Van Gogh het ‘n bewondering vir die Romantiese skilder, die Fransman, Eugéne Delacroix, gehad. Hierdie Delacroix het so baie godsdienstige werke geskilder dat sommige mense hom die belangrikste godsdienstige skilder van die negentiende eeu genoem het. Delacroix het groot invloed op die later impressioniste gehad in sy gebruik van kleur. Van Gogh het byvoorbeeld diep nagedink oor Delacroix se gebruik van suurlemoen-geel en van Pruisiese blou, soos dit destyds genoem is. Hoewel dit kleure was wat ander kunstenaars sterk veroordeel het, het Delacroix hom afgevee en die kleure ryklik gebruik – soos ook duidelik is in sy weergawe van die Barmhartige Samaritaan. Van Gogh was diep beïndruk deur Delacroix se besonder knap gebruik van die kleure.
Van Gogh, duidelik vol bewondering vir Delacroix, skryf hoe hy en Bloch, ‘n Belg, vir ‘n dag lank net oor Delacroix gepraat het. Op ‘n ander keer het hy en Gauguin so intens oor Delacroix gepraat dat hulle koppe, skryf hy, teen die einde van die dag so pap was soos ‘n battery wat ontlaai het. Hy skryf dat hulle entoesiasties en betowerd oor Delacroix gepraat het as ‘n man van God, die donder van God en die weerlig, die vrede in die naam van God. Hulle was, vertel hy, totaal betowerd deur sy meesterskap.
Vincent van Gogh het nie baie Bybelse temas geskilder nie. Hy het teen die einde van sy lewe teruggekeer na sy gewoonte om ander kunstenaars se werk oor te skilder, veral omdat hy binneshuis moes bly en nie modelle gehad het nie. Op ‘n stadium het hy Delacroix se skildery van die Barmhartige Samaritaan geskilder (lectio!). Daarmee het hy een van sy weinige Bybelse skilderye gemaak.
Hy het so ‘n bewondering vir die skildery van Delacroix gehad dat hy ‘n afdruk teen sy muur gehang het. Dink net: dag na dag was dit sy konteks. Hier, in hierdie teks het hy sin gevind.
Toe hy besluit het om die skildery oor te teken, was dit vir Van Gogh ‘n tyd van lyding – soos hy dit self beskryf. En, voeg hy by, in sulke tye van swaarkry bring godsdienstige gedagtes vir hom groot troos. Hy, deurwinterde kunstenaar, skryf in 1889 aan sy broer, Theo: “Hoewel dit deel is van ‘n ouderwetse benadering om skilderye te kopieer, voel ek vere daarvoor. Ek gaan Delacroix se Barmhartige Samaritaan skilder. Ek soek om iets te doen wat my troos gee, vir my eie plesier, veral omdat ek nou siek is.”
Wat is die sleutel tot hierdie skildery van Van Gogh? Die man wat op die perd gehelp word, se doodse grys gesig vertel van sy lyding. Van Gogh het juis die Maria figuur se grys gesig op sy Pieta beskryf as die “verlore, dooie kyk van ‘n mens uitgeput deur benoudheid en trane en gewaak.” Geel was vir Van Gogh simbolies van liefde en lig. Blou het vir hom spesifieke betekenis gehad as ‘n aanduiding van die oneindige, die onbegrensde. Maar blou en geel is ook komplementêre kleure, sodat hulle in ‘n sekere sin lig en duisternis as kombinasie suggereer. Deur geel langs blou te plaas, word die kleure sterker en die effek op die kyk intenser. In die lig hiervan is dit ‘n hele meditatio om oor Van Gogh se kleure, inhoud en vorme van die Barmhartige Samaritaan na te dink.
Hoe kon Delacroix se skildery Van Gogh geraak het? Wat het hy gesien terwyl hy elke dag saamgeleef het met daardie uitbeelding wat as afdruk in sy woonplek gehang het? Van Gogh, in lyding, met ‘n behoefte aan troos, sensitief vir kleur, as iemand wat tye lank met die skildery saamgeleef het, sou met sy kopie ‘n intense ervaring verbeeld.
Wat die ervaring is, kry ons deur fyn na te dink oor albei skilderye (meditatio, intertekstualiteit). Hier is ‘n aangrypende interpretasie van Delacroix se skildery: “All the elements of Delacroix’s motif must have moved van Gogh: the steep and rockty terrain, the suffering face of the wounded man, the struggle of the Samaritan to lift him to the horse’s back, the patient steed who bears the load, the wraithlike form of the unconcerned travelers disappearing in the distance, the empty chest tossed aside on the ground telling its tale of violence and loss. The color effects he created to convey the significance of all this intermingled good and evil are more subdued than those of the Lazarus, evoking a more poignant and sober mood, but the pale violets and gray blues, the rich ochers and soft malachite greens are equally touched by a golden glow. It is the predominance of this warm tonality throughout the canvas which conveys the uplifting, revivifying spiritual effect that human sympathy and succor have on those in need.” (Sien Naomi Maurer, The pursuit of Spiritual Wisdoem. The thought and art of Vincent van God and Paul Gauguin).
Wat ‘n wonderlike oefening in die lectio divina wat ‘n mens hier kan ontwikkel! Kyk hoe herkou en kou ‘n mens aan:
- die bergagtige terrein, gevaarlik en bedreigend
- die lyding wat oor die gewonde man uitgegiet word
- die Samaritaan se sorgsame optel van die man op die perd
- die perd wat stil bly staan onder die gewig van die gewonde
- die koelbloedige ongeërgdheid van die vroom, voortwandelende vromes in die vertes
- die leë kis, geplunder deur geweld en boosheid
- die kombinasie van goed en kwaad, die volle lewe van seerkry en sagte ontferming, die mildheid van omgee en die hardheid van plundering.
- en alles word omhul deur ‘n warm tonaliteit wat vertel van die oneindige, lewegewende, geestelike ervaring wat tot stand kom wanneer mense hulle oor ander ontferm.
Troos, troos, troos, Dit soek van Gogh in sy donker tye. En hy vind dit in die tydlose verhaal oor ‘n Samaritaan, vertel deur die Wyse Een wie se lewe ‘n lewe van totale ontferming was.
Pure spiritualiteit: die Gees van sagtheid, wat anders as die gees van godsdienstigheid, ‘n lewensgevaarlike situasie transformeer om nuwe lewe te gee. Gesteelde skatte, leë goudpotte, koelbloedige vromes met hul rug gekeer, fragiele liefde, ‘n daad van ontferming. Wat is mooier, wat gee meer vreugde as hierdie ervaring van otferming as ‘n sleutelbegrip in spiritualiteit.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.