Friday, December 03, 2010

Gewoontes en mislukking. Oor spiritualiteit as ‘n proses.

 
Ek lees ‘n opstel oor gewoontevorming waarvan ‘n gedeelte my bybly, veral omdat dit vir my iets belig van spiritualiteit as ‘n proses, maar ook oor die inhoud van spiritualiteit.

Iemand se gewoontes gee ‘n mens ‘n insig in daardie persoon se karakter, lees ek. ‘n Mens se karakter word bepaal deur die dinge wat ‘n mens by herhaling doen.  ‘n Goeie gewoonte val nie uit die lug nie. Die proses van geestelike groei sluit in die aankweek van goeie gewoontes wat oor ‘n lang tyd in ‘n mens se lewe wortelskiet. Dit is byvoorbeeld die idee van ‘n klooster: in só ‘n plek word ‘n mens deel van ‘n roetine wat bestaan uit stiltetyd, gemeenskaplike aanbidding, gebed, dade van ontferming. Deur in hierdie roetine in te skakel, word ‘n mens in jou gewoontes gevorm en bepaal.


Dieselfde geld in ‘n meer algemene sin vir gelowige mense: dit is die tye wat ‘n mens by God is in stiltetyd en gebed dat ‘n mens die ruimte skep vir ‘n lewe van toewyding aan God.

Hoe meer ‘n mens jou besig hou met die verborge dinge, hoe meer wil ‘n mens naby wees aan hierdie dinge wat saak maak: dit is nie net blote gedagtes wat ‘n mens bedink wat tot gewoontes aanleiding gee nie. Dit gaan ook om wat dit is wat ‘n mens se gedagtes bepaal, die plekke en mense waar en by wie ‘n mens is wat jou gedagtes stuur en begelei.

Wat my by die punt uitbring: dikwels dink ons na oor ons lewens en neem ons voor om beter gewoontes aan te leer. Dikwels misluk iemand in die stryd om ‘n dieper geestelike lewe. Hoewel iemand met die slegte wil breek, kom so ‘n persoon met teleurstelling agter dat dit nie altyd gebeur nie, dat ‘n mens soms dieper in die kwaad verval.

Maar deur te volhard in die stryd teen die kwaad, deur te bly dink aan wat saak maak, word die mislukking stadigaan omgekeer. Een of ander tyd, na  herhaalde pogings om die goeie te doen, word die klein oorwinning behaal  - en volg die volgende en groter oorwinnings.

Dit is in hierdie ruimtes dat ‘n mens besef die geestelike lewe is ‘n langdurige proses. Terugslae en verval in sonde breek nie die proses af nie. Trouens, dikwels word die proses intenser wanneer ‘n mens foute maak.

Dink maar aan Psalm 51 waarin Dawid die sondigheid van sy gebroke hart voor God bely. Die groot koning het misluk. In sy oomblik van mislukking praat hy met God oor sy gebroke en verslae hart. Hy is diep bewus van sy val.

Maar terselfdertyd vertel hy: God sal só ‘n hart nie verag nie. God verstoot nie die een wat in berou kniel voor die Regter nie. In die oomblik van diepe duisternis word nuwe lewe gebore: want die gebroke mens is waar ‘n mens moet wees – volkome afhanklik van God. Dawid se gedagtes oor God bring hom, ten spyte van sy vernederende val,  tot ‘n nuwe lewe van toewyding.

Daar is net een Psalm 51! Dawid kon daardie deel van sy lewe wel oorkom. In sy lewe van gebed, in sy herhaalde sing van Psalms voor God, het Dawid ‘n ruimte geskep waarin hy die kwaad, sy waansinnige moorddaad, kon oorkom. Dit was juis sy nabyheid by God wat hom, in die tyd van sy afval, weer orent gebring het.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive