Sunday, December 26, 2010

Ingestel op die Verborgene. Oor lewenshouding.


Matteus 2:1-12 gaan oor die wyse manne wat ‘n ster tot in Bethlehem volg. Ek het die afgelope week aan die teks gewerk omdat dit die tema van my kerspreek was.

Ek lees die gedeelte vanuit die perspektief van 'n geestelike hermeneutiek, met aandag aan die verskillende aspekte daarvan.

Terwyl ek dit doen, dink ek aan die ellelange gesprekke wat in so baie publikasies plaasvind oor die “groot” historiese vraag: watter ster was dit dan tog wat die wyse manne gesien het? Dit was in baie gevalle die manier waarop mense die betekenis van die teks wou ontsluit.

Menigte preke het op hierdie historiese vraag gefokus om te bewys dat Jesus se geboorte “regtig” plaasgevind het en deur merkwaardige dinge begelei is.

Die historiese kritiek wou mos vir ons insig gee in die historiese realiteite agter die kersverhaal.  En het hulle tog nie oor al die moontlike historiese realiteite agter hierdie ster gepraat nie. Sommige sê dis ‘n komeet en dan gaan hulle alle moontlike komete wat in daardie tyd sigbaar was, versigtig na. Ander dink dit is ‘n supernova, ‘n spesiale, voorheen onbekende ster. Nog ander dink dit is twee planete wat in daardie tyd naby aan mekaar was (Jupiter en Saturnus). So word die een na die ander moontlikheid eindeloos uitgeryg en bespreek. En elkeen hou aan sy of haar eie teorie vas asof die teks se lewe daarvan afhang.

En, as 'n mens nou al hierdie historiese antwoorde beluister het, voel jy om te vra: wat daarvan?

Een sleutel tot ‘n meer gepaste interpretasie van die gedeelte is vir my te vinde in Matteus se benaming vir die manne uit die ooste. Hulle is in die oorspronklike Grieks nie wyse manne genoem nie, maar “magiërs” (magoi). 

Sommige vertalings vertaal dit as mans wat die sterre bestudeer het.

Maar hulle was nie astronome nie. Hulle was darem ook nie astroloë nie. 

Die naam is gebruik vir mense wat nagedink het oor die verborge betekenis van natuurlike verskynsels.

Ek het die insig nuttig gevind, omdat dit so deurslaggewend is vir enige vorm van geestelike ervaring. Ons geloof verbind ons met die verborge dinge, met die eintlike betekenis van dit wat ons gewoonlik sien en ervaar.

Ons geloof gaan tog nie oor ‘n ster nie, maar oor wat die betekenis van daardie ster is. En selfs al het ‘n mens nou bewys jy het ‘n “feit” hier beet, hier in die ster uit die Ooste, moet ‘n mens dan nog gaan vra maar wat beteken dit dan?

Iemand wat dit doen, soek na die verborgene, wat agter al die “realiteite” in ons bestaan staan. Om só te soek, dieper na te dink, is ‘n belangrike lewenshouding.

Ek sit terug en bedink dit, want dit is 'n insig wat op 'n wye vlak groot konsekwensies het. 

Elke dag herken, beleef, ervaar ons ‘n klomp dinge. Ons kan daarin vaskyk en dit eenvoudig beleef, herken en ervaar. Of ons kan gaan vra: wat doen ons met ons kennis, ons ervaring? Waarop wys dit ons? Of self snog dieper: alles wat ons beleef, stel ons voor die vraag hoe vind ons sin daarin? Of, in tradisionele taal: hoe wil ek God ontdek in dit wat ek beleef? Waarheen neem my ervaring my? Hoe transformeer dit my?

As ons nou uitgevind het, soos in die historiese kritiek dat daar “regtig” ‘n komeet was (of ‘n supernova of ‘n konstellasie), is ‘n mens nog net op die vlak van die natuurlike waarneming. ‘n Mens het nog niks van die transformerende krag van die ster gesê nie. En Matteus het oor die ster gepraat om te wys wat die ster alles aan die gang gesit het en verander het. Dit is vir hom nie ‘n netjies sterrekundige feit wat ook darem gedokumenteer moet word nie.

Dit klink teoreties, maar ek sien in hierdie week op ‘n kru praktiese manier hoe belangrik die soeke na betekenis is, hoe deurslaggewend dit is om gedurig te vra hoe God ‘n mens in jou daaglikse situasie ontmoet. Ons het maar ‘n slegte week met slegte weer hier in ons strandplekkie gehad. Sommige mense pak hulle goed en gaan gebelgd huis toe. Ander weer vra: hoe kan ek in hierdie slegte situasie tog sin ontdek? Watter geleenthede bied God aan my om nie hier vas te val nie?

Dit is dan dat ‘n mens in die slegte weer nuwe maniere van vakansie hou ontdek. Miskien leer ‘n mens dat dit glad nie so sleg is om maar ook in die reën bietjie te gaan swem nie, jy word mos in elk geval nat in die water. Of om daardie lank uitgestelde besoek aan bure oorkant die straat af te lê. Of om ‘n slag net lekker met die familie ‘n goeie gesprek te voer. Of om ‘n boek te lees wat nou al lank wag om gelees te word. Die soeke na verborge moontlikhede werk transformatief op hul lewe in – die slegte weer weerhou mens nie van moontlikhede om vreugde op nuwe manier te ervaar of om ander vorme van rus te ontdek nie.

Hoe kan ‘n mens die tyd uitkoop?, sou ‘n mens Paulinies kon vra.

Die manne wat die sterre dopgehou het, het gaan vra wat beteken die ster wat hulle gesien het. Hulle wou die verborge sin daarvan begryp. En toe het hulle ontdek die ster wys vir hulle op die koms van ‘n koning. Matteus se verhaal sê daarom dat hulle in Jerusalem aankom en vra na die Koning van die Jode. Hulle het “sy” ster (Mt.2:2) gesien. Die ster was nie vir hulle die kwessie nie. Hulle was duidelik geboei deur die Een na wie die ster verwys. Hulle was op soek na die Verborgene agter die ster. Hulle het dieper gedink as net om na sterre te kyk. Hulle was ingestel op die sin daarvan.

Dit is ‘n lewenshouding – om gedurig na die verborgene te vra. Wie uit die Verborgene leef, ontdek skatte wat die lewe ryk maak en die kersvrede laat deurbreek.

Spiritualiteit beklemtoon dit as ‘n eerste punt: wie die geestelike weg loop, moet geestelik ingestel wees. Dit is nogal belangriker as wat die op die eerste oogopslag lyk.

Terwyl ek hieroor nadink, besef ek weer hoe ‘n mens die basiese aspekte van spiritualiteit gedurig met inhoude moet vul. Dit is goed om ‘n mens se aandag te vestig daarop dat ‘n mens se benadering tot ‘n saak ‘n mens se ervaring daarvan wesenlik bepaal. Maar dit is wanneer ‘n mens dit nader gaan bekyk dat jy ontdek hoe hierdie instelling, die voorveronderstelling, die houding ingevul moet word. Om dan nogal verrassings raak te loop. Ek het verryk gevoel deur die feit dat Matteus sy lesers wil lei om soos die magiërs te soek na die Verborgene. Wie só soek, sal vind.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive