In Wilhelm Jordaan se rubriek vanoggend, soos gewoonlik prikkelend en diep, skryf hy oor ons gejaagde lewensstyl. Selfs ons vakansies is ‘n gejagery, skryf hy. Ons klim moeg in ons motors, sit teen ‘n stink spoed af na ons vakansieplek toe, jaag al wat ‘n vakansie-plesier is, en – kom dan so moeg terug as wat ons voor ons vakansie was.
Hoe nou gemaak?
Wat tel, skryf hy, is nie dat ons vakansie hou nie. Wat tel is dat ons stil moet kan wees, verfris word, weer tot ons sinne kom, innerlike rustigheid herwin, vrede ontdek. Dit is die styl waarmee ons vakansie hou wat saak maak.
Hy lê groot klem op die soeke na stilte om al die geraas om en in ons te vervang.
Ek geniet sy skrywe en besef hy het gelyk: ons is so bang vir stilte dat ons so vinnig as moontlik daarvan wegjaag – en daarmee juis dit wat ons lewens kan nuut maak, verloor.
En tog: Wat hy skryf het my laat dink aan wat ek onlangs gelees het oor die mistiek en stilte. Daar is wel mense wat nie ongemaklik is met stilte nie. Hulle soek juis die stilte op en gaan dikwels op afsonderingsgeleenthede om stil te raak.
Waarom is daar dan soveel tamheid – selfs in die lewens van sulke spirituele soekers na stilte?
Dis nie regtig die stilte wat tel nie. Trouens, skryf sommige mistici, stilte kan tussen God en die mens te staan kom. Stilte kan ‘n vyand van egte verdieping in mense se geestelike groei wees.
Want stilte is maar net die begin, die ruimte vir die groter, diepere gebeure wat ons verkwik. Want die stilte is waar ons God ontmoet. Die mistikus ruim die geraas om en in sy of haar bestaan op, systap dit, soek die plek van stilte, kalmte en alleen-wees op, om gereed te wees vir God se koms tot hom of haar.
Hierdie perspektief het my gehelp om iets te begin skryf oor wat lank onverwoord in my binneste broei.
Toe ek dit gelees het, is ek terug na 1 Konings 19, die klassieke locus vir ons aanprysing van stilte.
Toe ek die gedeelte lees vanuit die hoek van Bybelse spiritualiteit wat vra na God se teenwoordigheid, besef ek hoe vlak ‘n mens dikwels hierdie aangrypende teks lees. Daar is geen twyfel oor die gang van die gedeelte nie: Die sleutelvers 12 praat van die sterk wind, die aardbewing en van die vuur. En eers dan kom die windstilte. En die die windstilte is duidelik die hoogtepunt van die reeks van vier elemente. Daarom stuur die gedeelte inderdaad op stilte af.
Daar is iets meer op die spel: In die sterk wind, in die aardbewing en in die vuur, skryf die profeet, was die Here nie. Dit is eers toe die stilte kom dat Elia die stem van God kon hoor. Nie die stilte nie, maar dat God praat is wat saak maak. Elia weet van die stilte, maar die stilte "fluister-praat" met hom. Dit is, lees die vers dan uitdruklik, God se stem wat hy hoor.
‘n Mens kan lank vakansie hou, lekker rustig jou braaie braai, jou vissies gaan vang, in die loom somer-waters by die strand gaan baai, al die geraas en gejaag ontvlug – en tog nog onvergenoegd en moedeloos die pad daarna huis toe vat.
Wat tel, is nie die stilte nie, maar om in die stilte God se teenwoordigheid te ervaar. In ontsag herken ‘n mens die teenwoordigheid van God – juis daar waar ‘n mens dit normaalweg nie ervaar nie. En in ontsag word ‘n mens se lewe aangeraak en val ‘n mens in by die profetiese roeping van God (1 Kon. 19:15).
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.