Monday, December 20, 2010

Verby die blink en die roem. Bybelstudie oor Openbaring 19.



Die brief aan Pergamum is die derde brief van Johannes in die reeks van sewe briewe aan sewe gemeentes.

Pergamum was, soos Efese, ‘n bekende en belangrike stad in Klein-Asië. Blink, bekend, indrukwekkend, invloedryk, ‘n toeriste-attraksie.

Die stad het pragtig op ‘n berg gelê en was met reusagtige terrasse al langs die hellings van die berg uitgelê. Teen die hellings was daar op verskeie vlakke ook verskeie belangrike geboue. Die beroemdste was die geweldig groot altaar vir Zeus wat op die spits gebou is, en dit was maar een van baie heiligdomme in die stad. In die stad was ook die bekende biblioteek en ‘n groot teater.  Dit was ook ‘n bekende sentrum vir die keiser-aanbidding.

Dit was dus ‘n plek waar ‘n mens oorweldig is deur kennis, kultuur, natuurlike skoonheid en indrukwekkende godsdienstige plekke.

Wanneer Johannes sy brief aan hierdie gemeente skryf, fokus hy onmiddellik op die lesers se woonplek.  “Ek weet waar jy woon…” begin die brief.

Die gehoor het regop gesit. God ken hulle woonplek….

Sekerlik kon Johannes nou allerhande indrukwekkende dinge opgenoem het. Die argeloë wat eeue later die altaar vir Zeus opgegrawe het, was so oorweldig deur die omvang en prag daarvan dat hulle dit uiteindelik en masse Berlyn toe geneem het waar dit vandag in ‘n spesiale museum deur massas mense besoek word. In die destydse wêreld het almal van die altaar geweet. Terwyl ‘n mens nog kilometers ver was, kon jy dit op die spits sien.  

Die woonplek moes, as ‘n mens dít en al die verslae daaroor bedink, oorweldigend gewees het.

Maar kyk hoe gaan die brief aan: “ek weet waar jy woon, waar die troon van Satan is.”

God kyk dieper, sê hierdie sin, en sien verby al die glans en glorie. God kyk nie vas teen die blink en die grootheid nie.

Julle bly in ‘n woonplek by die troon van Satan: hier, in julle midde, sê die brief aan sy begin, regeer Satan – die een wat die verleier is van die mensdom (Open.12:9). Dit is waar sy mag gesetel is. Hier wys hy sy spiere. Dit is nie ‘n buitepossie, ‘n vaal dorpie in die vlaktes nie. Hier woon julle in die hart van onreg en boosheid.

‘n Mens kan jou die emosies van die hoorders indink:  dít is dan hoe God oor hulle stad dink. En op daardie oomblik, in daardie woorde het hulle besef – God weet hulle bly in ‘n gevaarlike plek. God besef hoe hul geloof op die spel is. Dit is nie maklik om in só ‘n stad ‘n volgeling van Christus te wees nie.

God verstaan dat al die blink en die glorie en die roem die masker van groot boosheid is. En God huiwer nie om vir hulle reguit te vertel nie. Hulle was gelyk tevrede én ongerus. Om in Pergamum te woon, is nie kinderspeletjies nie. ‘n Gelowige wat daar woon, se lewe is op die spel.

‘n Mens kan dink met hoeveel emosie hulle hierdie woorde aangehoor het. Hulle het geweet dat God juis daarom na hulle wil uitreik.  Só is God immers altyd – naby hulle wat in lewensgevaar is…

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive