Saturday, December 25, 2010

Wat vir God wonderlik moet wees… Oor 'n kersgeskenk.


Die kersdiens vanoggend was pas verby. Ek staan op die preekstoel, terwyl sommige van die kerkgangers sommer by die preekstoel verby deur die agterdeur by die konsistorie die kerk uitstroom. Die verkeer by die voordeur is te druk.

Ek staan en wag maar dat almal eers vertrek sodat ons kan afsluit.

Dit is buitendien kerstyd. Ons is by die see. Almal is rustig. Niemand hardloop iewers heen nie. Dit is vrede-tyd in die vol sin van die woord.

Hier en daar groet iemand my in die verbygaan, gesels so bietjie, deel kerswense of kom sommer net hallo sê. Dit is ‘n kers-atmosfeer, vol versadiging na die diens.

Skielik verskyn daar ‘n dogtertjie van so vier jaar voor my. Sy was een van die vele kinders wat saam met hulle ouers die diens bygewoon het. So ‘n kersdiens met hele families en baie kinders is altyd spesiaal, want die kinders is met vakansie, ontspanne en neem lewendig deel  aan die vragies en besprekings tydens die preek.

Die kleuter stap op na my waar ek op die preekstoel staan en kom staan by my met haar vingertjie in die lig. Ek kom agter sy wil vir my iets baie belangriks sê.

Ek kniel by haar om naby haar te wees en te kan luister wat sy wil vertel.

Sy steek summier haar vingertjie en sit dit op my hand toe ek dit oophou.

“Ek het my vinger baie seergemaak”, sê sy saggies, ingetoë en hou die vingertjie dat ek die kol daarop kan sien. 

Ek kyk mooi en sien dadelik dat die blou kol op haar vinger ‘n klomp bloed onder die vel is. Sy het duidelik een of ander hou weg.

“Eina,” sê ek, so simpatiek as wat moontlik is. Ek kan sien haar trauma is vir haar nog baie groot, al lyk dit uit die wond of die ongelukkie al ‘n dag of twee gelede gebeur het. En al is die kol maar kleinerig, besef ek vir haar is dit asof haar hele hand blou en opgeswel is.

Sy bly vasgenael kyk na haar vingertjie terwyl sy dit op my handpalm laat rus. Haar hartjie is vol van die vingersmart. Sy wil selfs met haar ogies vir my beduie dat ek haar pyn moet raaksien.

“Wat het dan gebeur?” volg ek op met die volgende logiese vraag. Ek sien sy is nog lank nie uitgepraat nie.

“Ek het my vinger in die karavaandeur vasgeslaan,” sê sy. Ek sien: Die blou merk sit net so op die eerste lit van haar vinger. Ek besef dadelik dat daardie vingertjie waarskynlik in die deur vasgesit het en dubbel seergekry het toe die karavaandeur oopgemaak is.

“Eina,” sê ek weer. “Dit moes darem verskriklik seer gewees het. Het jy baie gehuil?”

Sy is baie in haar skik met die vraag. “Ek het verskriklik gehuil,” antwoord sy. Die hele tyd lê haar vingertjie op my handpalm en die hele tyd kyk sy intens daarna. Om ons stroom mense nog steeds die kerkgebou uit. Die preekstoel staan op die verhoog, die mens is sommer ‘n handbreedte van ons af. Haar ouers of familie is nêrens in sig nie. Maar op hierdie oomblik is sy totaal onbewus van enige iets anders en kan sy nie omgee wie waar is nie.

Sy wil net haar seer vingertjie vir my wys en haar hewige smarte met my deel.

“Toemaar,” troos ek. “Die dokter het seker darem mooi na jou gekyk.”

Sy kyk vir ‘n oomblik na my en dan staar sy weer passievol na haar vinger:

“Die dokter was te ver…” fluister sy.

Ek weet dadelik: Ons ou vakansie-plekkie is 35 kilometer van die naaste dokter. Dis nie sommer net vir gou dokter-toe gaan nie. En pa en ma het geweet die dokter sal nie juis veel aan die gedane sake kan doen nie.

En so staan ons twee toe daar op die preekstoel op die kersoggend en praat. Sy met haar vingertjie op my handpalm terwyl sy intens haar ellende bekyk. En ek knielend by haar, bewus van haar wêreldjie wat nou nog pyn het onder die herleefde pyn, ellende en seerkry….

Toe draai sy met haar kleuterlyfie om en stap saam met  die mense weg.  Tevrede.  Sy het haar wonde kom wys en haar troos kom kry.

Wat ‘n unieke kersgeskenk as ‘n kleuter so uit die bloute en vol vertroue en afhanklikheid haar pyn met jou kom deel, sommer net daar, op die preekstoel, waar jy oomblikke gelede nog met die kinders, met haar en met baie mense vol pyn God se woorde gepraat het.  

Terwyl ek op hierdie kersdag haar ewigheidsgeskenk aan my bly koester, besef ek naderhand meer waarom die skynbaar doodgewone oomblikke in die kerk, knielend by ‘n kind, my so geraak het.

Ek begryp uit my eie reaksie dat haar preekstoel-besoekie my iets leer oor God. Vir God moet daar niks wonderlikers wees as wanneer ‘n stukkende mens by God kom troos soek nie. As ‘n mens bly is dat God na jou pyn wil luister, des te meer is daar vreugde in die Vaderhart as mense hulle pyn met die Vader kom deel.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive