Saturday, August 07, 2010

Verganklikheid en ewigheid.



Ons het Xanten, net oor die grens van Nijmegen, gaan besoek.

Dit is 'n 2000 jaar oue Romeinse stad wat in onlangse tye herontdek is en tans versigtig heropgebou word. Die Duitsers restoreer stuk vir stuk aan die stadsdele, o.a. werkswinkels, winkels, waterleidings en huise.

Die museum op die plek is indrukwekkend. Dit gee 'n hoogs informatiewe oorsig oor die stad wat daar was, die geboue (o.a. 'n reuse bad-kompleks), kleredrag, juweliersware en allerhande artikels uit die alledaagse lewe.

Ek neem hierdie foto. Dit is 'n tempel, opgebou uit stukke wat op die terrein ontdek is.

Na 2000 jaar, is die stad vandag 'n monument-in-wording. Dit was een van die belangrikste vestings buite die Romeinse Ryk, 'n strategies deurslaggewende stad vir soldate. Nou, stil, doods, museum-agtig is dit 'n toeriste attraksie. Hier kom kyk mense na kursiositeite, kom bewonder toeriste die uistallings en kom leer groepe skoolkinders hoe 'n garnisoen in daardie tyd gefunksioneer het. As hulle huis toe gaan, sak die stilte toe.

Van hierdie tempel, indrukwekkende plek van aanbidding, het 'n paar pilare oorgebly. Hier waar geoffer, gebid, optogte gehou is, gode aangeroep is, is nou net 'n paar gelapte, stukke klip.

Die tyd is nie vriendelik nie. Dit sif wat waar is, wat durend is. Dit wys soms min of selfs geen spore van wat voorheen groot, pragtig, indrukwekkend en magtig was.

Hoe sal, oor 2000 jaar, ons geskiedenis lyk?

Dit is gedagtes wat by my bly spook nadat ek 'n rukkie terug die artikel gelees het oor die kerk in Europe, spesifiek in Nederland waar 80 000 mense per jaar die kerk verlaat (sien 'n vorige blog). Een opmerking bly my by: as die Christendom in Europa verdwyn, merk die skrywer op, sal dit nie die eerste keer wees nie. Hy noem die kerk in Noord-Afrika - Augustinus se kerk - waarvan daar vandag geen spoor meer is nie. 'n Sterk, lewende kerk wat uitgesterf het.

En, in die moderne Turkye, was daar al in die eerste eeu n.C. oral gemeentes in Asie. Efese, Pergamum, Tiatire, Laodicea, Philadelphia, Tirus. Hulle was maar 'n paar van die baie. Vandag is daar in hierdie plekke ook maar net oorblyfsels en ruines.

Tydelik is ons bestaan. Tydelik. Soos gras wat vergaan. Soos dae wat genadeloos kom en gaan. Soos jare onverbiddellik aanstap. Soos die seisoene wat meedoenloos wissel.

Maar, hierdie foto bly by my en herinner my aan iets groters en diepers. Agter die stuk tempel, is daar die skoonheid van die blou lug en die son wat helder skyn. Tydens ons besoek het die somertyd vriendelik, gasvry oor ons gehang. Terwyl ons rondgestap het en alles nuuskierig bekyk het, het ek soms gedink: hier, 2000 jaar gelede, het mense in die somertyd geleef. Hulle het vreugde gehad aan die helder blou lug, die son, die groen velde, die koel rivier.

God se skepping bly. Langer as ons, skyn die son, vloei die riviere, stort wolke hul reen, bot die bome.

En die Skepper.... Selfs as die skepping op 'n keer nie meer sou wees nie, sal God bly, en ons sal in God bly. 
 
God is ewig. Alleen God is onverganklik, saam met hulle wat in God woon.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive