Dikwels vra ons die vraag: hoe word ons met God verenig? Hoe kry ek dit reg om een met God te word? Wat is die regte metode? Hoe kan ek dit bewerk? Hoe kan ek kontemplasie in my lewe laat gebeur?
Dit is ‘n vraag wat nie beantwoord kan word nie. Trouens, dit is ‘n vraag wat ‘n mens nie vra nie.
Daar is nie maniere waarop ons ‘n houvas op God kan kry nie. Ons kan nie die geheim van ons bestaan bewerk nie. Daar is nie ‘n manier waarop ons ‘n greep kan uitoefen op die verborge betekenis van ons lewe nie.
Kontemplatiewe gebed is die besef wat tot ‘n mens deurdring dat ‘n mens met God verenig is. Dit dring tot jou deur hoe naby God aan jou is. Jy ontdek meteens hoe digby God by jou gekom het. Toe jy nog ver is, verlang het, voordat jy 'n woord kon uiter, was God daar, hardlopende, sugtend, bly, omhelsend Jy weet op 'n dag eenvoudig: lank voordat jy na God uitgereik het, het God tot jou gekom. Jy besef op 'n keer, maar God is hier by my. Dit roer in my, die goddelike liefde brand my.
Kontemplasie is nie die gevolg van ons goeie, vroom, voorbeeldige bestaan nie. God is nie by ons omdat ons sulke presterende, oulike mense is nie. Nie eers ons verlange na God kan kontemplasie bewerk nie.
Wanneer ons ons harte oopstel vir God, gereed maak om na God te luister, God se stem probeer begryp, kan dit op ‘n dag ‘n verlange in ons laat ontbrand. Dit is wanneer ons bid, wanneer meditatio oorgaan in oratio. Die verlange na God.
Maar dit is nog nie kontemplasie nie.
Kontemplasie is nie maar net vir ons om “bewus” te word van God as die geheim van ons bestaan nie. Kontemplasie is meer as dit, meer as net die resultaat van ons bewuswordingstegnieke.
Dit is aanskouing van God – en dit beteken dat God óns aanraak. Dit is ‘n oomblik dat dit tot ons deurdring op ‘n heel eenvoudige manier dat ons bestaan. Ons leef. In ‘n unieke moment, verby alle woorde om, is God daar, is ons in ‘n wêreld gevul met lig. In stilte hoor ons niks nie, ontrafel ons nie ‘n enkele saak nie, maar ons ervaar dat ons bestaan, wie ons is, dat ons deel is van iets groters en Iemand anders as ons.
Een van die mistici van ons tyd het vertel hoe hy op ‘n stadium hierdie kontemplatiewe belewenis op die mees onverwagte oomblik gehad het toe hy ervaar het dat hy deel is van die mensdom en die wêreld, ver verby sy eie klein wêreldjie om. En dit het hom gevul met ‘n verbysterende liefde.
Dit is ‘n merkwaardige ontdekking wat tot ons kom wanneer ons gedagtes nie volgepomp is met al ons daaglikse aktiwiteite en ons oorlaaide dagprogram nie. Stilte bewerk nie kontemplasie nie, maar skep ‘n ruimte vir kontemplasie. Dit bewerk ‘n spasie waar die gawe van aanskouing aan ons geskenk kan word. Meditasie lei nie vanselfsprekend tot kontemplasie nie, maar dit bevrug die hart van die soeker sodat die oomblik van kontemplasie herken en omhels kan word. Oratio is nie ‘n voorwaarde vir kontemplasie nie, maar in die verlange van die bidder word die aarde omgedolwe vir die saad van kontemplasie en aanskouing wat God op die oomblik van begenadiging daarin sal laat val.
Juis daarom is stilte so belangrik, is meditatio nodig en is gebed noodsaaklik. Hierdie kontemplatiewe besef kom tot ons in afsondering, wanneer ons ons harte op God rig. Wanneer ons ons instel om die nabyheid van God te ontvang, te herken en te beleef.
Kontemplasie is wanneer ons verlange na God uiteindelik oorgaan in die ontdekking van die diepste geheim van ons bestaan. Wanneer God ons harte volkome vul. Dit is daarom iets wat God doen. Uit vrye genade. As 'n gebaar van liefde. Ons kan alleen maar daarop wag.
In die stilvloeiende Jordaan, lank voordat Jesus sy bediening voltooi en nog voor hy sy werk begin het, het God in 'n unieke oomblik die duif oor hom laat daal. Die hemel het oopgegaan. Die een wat geroep is tot diens, het die goddelike liefdeswoord gehoor en die liefdes-omhelsing ervaar.
Van toe af sou selfs nie die verleidelikste stem van die Groot Verleier hom van koers af kon bring nie. Hy het God gesien en herken hoe God na hom uitgereik het. En hy het die geheim van sy bestaan in daardie aanskouing herken.
In die stilvloeiende Jordaan, lank voordat Jesus sy bediening voltooi en nog voor hy sy werk begin het, het God in 'n unieke oomblik die duif oor hom laat daal. Die hemel het oopgegaan. Die een wat geroep is tot diens, het die goddelike liefdeswoord gehoor en die liefdes-omhelsing ervaar.
Van toe af sou selfs nie die verleidelikste stem van die Groot Verleier hom van koers af kon bring nie. Hy het God gesien en herken hoe God na hom uitgereik het. En hy het die geheim van sy bestaan in daardie aanskouing herken.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.