Johannes skryf sy boek aan sewe gemeentes wat in die Romeinse provinsie van Asië leef. Asië, vandag veral Turkye, was vol stede wat elkeen ‘n sekere status gehad het. Sommige, soos Efese en Pergamum het ‘n lang en roemryke geskiedenis gehad.
Teen die tyd dat Johannes sy boek skryf, was hulle almal op een of ander manier vasgevang in die mag van die Romeinse Ryk. Vanuit Rome het die politieke leiers en veral die keiser, ‘n sterk en streng houvas op Asiatiese stede en lande gehad. Die konings van al die stede in Asië was kruipers wat besef het hulle moet die keiser van Rome gedurig paai. Die konings wat dit nie wou doen nie, het gou hul fout agtergekom.
Nie een van hierdie konings en die plaaslike leiers kon waag om die Romeine teen te gaan nie. Orals was daar Romeinse soldate en handelaars wat die mag van Rome sigbaar vergestalt het. Latyn, die taal van die Romeine en kultuurgebruike van die Romeine was ook orals te hoor en te sien.
‘n Mens kan die situasie van destyds vergelyk met die prominente plek van Amerika en Amerikaanse kultuur oral in die wêreld vandag. Hier was mag in sy volle glorie. Niemand het sommer hierdie mag uitgedaag nie.
Johannes het geweet hy kon nie veel genade van die Romeine verwag nie. Dis nie dat die Romeine vyandig was teenoor ander godsdienste nie. Maar hulle het glad nie gehou van groepe wat eksklusief was nie. Hulle het sulke groepe verban, vervolg en baie goed deur spioene laat dophou omdat hulle dikwels in die geskiedenis teen die staat in opstand gekom het.
Die Romeine sou waarskynlik swaar gekou het aan ‘n skrywer wat Jesus, die Jood uit Galilea, die heerser van die konings van die aarde te noem. Miskien nog een van die konings, maar dié koning van die konings?
Romeine het het maklik ‘n klomp gelowe oorgeneem en selfs verwelkom. Christene, daarenteen, moes getrou bly aan die een God wat die wêreld geskep het (1 Thess.1:9-10), wat sy wil in die wet bekend gemaak het en wat in Christus sy volmaakte liefde en wil gewys het. En mense wat gelowig geword het, moes ‘n lewe van heiligheid leef (1 Tess. 4). Vir die eerste gelowiges wat hul geloof nie ‘n hutspot van allerhande moontlike godsdienste nie.
Gelowiges is dus verwerp – nie net deur die owerhede nie, maar selfs deur hul eie stadsgenote en deur hul eie familie. Min mense wou skoor soek met die staat en net so min wou al die kulturele, sosiale en godsdienstige gebruike van hul tyd afwys.
Dit was nie maklik om die Evangelie aan te neem nie. ‘n Mens kon, in daardie tyd, alles wat vir jou voorheen so belangrik was verloor.
En tog, terwyl die gelowiges in Asië om elke hoek en draai die gesig en teenwoordigheid van die keiser in Rome raakgeloop het, orals die tempels van die gode van hul stad gesien het, elke dat die priesters en hul aanhangers in optogte sien stap het, is hulle nie geïntimideer nie. Hulle was nie kruipers nie. En selfs die mag van die soldate en van die plaaslike konings het hulle nie kon afskrik nie.
Veral nie waar die keisers en die konings hulle self as gode verhef het nie. Paulus kon nog in Romeine 13 vra dat gelowiges die Romeinse owerhede respekteer. Maar toe dinge skeefloop en die Romeine die gelowiges wou dwing om hul geloof te verwater, het hulle voet neergesit.
Soms dus, kan ‘n mens ‘n ver ent stap saam met mense met wie jy nie saamstem nie. Soms kan ‘n mens ‘n wêrelds owerheid respekteer en gehoorsaam. Maar daar kom ‘n punt waarop ‘n mens jou geloof nie mag kompromiteer nie. Die gelowiges in Openbaring het by daardie verskriklike punt uitgekom – soos dikwels daarna in die geskiedenis. Hulle wat God liefgehad het, het nie getwyfel nie: as hulle moes kies tussen God en maglustige owerhede en mense, het hulle geweet wat om te doen. Dit is nie dat hulle die konings verwerp het nie. Dit is net dat hulle ‘n groter mag as politieke mag herken het. Hulle het die Een geken aan wie alle mag gegee is...
Wanneer Johannes aan die gemeentes in Asië skryf oor Jesus wat die heerser van die konings van die aarde was, het sy lesers kop geknik en instemmend met ‘n vasberade kreun beaam. En aandagtig geluister wat die profeet nou verder vir hulle wil sê...
Deurdat Johannes sy boek so uitdruklik in Asië plaas, bring hy die verhouding van God met die sewe kerk konkreet, direk en keihard tuis in hulle alledaagse lewe.
'n Mens se verhouding met God raak jou verhouding met mense om jou en met mense wat oor jou regeer. Geloof is nie 'n kop-in-die-sand saak nie. Geloof stel 'n mens soms voor groot eise: die verhouding met God kan partykeer hartgrondiglik getoets word.
Deurdat Johannes sy boek so uitdruklik in Asië plaas, bring hy die verhouding van God met die sewe kerk konkreet, direk en keihard tuis in hulle alledaagse lewe.
'n Mens se verhouding met God raak jou verhouding met mense om jou en met mense wat oor jou regeer. Geloof is nie 'n kop-in-die-sand saak nie. Geloof stel 'n mens soms voor groot eise: die verhouding met God kan partykeer hartgrondiglik getoets word.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.