Sy het ons stories geniet, aan ons lippe gehang. Sy was ‘n gebore luisteraar wat jou laat voel het sy wil net nog meer en meer hoor. Ander kere weer het sy oorgeneem en vir ons besig gehou met haar eie aardse verhale. Haar skool-stories was soos speurverhale, haar universiteitsavonture asof sy ‘n rekkie op die grens was. Maar dan het sy ons weer stilgehad van verwondering oor haar werk-reise oor kontinente heen waar sy steeds weer die sy-paadjies gaan loop het om by unieke plekke te kom, om uitsonderlike dinge te sien, om ongewone mense te ontmoet. Steeds weer, miskien vir my die boeiendste, het sy met ons gepraat in toor-woorde, toor-taal, so maklik asof sy brood sny en botter daarop plak. Altyd weer, op die regte oomblikke, op haar manier, het sy ons ryk laat voel omdat ons by haar kon wees.
Die kere dat sy nie daar was nie, was dit asof ons aande bietjie vaal geword het.
En toe op ‘n keer, toe die ander al vort was, sit ons vir oulaas aan ‘n glasie laat-aand port en teug. Die aand was sy, besef ek skielik, stiller. En tog – selfs na almal weg is en ons nog ‘n oorskiet geselsie aanknoop, is ons gepraat soos altyd, rustig, maar vol van rykhede. Ek voel ek is by ‘n volledige mens, iemand wat alles het. Selfs die tye wat ons nie praat nie, net stil sit en geniet van die laaste geknetter van die kaggelvuur, praat boekdele, vertel van die lewe wat in volheid by ons is.
Ek merk skielik dat sy iets wil sê. Sy kyk na my, amper of sy haar woorde weeg, wil terughou – asof sy iets moet verklap wat sy eintlik ver moet gaan haal. “Weet jy, sê sy, “as ek by mense is, waar ek ook al gaan, is dit asof die lewe te kort en te min is. Daar is, voel dit vir my, amper te veel om in te neem en te min tyd om alles jou eie te maak. En tog, met al hierdie lewensdrif, het ek die afgelope tyd gevoel hoe daar in my ‘n verlange groei wat steeds dieper word.”
Ons begin praat. Ek luister hoe sy, duidelik met diep behae, begin vertel oor haar kinderjare, soms stormagtig, maar tog ook weer vol tye waarin sy sielsgelukkig was. Altyd weer, in die goeie en in die slegte tye, besef sy keer op keer, was die kindertyd vir haar droomtye. Sy leef uit daardie tye wat sy kon beleef.
Sy bly ‘n ruk nadink voordat sy rustig verder praat: sy vertel sy kon nooit bewustelik vir haarself sê waarom sy so gelukkig was nie, waarom sy selfs in die troebel tye nooit werklik aan die lewe opgegee het nie. Die antwoord het eers tot haar deurgedring toe haar ma dood is, kort nadat sy pas dertig geword het en haar ma 61 jaar oud was. Dit was nie ‘n helder antwoord wat skielik gekom het nie. In die tye na haar ma se dood was alles nog te onwerklik, vertel sy, om te kon verwerk, om te besef watter leë ruimte in haar lewe ontstaan het. Mettertyd het sy al hoe sterker begin agterkom hoe reël en ryk die liefde was wat sy in haar gesin ervaar het en hoe haar ma se dood hierdie liefde geraak en aangetas het.
Sy draai die steeltjie van die portglasie ‘n paar keer in die rondte terwyl sy terug sit en probeer verwoord wat sy oor so ‘n lang tyd bedink het. Sy het hierdie dubbele gevoel, sê sy. Aan die een kant is haar lewe so ryk en vol, nog steeds, omdat sy elke keer weer in die liefde woon en die rykdom van daardie geborgenheid in herinnering kan roep. Juis omdat sy soveel liefde ontvang het, kan sy voluit lewe.
Maar aan die ander kant groei daar in haar ‘n gemis. Dit is, vertel sy ingehoue, nie ‘n oop ruimte wat sy moet akkommodeer en moet volmaak met nuwe dinge nie. Dit is ‘n leë ruimte, onopruimbaar, ‘n skaduwee wat langer word, hoe meer die tyd aanstap.
Sy, sê sy, besef nou, na soveel jare, al hoe meer dat ‘n mens nooit ophou rou oor hulle wat weg is nie. Inteendeel. Jy rou oor jare heen al hoe meer oor hulle.
Ek wonder oor haar woorde. Rou, besef ek, kan so sentimenteel, selfs goedkoop wees. Die begrafnisse waar mense kitsliedjies, vlak-gedigte en kuns-blomme uitstal om ‘n bohaai oor hul trauma te maak en om vir hul skuldgevoelens te kompenseer, kom by my op. Maar hier, op ‘n koue wintersaand, oor ‘n glasie troos-port, jare na ‘n verlies, wys egte liefde hom uit wanneer iemand vir jou ‘n kykie in die siel se rou kolle gee. Die liefde, omgee, die geborgenheid van hulle wat van ons weg is, begryp ek haar woorde, vul ons gedagtes en troos ons wel. En tog, dit is te min, want altyd weer en meer groei daar ‘n verlange na hulle wat nie meer by ons is nie. Dit word nie beter nie. Tyd heel nie wonde nie.
Tyd heel nie wonde nie, besef ek. Daarvoor is die liefde te beeldskoon. En te konkreet, te gebind aan mense en aan verhoudinge. Ons begryp miskien nie bewustelik genoeg wat die mag van die liefde is nie. Of hoe die liefde geknoop is aan baie meer as woorde, herinneringe, gedagtes. Hoe die liefde saamhang met die vrolike geskater van goeie vriende, die pragtige, oop sjokolade-bruin oë van ‘n ryk mens, die nabyheid van ‘n ma of ‘n pa of ‘n kind langs jou aan tafel, op jou skoot, in jou arms, met die lek van ‘n skurwe honde-tong, die handdruk van ‘n buurman, die woord van waardering van ‘n kollega. Die liefde is geknoop en intiem verbind met ruimtes gevul deur nabyheid. Jare na die ruimte leeg word, kan ‘n mens nog die teenwoordigheid van liefde voel nawerk en bly draal. Maar niks kan die liefde vervang nie. Niemand kan ‘n leë ruimte weer volmaak nie. En ons rou daaroor.
Dit is die paradoks van ons bestaan: hoe die liefde in ons lewens inkom – so oorweldigend, so spesiaal. En hoe ons om hierdie liefde rou as dit nie meer daar is nie.
Die mistieke antifrase is dan uiteindelik – om te rou oor die liefde is om die mag van die liefde te vier. As ons nie kan rou nie, seer kan rou nie, ken ons nie die liefde nie.
Ek sit en bedink die tydjie en ons port-praatjie. Dan sê sy stilweg, só asof sy die woorde amper nie kan uitkry nie: “Vandag was dit my ma se verjaarsdag.”
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.