Tuesday, December 21, 2010

Die eenvoud van die liefde. Oor geduld....

Tog opvallend bly dit dat Paulus in 1 Korintiërs 13 die liefde met heel alledaagse eienskappe verbind. Nadat Paulus vertel het dat ‘n mens sonder die liefde niks is nie – selfs al is jy die slimste en heldhaftigste mens, begin hy sy lys met die eenvoudige opmerking:

Die liefde is lankmoedig.

Dit is eenvoudig, alledaags, prakties.

Of, ‘n mens sou dit kon vertaal met die "liefde is geduldig." Die liefde raak nie gou opgewen nie.

Iemand wat lief het, kan geduldig wag.

‘n Mens kan die gedagte nogal verrassend toepas: Henri Nouwen skryf byvoorbeeld dat ‘n mens dikwels die beste herinneringe het aan iemand wat nie gou was om raad te gee nie, maar wat net in al ons pyn en lyding en swaarkry daar was.

As ‘n mens iemand lief het, kan ‘n mens geduldig wag dat daardie persoon deur die donker tye in sy of haar lewe worstel, sonder om allerhande raad aan hulle op te dring.

Hy skryf ook elders dat ‘n mens met liefde kan wag totdat dit wat nie sigbaar is nie, die verborgene, tot ‘n mens kom. As ‘n mens God lief het, kan ‘n mens in geduld wag totdat God se verborge bedoeling met ‘n mens se lewe vir jou duidelik word.

Maar, dink ek, ‘n mens hoef nie te ver verby die duidelike betekenis te loop nie. Die liefde is geduldig ook in die sin dat dit oop is vir alles wat nie na ons sin is en wat ons nie kan verander nie.

Die liefde is geduldig. Iemand wat in die liefde leef kan wag…


Terwyl ek hieroor nadink, kom die gelykenis van die Verlore Seun by my op. Die vader het geduldig vir die seun sy erfdeel gegee en toe geduldig op sy terugkeer gewag. Egte liefde.

Dit is 'n spieelbeeld van God - die Een wat geduldig wag op die huis toe kom van hulle wat weggegaan het... Egte liefde.


Lankmoedigheid is dus 'n kernmotief in spiritualiteit. Die mens wat in liefde deur God aangeraak en omvorm word, is 'n geduldige mens.



No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive