Liefde, skryf Paulus, soek nie eie belang nie.
Dit is nie altyd so in die daaglikse lewe nie: Verhoudinge tussen mense is einlik nooit onselfsugtig en self-opofferend nie. ‘n Mens het dikwels ‘n verhouding met iemand anders omdat ‘n mens by daardie persoon veilig voel of daaruit voordeel kan trek. In verhoudinge soek mense hul eie belang. Hulle gee om of gee liefde, solank as wat…..
Maar dit is onvolwasse liefde. Want in hierdie geval word die ander persoon tot ‘n mens se eie voordeel gebruik. Dikwels word ‘n verhouding vermink deurdat mense mekaar wil besit.
Dit bring ‘n stryd in die mens se binneste. In spiritualiteit is ‘n belangrike deel van die geestelike groeiproses om steeds weer in groeinde mate eie belang af te sterf. In spiritualiteit ontwikkel ‘n mens ‘n bewussyn van die houvas van die eie, vervalle innerlikheid op ‘n mens. En dan groei die besef van ‘n mens se onvryheid. ‘n Mens sien raak hoedat jy in verhoudinge met ander eintlik nie vir hulle omgee nie. Daar is ‘n groeiende besef hoe ‘n mens verkneg word deur die strewe na die vervulling van eie behoeftes, eie voordeel, self-belang. ‘n Mens is die slaaf van jou eie begeertes en ‘n mens verslaaf die ander aan hierdie eie begeertes en belange.
Egte liefde is gerig op die ander persoon bloot net oor wie daardie mens is, nie wat daardie persoon vir ‘n mens kan beteken nie. Trouens, iemand wat ‘n ander lief het, vergeet dikwels spontaan heeltemal van sy of haar self, van eie belange. Volwasse liefde is vry van eie voordeel. Dit soek die belang van die ander.
Juis daarom is die geestelike groei ingestel op God, nie op eie menslike vordering of volmaaktheid nie. Wanneer ‘n mens oop is vir God, vir die verborge Wonder van God se teenwoordigheid, sterf ‘n mens aan jouself. En dit is juis daarom dat ‘n belangrike dissipline is om elke dag ingestel te wees om na mense te kyk soos God hulle sien. Met onvoorwaardelike liefde. Dit is ‘n uitdaging om so vry soos God te word – volkome vry in onvoorwaardelik liefde.
Ook hier gaan dit nie om hoe vroom ‘n mens in die liefde is nie. Of hoe ‘n mens uitblink in onselfsugtigheid nie.
Dit is die lewenskuns: om by ander te wees, hulle te bekyk, aan te hoor, ruimte te gee, te geniet, sommer net by hulle te wees. Bly te wees oor hulle prestasies, te troos in hul swaar tye, aan te spoor in hul inspanninge, te glimlag oor hul humor en gevathede. Verwonderd te wees oor die rykheid van hul lewens en die mooiheid van hul menslikheid, of die feilbaarheid van hul foute en die swakheid van hul uithouvermoë. En hulle in dit alles lief te hê – vir die betere en vir die slegtere wat hulle, soos ‘n mens self, in hul menswees herberg.
Wie by God woon, kan nie anders liefhê nie. Dit is immer soos God lief het.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.