdes
– is leeg, sonder sin,
totdat U dit alles gebruik om my in U teenwoordigheid te lei.
Here, maar gee dat ek op U sal wag, sal waghou in die goeie en slegte tye,
met alles wat ek het,
soekend na tekens van U koms,
om gereed te wees vir die Liefdestyd, die oomblikke van goddelike nabyheid.
Wat meer is daar om te doen as om te let, af te wag, te verlang, soos U dit doen…
En, skyn dan uiteindelik die Môrester vir ‘n tydjie helder in my nag van soeke, vertel dit my, bly, hoe naby die deurbreek van die laaste dag is,
die finale oomblik wanneer ek sal gaan woon
in U helder lig,
in U paradys,
in U vrede.
By U.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.