Sunday, December 12, 2010

Nooit na genoeg aan God nie. Oor spiritualiteit as proses.


Kersfees, Nuwe jaar, adventstyd, pase met Goeie Vrydag, Pinkster – al hierdie bakens in die kerklike jaar wys op die gedurige vloei in mense se lewens.

Elke keer weer beweeg die gelowige gemeenskap na ‘n ander, nuwe fase. Dit is ‘n vloeibare proses van groei. Dit is ook nie maar net ‘n herhaling van dieselfde fases nie. Jaar na jaar ervaar ‘n mens nuwe momente van pase, van kersfees – en kry dit nuwe, dieper betekenis in ‘n mens se lewe.

Maar daar is ook heelwat ander tekens van gedurige verandering en groei.

Soms kom daar in de kerk nuwe, bruisende lewe na tye van swaarkry en teleurstellings. Herlewingsfases volg op tye van dorheid en verstarring. Dan weer is daar tye van vernuwing, opwinding en bewuswording van God se intieme nabyheid.  Ook ons ervaring van geloof is ‘n proses wat sy, soos mense dit soms beskryf, sy valleie-tye en sy pieke-momente het.

‘n Mens het nie ‘n finale, afgeronde netjiese verstaan van God en nou is alles mooi in plek nie. Om te glo is ver van ‘n klomp teologiese waarhede te kan neerpen en opsê. Asof ‘n mens alles uitmekaar kan pluis en uitspel. Spiritualiteit fokus op God se verhouding met die mens wat telkens weer op nuwe manier aan die mens se lewe verander. Dit is ‘n proses wat alle kante van ‘n mens se lewe raak- wat jy doen, dink, ervaar, glo, vier en vele ander.

Christus se lewe is die beste voorbeeld daarvan. “Julle het gehoor. Maar Ek sê vir julle…”

Terwyl ek hieroor lees vandag, tref dit my dat hierdie groei in die geloofslewe ‘n groei in intimiteit is. In ‘n liefdesverhouding kan ‘n mens nooit genoeg weet van jou liefdesmaat nie. Gedurig weer, soos Levinas dit beskryf, ontdek jy nuwe, ander dinge in die ander. Hoe nader ‘n mens aan iemand kom, hoe groter en intiemer die band. Só is dit ook met God: ‘n mens, byvoorbeeld, is bewus van  God se heiligheid, liefde en vrede. Maar steeds weer bring God mense tot dieper vlakke van heiligheid, liefde en vrede. En op die manier word God en mens deur vele bande aan mekaar gebind.

Hierdie ervaringe verdiep gedurig. En dit kring uit. Dink maar aan God se heiligheid: om vir die eerste keer deur God se heiligheid geraak te word, kan ontsetting bring. Harde korse van selfsug, self-beheptheid, kwaad, ongevoeligheid en vele vorme van kwaad word deur God se heiligheid en heilige aanraking stukkend gebreek (Heb.12:10!). Dit bring pyn, verset, selfs verwerping.

Maar God se heiligheid bly ‘n mens aantrek en nader roep. God is immers in heiligheid die volmaakte, die Een wat totale liefde is, wat totale liefde gee, wat suiwer reinheid en skoonheid is. In ‘n verminkte, siek wêreld, roep die hart uit na ‘n ruimte sonder kwaad – steeds dringender, steeds met groeiende verlange. En hoe meer ‘n mens van God se heiligheid hoor, hoe meer wil ‘n mens in die Heilige God se nabyheid wees.

Spiritualiteit is dus die geestelike lewensreis wat soek om verdieping. Om te glo beteken om deel te wees van ‘n proses wat al hoe verder in die kern van ons bestaan indring. Godsdiens is dan nie meer ‘n oppervlakkige saak waarin mense, soos die Fariseërs allerhande godsdienstige pligplegings nakom nie. God, het die profete in die Ou Testament al uitgeroep, stel meer belang in liefde en geregtigheid as in allerhande offerandes en rituele.  Spiritualiteit wil juis beklemtoon dat ‘n mens nog nie aangekom het as ‘n mens kerklik aktief is nie. Trouens, om “aan te kom” is om te weet dat ‘n mens nooit na genoeg aan God kan kom nie. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive